Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Kies oor Belhar is nie die oplossing
Die NG Kerk het op ’n ongemaklike en onhoudbare kerkregtelike pad beland met Belhar, meen Adelbert Scholtz.
Vir talle lidmate laat die Belydenis van Belhar ’n slegte smaak in die mond.

Daar is in die laaste tyd heelwat geskryf oor die feit dat gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) deur die Algemene Sinode gevra is om deel te neem aan ’n stemming rakende die voorgenome wysiging van artikel 1 van die Kerkorde.

Die vraag waaroor lidmate en gemeentes moet beslis, is of die Belydenis van Belhar saam met die tradisionele belydenisskrifte, naamlik die Nederlandse Geloofbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls deel van die NGK se belydenisgrondslag moet vorm.

Die formulering van die voorgestelde artikel 1 skep egter ’n ernstige kerkregtelike onding. Die voorstel lui dat daar ruimte moet wees vir lidmate wat Belhar aanvaar as synde in ooreenstemming met die Bybel en ook dat daar ruimte moet wees vir diegene wat dit nié onderskryf nie.

’n Belydenisskrif is, per definisie, ’n sistematiese en getroue weergawe van Bybelse waarhede en beginsels. Dit geld sekerlik ook vir die Belydenis van Belhar. Die Algemene Sinode het immers al jare gelede besluit dat die inhoud en strekking van Belhar met die Bybel ooreenstem en só word dit ook in die voorgestelde nuwe artikel 1 van die Kerkorde verwoord.

In die praktyk kom dit dus daarop neer dat sekere Bybelse waarhede opsioneel word.

Waar die NGK hom daarop roem dat hy gegrond is “op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God” (Kerkorde, art 1), word die keuse nou aan lidmate gegee om self te besluit of hulle sekere Bybelse waarhede, soos in Belhar geformuleer, wil aanvaar, al dan nie.

In die praktyk kom dit dus daarop neer dat sekere Bybelse waarhede opsioneel word. ’n Mens moet vra: Is dit wat die Algemene Sinode in 2013 in gedagte gehad het met die formulering van die voorgestelde nuwe artikel 1?

Wanneer ’n teologiese student tot die bediening toegelaat word, moet hy ’n legitimasie-eed aflê. Daarin onderneem hy om hom aan die belydenisgrondslag van die NGK te hou. Sal dit van voornemende proponente verwag word om Belhar heelhartig te aanvaar – of het hulle ook ’n keuse?

Indien ’n leraar van die NGK van leerdwaling beskuldig word, moet sy gedagtes aan die Bybel en die belydenisskrifte getoets word. Dit is ongelukkig so dat nie alle teoloë die Bybel op dieselfde manier uitlê nie en daarom word die belydenisskrifte – wat as ’n getroue weergawe van die Bybelse boodskap beskou word – steeds as die standaard gebruik om uit te maak of iemand ’n dwaling verkondig het, al dan nie.

Indien predikante egter ’n keuse het of hulle Belhar wil onderskryf of nie, kan hulle nie deur die kerk getug word indien hulle in die openbaar sou verklaar dat hulle nie met die inhoud van Belhar saamstem nie.

Het die Algemene Sinode aan hierdie implikasie gedink toe die voorgestelde nuwe artikel 1 van die Kerkorde geformuleer is?

Vir talle lidmate laat die Belydenis van Belhar ’n slegte smaak in die mond. Dit mag so wees dat prof. Dirkie Smit hoofsaaklik vir die formulering daarvan verantwoordelik was. Maar die groot dryfveer daaragter was dr. Allan Boesak.

Boesak is in 1982 verkies tot president van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke. ’n Memorandum van hom is deur die vergadering van hierdie organisasie aanvaar waarin hy voorgestel het dat ’n “status confessionis” ten opsigte van die NGK se dwalinge ten opsigte van apartheid verklaar moet word. In die daaropvolgende tyd het hy voortdurend die noodsaak van ’n nuwe belydenisskrif bepleit en toe hy in 1986 moderator (voorsitter) van die sinode van die eertydse NG Sendingkerk geword het, is sodanige belydenis aanvaar as vierde belydenisskrif.

Toe die NG Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika hulle kragte saamgesnoer het om die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) te vorm, is Belhar saam met die ouer belydenisskrifte as deel van die VGK se belydenisgrondslag aanvaar.

Die enigste eerbare en kerkregtelik-korrekte uitweg is dat die Belydenis van Belhar op gelyke vlak met die ander belydenisskrifte geplaas word...

Baie lidmate onthou welke omstrede figuur Allan Boesak was – onder meer as gevolg van sy beweerde buite-egtelike verhouding met Di Scott en sy egskeiding van sy vrou, Dorothy, sy talle verdoemende uitsprake oor die NGK, sy noue bande met die United Democratic Front, die destydse binnelandse vleuel van die ANC tydens die tagtiger- en negentigerjare, asook die feit dat hy tronkstraf uitgedien het – al het hy agterna amnestie van pres. Thabo Mbeki ontvang.

Om bovermelde redes is die name Belhar en Allan Boesak vir talle mense onlosmaaklik aan mekaar verbind en dit maak Belhar vir hulle moeilik aanvaarbaar.

Die motivering van die Algemene Sinode om gemeentes te vra dat die voorgestelde artikel 1 van die Kerkorde aanvaar word, was om ’n kerkskeuring te voorkom. Dit is ’n lofwaardige motief.

In die proses gee die NGK egter ’n uiters belangrike beginsel prys, naamlik dat sy belydenis in geheel “in ooreenstemming met die Woord van God” moet wees. Nou kan elkeen self besluit of hy of sy sekere Bybelse waarhede aanvaar of verwerp. Dit beteken: Sekere Bybelse gedagtes en beginsels – en uiteindelik die Bybel self – word as synde opsioneel behandel! Dit skep vanselfsprekend ’n onhoudbare situasie.

Die enigste eerbare en kerkregtelik-korrekte uitweg is dat die Belydenis van Belhar op gelyke vlak met die ander belydenisskrifte geplaas word – sonder die opsie vir ampsdraers en lidmate om dit te aanvaar, al dan nie.

As sekere lidmate om hierdie rede hul lidmaatskap beëindig, sal dit nie ’n verlies wees nie, want dit sal mense wees wat sekere Bybelse waarhede en beginsels nie wil onderskryf nie en wat dus nie in die NGK tuishoort nie.

Dit sal egter ook baie duidelik gestel moet word dat Allan Boesak baie min met die inhoud van Belhar te make gehad het en dat sy verbintenis met hierdie dokument nie die aanvaarding daarvan in die gedrang behoort te bring nie.

■ Dr. Adelbert Scholtz is ’n afgetrede NG predikant en deeltydse dosent in teologie.

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.