Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Annelie Botes se reis na Kammaland

In dié uittreksel uit Kammaland vertel Annelie Botes waarom sy en die ou gryse besluit het om die kanaalpad te vat en reg in die snerpende winter in te vaar.

Herfs op die Trent and Mersey.

Drie maande gelede, op my sestigste verjaring, sit ek op ’n droë, koue Juniedag kruisbeen op my bed. Omring deur die houers waarin ek my kraletjiesvoorraad bêre.

Daar is min lus in my om nóg ’n stel wynglasjuwele of bidkrale of Kersboombehangsels in te ryg. Tog is dit ’n kreatiewe aktiwiteit waarmee ek my bedruktheid hokslaan.

Van aard is ek nie ’n swartgallige mens nie. Maar daar kom dae waarop ek voel ek is ’n misgeboorte. Wat het ek nou eintlik in sestig jaar vermag?

Leer klavier speel. Geboorte gegee aan twee kinders. Tweeduisend kerrievetkoeke gebak vir Adelaide se tuisnywerheid. Orrel gespeel vir honderde eredienste. Met naald­werk doen genoeg gare opgestik om ’n katoendraad van die Baai tot in die Kaap, en terug, te span. Dertien boeke geskryf en aanskou hoe sommige daarvan uit druk gaan. ’n Jaar lank ’n bedlêende ouma opgepas in Engeland. Goewernante gespeel vir vier balhorige koninklike seuntjies. ’n Paar bome geplant. ’n Huis help afbetaal. Seweduisend potte kos gekook. En netsoveel kere die kombuisvloer gewas en die vullisdrommetjie leeggemaak.

Is dít dan die groottotaal van my lewe?

Daar sit Chris voor sy rekenaar in sý kamer op die boonste vloer. Ure aaneen. Hy het drie-en-veertig jaar lank ononderbroke by Telkom gewerk. Plaaslyne gebou. Myle se kabels gelê. Tiekiebokse gebou en afgebreek. Darem leer visvang en gholf speel, wat hy in jare nie meer doen nie. Die grassnyer gestoot. Antieke blikke versamel wat al neëntien jaar in bokse op die waenhuis se vals plafon stof opgaar. Brood en kaas en suikerham op die tafel gesit. Vyftig pare skoene opgedra. Met ’n stewige pensioen afgetree in 2015.

Nou sit hy in sy kamer tot sy voete opswel. Of hy kyk kosprogramme op televisie. Is dit dan die groottotaal van sý lewe?

Nee. Dis onmoontlik.

Het ons dan langsamerhand vergeet hoe om horisonne te stel vir vorentoe? Of het ons dit nooit werklik aangeleer nie? Of misreken ek my met die groottotaal van seëninge wat aan ons uitgedeel is?

Ons almal het drome en vergesigte. Sommige is haalbaar, maar as jy jou logika gebruik, is vele daarvan bloot hersenskimme en wensdenkery.

Vir mý om te dagdroom hoe ek Kilimandjaro bestyg, of met arms omhoog die Comrades voltooi, is vergesog en lagwekkend. Al oefen ek sewe maal sewe jaar, is ek te skeef gebore vir ’n drawwery. My appellyf, hygbors en broodvoete sal maak dat ek neerslaan en bly lê voor een-tweehonderdste van die reis voltooi is.

Sedert ons jongjare sê Chris as hy ’n ander beroep kon kies, wil hy ’n matroos op ’n groot skip wees. Omrede van die oop waters en verre horisonne; die afwesigheid van vroue wat teem soos ’n druppende kraan. En omdat daar glo ’n gratis roomysmasjien op skepe is. Nou is hy afgetree, en die wens van matroos­skap is begrawe.

’n Onbesonne gedagte . . .

Ons boot is vasgemeer by Duck Bend.

Ek haal ’n nuwe kombinasie van kraletjies uit en rangskik dit in hopies. Blou en silwer en glaskleurig.

Terwyl die flou winterson deur die kamervenster op die blou glaskrale reflekteer, skiet ’n onbesonne gedagte my te binne. Wat daarvan as ons in Engeland ’n kanaalboot huur vir ’n wyle? Dan kan hy die skipper wees. Al is dit ’n kanaal sonder branders en soutsproei en ver horisonne, en ’n boot sonder ’n roomysmasjien, en al is dit net vir twee weke, is dit beter as niks.

Nee. Dit sal onbekostigbaar duur wees.

Sê wie? Sê wié?

“Janna!” roep ek boontoe. “Kom drink by my tee, dan vertel ek jou van ’n plan wat ek uitgedink het.”

Ek wei uit oor hoe ons eende en swane sal voer; piekniek hou in woude; fynhout optel; varswaterkrewe vang.

Hy draal met die afkomslag. Gewoonlik besorg mý planne hom ellende. Want as hy nie ’n pergola moet bou nie, is dit ’n uilhok wat hy moet oprig. Of ek wil op lang termyn by hom geld leen om my wenkbroue te laat tatoeëer.

“Kyk, Janna, ek het nou só gedink,” begin ek uitpak toe hy hom met sy tee tussen die kralehouers ingevroetel het. “Soek op die internet na die moontlikheid om ’n narrowboat te huur vir twee of drie weke. Dan kyk ons wat dit kos.”

“Ja, Myta, ja . . . If wishes were horses, beggars would ride.”

“Toe man, ek sal Raaiselkind se fliekgeld bylas. Dink nou net. Ons sluit vir ’n paar weke die voordeur en maak of ons mountain men is.”

Ek wei uit oor hoe ons eende en swane sal voer; piekniek hou in woude; fynhout optel; varswaterkrewe vang. Hy sit net kromrug, terwyl sy teebeker kantel. Ervaring het my geleer hy kan regop sit en slaap, sonder dat sy kop knik. Dan ontken hy agterna dat ek ooit sus of só gesê het.

“Besef jy, Janna,” en ek draai my volume effens op, “beséf jy dat dit haalbaar is? Jy is vyf-en-sestig. Nóú is die tyd om sulke dinge aan te pak. As jy tagtig is, kan jy nie eens op ’n boot opklim nie. Toe man, kom ons maak ’n mooi bladsy in ons memorieboek. Toe, ek smeek jou . . .”

Op reis na Kammaland

Ons gaan deur Shadehouse Lock op die Trent and Mersey.

Waar vat daardie besadigde man onverwags witwarm vlam.

Voor sonsak bel hy honderde rande uit Engeland toe. Skoon begeesterd. Want hy het ’n beskikbare boot op die internet gevind. Die volgende dag is die kontrak op sy rekenaarskerm. Kompleet met inventaris en webwerfskakel, sodat ons die leef­ruimte van die boot kan besnuffel. Vir minder as die helfte van die prys waarvoor kanaalbootfirmas normaalweg ’n boot verhuur, kry ons ’n boot by ’n privaat vrou. Op voorwaarde dis vir ’n minimum tydperk van drie maande.

“Janna, hoekom is die boot so goedkoop? Is daar nie kokkerotte en weeluise nie?

En is die ding veilig om mee te vaar? Lek dit nie? Is daar ooit ’n toilet . . .?”

Op reis na Kammaland. Sonder om te weet waar Kammaland is.

“Kalmeer, Myta. Die storie werk só,” en hy hou sy hand op om my stil te maak. Ná haar egskeiding het die vrou, Trish, ses jaar op die boot gewoon met haar seuntjie. Sy skoolverpligtinge het dit onprakties gemaak en sy het teruggetrek na ’n gewone huis. Sy is egter verknog aan die boot en wil dit nie verkoop of laat verwaarloos nie, en wil voortdurend iémand hê om dit te bewoon. Wins is nie ’n faktor nie.

Só het dit daarvandaan gestoel en gestoel. Vliegkaartjies. Visums. Travel wallet. Reël vir die tuin en ons Gizmo-kat se versorging. En ’n horde ander jakkalsies.

Op Sondag 1 Oktober van die jaar van onse Heer 2017 sal ons vlieg. Dan ’n week by Nasti in haar pikante hoekhuis in Flintstraat in Salisbury oorstaan. En op 9 Oktober bestyg die skipper en dekskropper naby Oxford ons kanaalboot, genaamd Carpe Diem. Klim finaal af op 7 Januarie. Drie maande. Net ons twee.

Op reis na Kammaland.

Sonder om te weet waar Kammaland is.

Gryp die dag nóú

Fynhout gebreek en gesaag by Atherstone.

Tot middel November sal ons deur herfstaferele wat skakeer van sonneblomgeel tot granaatrooi vaar. Dan daag die felle winter wanneer dit vieruur nagdonker is, en die grasse soggens soos witgerypte spiesies staan. Chris reken hy sal nie smôrens ’n Afrika-pie kan vang nie, want die straal sal aan sy instrument vasvries.

Ek is bekend met die Engelse koue, want ek het ’n volle winter saam met Granny deurleef. In die jaar by Granny het ons glo ’n warm winter gehad. Warm? In my dag des bestaans het ek nog nooit so koud gekry nie.

Stokmannetjiekoud. Longbrandkoud.

Juis in daardie winter het ’n bejaarde vriendin van Granny se depressie haar gekelder. Sy wóú nie verder leef nie. Toe stap sy in ’n woud in, trek haar nakend uit en gaan lê op die bosvloer. Ná ’n paar dae het die soekgeselskap haar daar gekry. Kliphard gevries, met oop, bevrore oë.

Die hartverskeurende groottotaal van ’n vreemde vrou se lewe.

Kanaalbewoners op die Trent and Mersey.

Op die oggend toe ek kruisbeen op my bed die blou glaskrale sit en inryg het, sou ek maklik in ’n woud ingeloop het. Toe kom sit die engel van bewaring langs my, en ek word uitge­spaar van die brandkoring en die treksprinkane.

Hoeveel ure en dae ons op die internet deurgebring het om so ingelig moontlik te wees, kan ek nie tel nie. Ons weet wel op die boot sal dit snoesig wees, nes in ’n gewone huis. Met sentrale verhitting, dubbelglasvensters, ’n ysterstofie wat permanent brand en iedere basiese gerief. Wasmasjien, gasstoof, yskas, televisie, haardroër, stort, spoeltoilet. Van koekvurkies en donskooigoed, tot ’n botteloopmaker. Ons gaan Nasti se slow cooker leen, sodat die boot na erte-en-hamsop en bees­stertbredie kan ruik.

Al om die derde aand sal ons met ’n koplamp en ons rug­sakke, dik gestewel en gehandskoen, na ’n village-winkel loop vir kosgoed en ’n sakkie antrasiet. Dalk sit ons in die village pub voor die kaggel met espresso. Met die terugloop kan die sneeu altemit op ons skouers vlok. Dan sal ons lag soos Heidi en Peter by Oupa in die Alpe.

Maar tóé, in ons euforie en dagdromery, het ons nie naastenby besef waarvoor ons ons inlaat nie.

Óns.

Die skipper en die sluisoopmaker.

Nóú is die tyd om die dag te gryp. Nie eendag as ons met krankemente geslaan is nie. Al is net die stert van ons spaarvarkie oor; hy sal weer vet word. Bowendien, wat sal ons met die opgaargeld dóén as ons op die ouetehuisstoep in ons wieg­stoele sit?

Niks. Net sit. Wag vir die uitgerekte nag om te kom. Pilletyd. Platlê vir die aansit van ’n droë grootmensdoek. In die dof verligte saal luister na die roggelhoesies van die ander bed­lêendes wat op pad is eindstreep toe.

Want ’n eindstreep sál daar wees.

Maar tóé, in ons euforie en dagdromery, het ons nie naastenby besef waarvoor ons ons inlaat nie. Of dat ons uithouvermoë en verdraagsaamheidsgrense tot op die droesem getoets sou word nie.

* Kammaland word deur Penguin Books uitgegee en kos R280.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Engeland  |  Oxford  |  Kammaland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.