Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
As boelies doen wat boelies doen
Barend Vos

Dit was presies een somer lank ons katedraal: die stukkie veld met die Karoobossies regoor ons huis. Ons het ’n kolfblad oopgeskoffel en me-kaar agtermiddae daar gekry.

Dit was nou ek en die drie Massyn-broers wat agter ons gewoon het, Fran-sie, wat saam met sy ma in die Massyns se buitekamer gebly het, en Niekie van die dubbelverdiepinghuis op die hoek.

Niekie was ’n sleutelfiguur, want hy het die kolf gehad waarmee ons gespeel het, boonop ’n duur Barry Richards.

Die Massyns kon lekker vuil speel. Hulle sou sommer ’n onderarm “creeper” boul sonder om die kolwer te waarsku.

En twee van hulle kon maklik op die Bybel sweer dat jy been voor paaltjie betrap is.

Dit was die reël: In die afwesigheid van ’n skeidsregter was twee se ere-woord genoeg om ’n kolwer se doppie te klink.

Fransie was ’n maklike teiken, want hy het nooit gestry nie. Hy sou dit in elk geval nie waag nie; hy was maar tingerig.

Nou, jare later, kan ek nie onthou presies wanneer die moeilikheid begin het nie.

Nou, jare later, kan ek nie onthou presies wanneer die moeilikheid begin het nie.

Was dit toe twee van die Massyntjies weer op die Bybel gesweer het? Was dit ék wat hom skoongeboul het?

Ek onthou wel hoe ek gevoel het daardie eerste keer toe Niekie nie wou uit wees nie. Toe hy sy Barry Richards-kolf gevat en koers gekry het huis toe, na sy groot kamer op die boonste ver-dieping.

Dit was die einde van ons krieket vir daardie dag. Daar was nie ’n ander kolf nie.

Ek onthou die magteloosheid. Ek ont-hou hoe verstom ek was toe die drie Massyns, die grootmonde, nie ’n woord gesê het nie. Ek onthou dat ek gemaak het of ek nie vir Fransie sien wat vol verwagting na my kyk nie.

Dit was die begin van die einde. Ons het, dink ek, ’n keer of wat weer pro-beer om ons krieketstryde te laat her-leef.

Maar toe Niekie nog ’n slag nie wou uit wees nie en die Massyns weer eens woordeloos wegdrentel, was alles verby.

Die drie broers het vir hulle homers en tumblers gekoop en Fransie het sy agtermiddae deurgebring deur na die Massyns se duiwehok te staar. Nie lank daarna nie het ons getrek en ek het op ’n ander dorp begin skoolgaan en nie juis weer aan die kortstondige krieket-spelery gedink nie.

Tot so 40 jaar later, nou die dag, toe daar ’n man in ’n kerkraadsverga-dering opstaan en sê as dinge nie gebeur soos hy wil hê dit moet gebeur nie, vat hy sy goed en hy loop.

In verskeie private gesprekke is daar al gesê hulle is moeg vir sy maniertjies.

Hiérdie klomp kerkraadslede is nie vatbaar vir sy simpel dreigemente nie, het ek nog gedink.

In verskeie private gesprekke is daar al gesê hulle is moeg vir sy maniertjies.

Maar toe hy daardie aand so bulde-rend dreig, sê niemand ’n woord nie.

Die koppe sak, selfone word suutjies uitgehaal.

Daar is dié wat hul agenda met ’n pen begin bekrap soos kinders.

Uit die hoek van my oog sien ek hoe een van die vroue met groot oë na my kyk.

Toe dink ek aan Niekie en sy Barry Richards – en ek praat mooi met die sterk man.

Tydens die teedrinkery gaan sit ek langs hom en verseker hom van die absolute, onbetwyfelbare onmisbaar-heid van alles wat hy vir die gemeente doen en beteken. Terwyl ek die heeltyd die ongemaklike gevoel het dat hy op ’n dag weer so sal maak. Dat dit maar is hoe dinge by die Niekies werk.

En ek dink weer aan Fransie, die een wat nie kon teëpraat nie. Die kleintjie wat ek so in die steek gelaat het as die boelies doen wat boelies doen.

Meer oor:  Sielsgoed  |  Boelies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.