Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Advent beteken ons hoef nie ver te reis nie

Die 12de-eeuse mistikus en heilige Bernardus van Clairvaux verwys in een van sy preke na drie maniere om God se koms – “adventus” in Latyn – te beskryf.

In ’n oordenking in sy boek Seasons of Celebration (1965) sluit die Trappiste-monnik Thomas Merton (wat tot dieselfde kloosterorde as Bernardus behoort het) hierby aan.

Dit maak, kan ons byvoeg, dat Advent ons by uitstek uitnooi om te leef met oë en harte wat wyd oop is vir dié verborge aanwesigheid.

Die eerste koms (of advent) wat Bernardus aandui, is God se koms met Christus se geboorte. God kom na ons as die vleesgeworde Woord.

Of soos die Apostoliese geloofsbelydenis dit stel, “gebore uit die maagd Maria”. Deur Maria se menslikheid kom God op ’n spesifieke oomblik en wyse ons wêreld sigbaar binne. Hierdie koms is ad homines; dit is ’n koms ná die mens toe. Asook vír die mens, vir ons en ons verlossing.

God se derde advent is God se finale koms wanneer Christus, om weer woorde uit die Apostoliese geloofsbelydenis aan te haal, “sal kom om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterwe het”. Dit is ’n koms contra homines, ofte wel wanneer God as ’t ware téénoor die mens as ’n baie spesifieke soort regter sal staan.

Maar Bernardus verwys ook na God se tweede koms tussen hierdie ander twee advente, ’n koms in homines. Dit beteken dat God se koms behels dat God ín ons woning maak.

In die kerklike tyd van Advent kan ons daarom daaraan dink dat Christus nie net in Betlehem gebore is nie, maar op ’n geheimenisvolle wyse ook in ons. Ons hoef daarom nie ver te reis om Christus te vind nie.

“O humankind,” skryf Bernardus, “you need not sail across the seas or pierce the clouds or cross the Alps! No grand way is being shown to you. Run to you­r own self to meet your God! The Word is near you, on your lips and in your heart.

Met verwysing na Bernardus se gedagtes oor die drievoudige koms van God, onderstreep Merton die aksent dat Advent nie net oor die voorbereiding op Christus se geboorte of die verwagting op sy finale koms gaan nie.

Dit is as ’n tipe sakrament weliswaar ’n bekend­making van God se genadige en liefdevolle teenwoordigheid ín ons lewe en wêreld – ’n teenwoordigheid wat rus en troos bring. God se koms is daarom nie die terugkeer van iemand wat weg was nie, skryf Merton, maar ten diepste die onthulling van die Een wat verborge is.

Dit maak, kan ons byvoeg, dat Advent ons by uitstek uitnooi om te leef met oë en harte wat wyd oop is vir dié verborge aanwesigheid. 

Meer oor:  Geestelike Waardes  |  Advent
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.