Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Woord en Perspektief
André Jansen: Werk die Here vandag nog?

Werk die Here vandag nog? Dit is baie kerklike kerkmense se wors­teling. Hulle merk of voel niks van die Here nie. Al die ellende om ons heen versterk die gevoel. Verstandelike teologiese antwoorde oortuig nie. Predikante doen hul bes, maar loop hulle vas teen hul eie tekortkominge en gevoelens van onmag. Dit versterk die besef van eensaamheid wat geestelike leiers dikwels ervaar.

Aan die ander kant het ons ook soms ’n onbedoelde koppige neiging om siende blind te wees.

Ds. Evelyn Noltus skryf in haar boek Alleen eerlik oor haarself: Ek het my siel verwaarloos. Sy vertel hoe sy gegee en gegee het en geen tyd geneem het om haarself geestelik te voed nie. Sy het teenoor God en mense gevoel dat sy alles self moes doen. Uitbranding en die besef dat sy eensaam voel, was die gevolge hiervan. Veral dat sy niks van God ervaar het nie, was vir haar ’n skokkende ontdekking.

God werk aktiewer as wat ons dikwels besef. Die missioloog, Alan Roxburgh, verduidelik. God se missie is om sy Woord na die hele wêreld te bring. Hy stuur sy kerk na die volke toe. Daarom is Hyself aktief in en deur die kerk besig.

Dit is juis die probleem. Hoekom ervaar kerkmense dan dikwels niks van God nie? Miskien is dit dieselfde rede as in Jesus se tyd. Hy het reg voor die mense se neuse gestaan. Hulle het Hom gehoor, gevoel en geruik, maar Hom nie herken nie.

Ons moet dalk anders leer kyk en luister. God het ’n spesiale manier om sy kinders en sy kerkleiers te bemoedig en te stuur. Hy laat hulle nie altyd oor ’n kerkdiens of huisbesoek “halleluja” roep nie.

Hy werk waar ons nie eerste geneig is om te kyk nie.

Ek het myself ook al afgevra of God nog in die kerk werk. ’n Mens kry min reaksies op die eredienste. Dit voel soms of die kerkmense in ’n luukse restaurant sit en steeds meer uitsonderlike disse wil eet. Die kok, die dominee, moet net spring om die gaste met meer unieke maaltye, preke, te bedien.

Hy werk waar ons nie eerste geneig is om te kyk nie.

Nee! God is aktief. Twee voorbeelde.

Laasweek by ’n jong vrou se sterfbed mog ek sien hoe fantasties Hy besig is. As dominee was ek die leerling. Hy het haar laat getuig oor Christus se vrede, liefde en sekerheid vir haar. Sy het ’n goddelike oorgawe en rus in haar ure van pyn en doodgaan uitgestraal soos die oggendson. Ek was getuie van ’n wonderwerk van die Here. Jesus het aan die kruis gehang en gely, sodat ek nou in vryheid kan sterf, sê sy.

Hebreërs 2:14, 15 sê mos: Christus het die krag heeltemal weggevat van die een wat sterker is as die dood, dit is die duiwel. Hy het mense vry gemaak . . . omdat hulle bang was om te sterf.

So was ek al dikwels getuie van God se werk!

Rita (22), sonder enige geestelike of kerklike agtergrond of kennis, kom na my toe. Sy kom deesdae saam met haar gelowige kêrel kerk toe. Die Woordverkondiging en die liefde van die mense het haar geraak. Dit het haar lewe verander. Sy wou weet wat sy nou moet doen. Ek verduidelik vir haar die evangelie: genade, mens, God, Christus, geloof.

Sjoe, reageer sy opgewonde, dis so duidelik! Ek glo dit met my hele hart.

Ons het gebid en haar in ons geloofsfamilie verwelkom. Sy is honger om nog baie te leer, wil gedoop word en haar geloof bely.

Vader het my – en haar – vraag liefdevol beantwoord.

Dalk met ’n knipoog. Wie sê: God werk nie vandag nie?

Hy werk daar waar mense Hom nodig het. Op Sy manier.

Ons moet net steeds reg leer kyk en aktief luister.

God werk self in sy kerk. Voed jou siel.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.