Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
André Jansen: Glo op Sondag, leef op aandag

TELEVISIE het die kerk se rol oorgeneem. Só meen politici, kommunikasiedeskundiges en joernaliste wat die Machiavelli-prys aan ’n kommersiële Nederlandse TV-stasie toegeken het. Die prys word jaarliks toegeken aan ’n politikus of instansie wat ’n opmerklike bydrae tot kommunikasie tussen politiek, owerheid en burgers gelewer het. Die TV-stasie verbind mense met mekaar en hef hulle op. Die media het die rol van die “ou kerk” oorgeneem.

TV-programme oor onderwerpe soos vetsug, geldelike skuld, konflik en armoede vernuwe, is gewaag en verbind mense aan mekaar, sê die jurie. Die programme help homoseksuele jong mense om “uit die kas te klim”.

Mense met geldprobleme word emo- sioneel en prakties gehelp om hul probleme op te los. Presies soos die kerk dit vroeër gedoen het, lui die verslag wat van lof oorloop. Jong mense met ’n siekte wat hul lewe bepaal, word gevolg.

Dit hou ’n spieël vir die samelewing voor oor hoe hulle omgaan met mense wat anders is – soos in die Evangelie.

Programme oor vetsug maak mense se oë oop sodat hulle verantwoordelikheid vir hul eie gesondheid begin neem.

Die programme bind mense aan mekaar, hef hulle op en help hulle om beter te lewe. Mense het mekaar nodig. Dit word gevoel in die land waarin 50% van die bevolking eensaam voel.

Die onderliggende vrae is: Is die onderwerpe die kerk se taak? En: Hoekom bind die kerk mense blykbaar nie meer nie, en hef hulle ook nie op nie?

Dit is pynlike vrae vir iemand wat lief vir die kerk is en glo die kerk is nodig in die wêreld.

Is dit nie sommer net kwaadwilligheid van die jurielede nie? Dit is maklik om met kritiek terug te kap, maar nie Christelik nie. Philip Yancey skryf in How my faith survived the church oor sy teleurstelling in die kerk. Sy soektog het hom eindelik tot die besef gebring ’n mens glo in God en is daarom deel van sy kerk. Geloof in God is eerste. Dan volg die kerk. Té veel mense ruil die volgorde om.

Die besef het hom soveel bevry dat hy anders oor die foute en gebreke van die kerk begin dink het. Hy het vir God se kerk lief geraak sonder om blind vir die gebreke te wees.

Nou help hy mense om die regte perspektief op kerk en lewe te kry.

Ons (die kerk) sal na die jurie van die Machiavelli-prys moet luister.

Ons (kerke) was en is miskien té veel daarop ingestel om die kerk as instituut in stand te hou en nie lewende liggaam van Christus te wees nie. Ons is miskien té veel geneig om in ’n dualisme te lewe: Sondag glo ons, en Maandag tot Saterdag leef ons. So hou té veel preke Christus aan die kruis as die Een wat vir ons sondes gesterf het, maar laat na om te verduidelik dat en hoe dit met elke onderdeel van ons lewe vervleg is.

Die kruis beïnvloed ons hele lewe. Paulus sê: God is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons (Hand. 17:27,28).

Dit is dalk wat die jurie bedoel: Die arm gesin, die homoseksueel, die bakleiers en die eensames wil leef, beweeg en bestaan. Die kerk behoort te weet: In Christus leer en sien ons hoe dit moet gebeur.

Dit is hoekom God die kerk as Sy instrument vir Sy plan met die wêreld het: om gebroke mense geestelik en prakties te help om in Christus te leef, aan mekaar verbind te wees en opgehef te word. Met hart, siel, liggaam, krag en verstand. Dit is die kerk se bestaansrede. So eer ons God.

Die jurie se besluit dwing ons om ons Godgegewe rol te herontdek.

Ds. André Jansen is leraar van die Christelijke Gereformeerde Kerk Woerden, Nederland.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.