Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
As dit voel of God wegraak in die droogte

Onlangs ry ek deur droogtegeteisterde gebiede in die Groot- en Klein-Karoo. Jy sien en voel die droogte wat mens, dier en omgewing so diep raak oral.

In al meer gesprekke hoor jy die woord “gemeenskaptrauma”. Jy sien dit by die boere, maar ook die vrou wat in die slaghuis werk, die plaaswerkers en die dominee wie se (geloofs)kudde baie swaarkry.

Die boorde in die Klein-Karoo waar appelkose verdwaal aan blaarlose bome hang, wingerde waarvan groot dele verdroog en dood is, die swart landskap van die Groot-Karoo, die laaste skape wat in kampe om plaaswonings skarrel vir voer, en die geboë skouers van die boere vertel die verhaal.

Vragmotors vol voer wat ’n sprankie hoop bring, honderde geskenkpakkies wat aan vroue gestuur word en die finansiële noodhulp wat wel beskikbaar is, bring verligting, maar bly die spreekwoordelike druppel aan die emmer.

Die droogte het egter ook geloofsuitdagings gebring. In ons landbougemeenskappe vind ons diep en opregte gelowiges wat naby aan God leef. Hulle weet wat die woord “afhanklikheid” beteken. Ons in die stede is ver verwyder van hierdie werklikhede en koop steeds ons vrugte en groente en mooi verpakte vleis, ten spyte van die droogte.

Vir gelowiges wat direk met die droogte gekonfronteer word, kan dié bestaanskrisis maklik verander in ’n geloofskrisis. Mense se worsteling met hul geloof en God in tye van dors en droogte is niks nuuts nie. Dit loop soos ’n goue draad deur die Bybel. Moses, Elia en Josef se verhale is goed bekend.

Het ons nóg gebedsdae vir reën nodig? Ek dink God weet teen hierdie tyd presies wat ons nodig het.

In Christus kulmineer dit in die kruiswoorde: “Ek het dors! . . . My God, my God waarom het U my verlaat?” Dalk was dit ook die uitroep van menige boer die afgelope tyd.

Terwyl vinnige antwoorde hier nie pas nie, wil ek egter wel versigtig die volgende waag: Droogtes was deur die eeue bitter, maar dikwels waardevolle geloofreise, wat mense nie by vinnige antwoorde gebring het nie, maar by die dieper misterie van ’n ondeurgrondelike en liefdevolle God. Dit is hierdie God wat ons dikwels kom verras as dit voel asof alles verby is.

Intussen moet die droogte ons almal dieper laat dink oor ons verhouding met die natuur, veral ons wat in stede woon.

Ten slotte is ek onseker of ons nóg gebedsdae vir reën nodig het. Ek dink God weet teen hierdie tyd presies wat ons nodig het. Op die regte tyd sal voorsien word. Dalk het ons wel meer dankbaarheid en verootmoediging voor God nodig. Die woorde van die profeet Habbakuk bly my by: “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie . . . al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie . . . nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God my Redder.”

  • Dr. Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis.
Meer oor:  Braam Hanekom  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.