Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Nico Koopman: Transformasie gaan nie net oor instellings
Woorde soos transformasie en geregtigheid is vir sommige woorde waaroor hulle juig.

Ons samelewing het nie net transformerende instellings nodig nie. Ons het ook transformerende individue nodig. Ons het mense nodig wat ’n positiewe invloed op die samelewing het, en wat help dat die samelewing menswaardigheid weerspieël. Ons het individue nodig wat ook ingestel is op hul eie transformasie en vernuwing.

Sulke individue het veral die vermoë om konstruktief met kompleksiteit om te gaan. Kompleksiteit het verskillende gesigte.

Transformasie-mense is mense wat kan leef met pluraliteit. Hulle koester die veelheid van identiteite en kulture, sieninge en gesigspunte van ons lewenswerklikheid. Godsdienstige en sekulêre tradisies help juis met die ontwikkeling van ’n etos van verdraagsaamheid.

Vernuwende mense besef ons bestaan is deurspek met dubbelsinnigheid, met veelsinnigheid. Hulle weet dus dieselfde begrip kan vir verskillende mense totaal uiteenlopende betekenisse hê. Woorde soos transformasie en geregtigheid is vir sommige woorde waaroor hulle juig. Dis egter vir andere woorde van bedreiging en angs. Die woord versoening troos sommige, terwyl andere voel hierdie woord ver­loën hul stryd vir ’n menswaardige bestaan.

Hulle besef om as mens te leef is om met ambivalensie te leef. ’n Situasie, stelsel, persoon of groep is nie net sleg of goed nie. Daar is positiewe én negatiewe aspekte.

Transformasie-agente verwerp oorvereenvoudiging en sien die nuanses en geskakeerdheid in sake raak. Hulle besef oorvereenvoudiging lei tot onvoldoende oplossings.

Mense wat hul eie vernuwing en die vernuwing van die samelewing hoog ag, waak ook teen anti-intellektualisme en irrasionaliteit. Hulle omarm intellektualiteit. Hulle wil alle feite sover moontlik op die tafel hê. Hulle wil ingelig kies en handel. Intellektuele arbeid help hulle om te waak teen die verabsolutering van jou eie siening, met die gevolg dat diegene wat van jou verskil, gestereotipeer en gedemoniseer word. Die Christelike tradisie leer dat anti-intellektualisme en slegte gevolge van anti-intellektualisme oorkom word waar mense God liefhet met hul hele verstand.

Transformasie-mense leef met paradoksaliteit, met skynbare (nie werklike) teenstellinge. Hulle weet byvoorbeeld dis moontlik om groter inklusiwiteit te bou sonder om nuwe uitsluitings te skep.

Mense wat transformasie dien, is ook mense wat die tragiese en doodloopstraat-karakter van die werklikheid erken. Hulle vereenselwig hulle op besondere wyse met benadeelde en veronregte mense. Juis daar waar hierdie liefde en besorgdheid vir brose en kwesbare mense bestaan, ontwikkel ons die kreatiwiteit, verbeeldingrykheid én wil om vernuwende weë vorentoe te vind uit doodloopstrate.

■  Nico Koopman is dekaan van die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.