Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
2019-aftelwysie begin onder bont sambrele
Jana Luther

‘January, February, March . . . April, May . . ., June, July . . .” So gou soos handomkeer begin dié aftelwysie weer voor. Hoor jy al die ghoema? Die Hollandse liedere, moppies en karinkels van die klopsekore? Onder bont sambrele marsjeer ons nóg ’n nuwe jaar in.

Januarie, Februarie, Maart . . . Van ’n Indo-Europese woord wat “meet” beteken het, kom die woord “maand”, en ook die woord “maan”. Want ’n maand was eens ’n maanmaand; die tydperk van een volmaan tot die volgende; so lank as wat die maan een maal om die aarde draai; omtrent 29 en ’n halwe dag.

3 000 jaar voor die huidige jaartelling het die Babiloniërs al hul Chaldeeuse maan-almanak gebruik. Die Hindoes het verskeie. In sinagoges word die Joodse een nog gebruik. Ook die Islamitiese maan-almanak, waarvan die jaartelling begin op 16 Julie 622, die dag van die hedsjra, die heilige profeet Mohammed se vlug uit Mekka na Medina, bestaan uit 12 maande, 12 nuwemane.

In die hooimaand is gras gesny en gedroog.

Aan die koms van elke nuwemaan het die ou Germane ’n gebeurtenis gekoppel: In die eerste maand, looimaand, is leer gelooi; in die tweede, sprokkelmaand (ook “skrikkelmaand” genoem, die maand wat “verspring”), het hulle sprokkelhout, optelhout, bymekaar­gemaak. Die derde, vierde en vyfde maand was onderskeidelik die lente-, gras- en bloei(sel)maand. Gevolg deur die Europese somermaand. In die hooimaand is gras gesny en gedroog. Die agtste maand was oesmaand. Gevolg deur die herfsmaand, en die wynmaand, wynmaaktyd. Die elfde maand was slagmaand, ter voorbereiding vir die wintermaand.

In Nederland word van dié ou name vandag nog soms gebruik. Al het Julius Caesar en die Alexandrynse sterrekundige Sosigenes in die jaar 46 VHJ reeds die maanjaar met ’n sonjaar van gemiddeld 365 en ’n kwart dag vervang. Die oorspronklike Romeinse kalender het tien maande gehad: Maart tot Desember, gevolg deur ’n naamlose wintertyd, die ou maanmaande Januarie en Februarie.

Januarie is genoem na Janus, tweegesigsimbool van die son en die maan.

Januarie, genoem na Janus, tweegesigsimbool van die son en die maan, die Romeinse god van afskeid en die deurgang na elke nuwe begin, het later die eerste maand geword; en Februarie, van die Latynse woord “februare”, wat “skoonmaak” be­teken, die tweede.

Maart is die maand van die Romeinse oorlogsgod, Mars. April, dié van Afrodite, die Grieke se godin van vrugbaarheid en skoonheid, ook verbind met die Latynse woord “apricus”, wat “sonverlig” beteken. Mei is Maia se maand, die Romeinse godin van vrugbaarheid en groei; Junie dié van Juno, hoofgodin van die Romeinse panteon. Maar Julie. Dié noem Caesar na homself: “die maand van Julius”, sy geboortemaand. Waarop Augustus Caesar, ná hom, sy naam aan Augustus gee.

Die laaste vier maande, hul name van die telwoorde septem (“sewe”), octo (“agt”), novem (“nege”) en decem (“tien”) afgelei, word sonder omhaal elk twee plekke aangeskuif. En die jaar is klaar, en als is deurmekaar.

Mag 2019, desondanks, vir jou klopdisselboom verloop.

Luther werk vir die Virtuele Instituut vir Afrikaans.

Meer oor:  Jana Luther  |  Seisoen  |  Maande  |  Nuwe Jaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.