Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
As jou waardes ondergeskik is aan eiebelang

Wanneer waardes in botsing met nasionale belange kom, delf waardes byna altyd die onderspit. Só werk die politiek. Dít kan tans gesien word met die toegeeflike houding van die Weste teenoor Turkye.

In dié land het ’n twee jaar lange noodtoestand vandeesweek ten einde geloop. Die noodtoestand is afgekondig ná die mislukte bloedige militêre staatsgreep in Julie 2016.

In die loop van die twee jaar is tienduisende staatsamptenare, onderwysers, dosente, joernaliste, polisiebeamptes en offisiere afgedank of toegesluit omdat hulle met die opstandelinge sou gesimpatiseer het. Duisende ander het landuit gevlug en leef nou in ballingskap.

Pres. Reçep Tayyip Erdogan het van sy noodmagte gebruik om ’n referendum oor ’n nuwe grondwet te organiseer, een wat byna diktatoriale magte aan hom verleen. Met byna al sy politieke opponente uitgeskakel, het Erdogan sy sin gekry.

Vandag is hy prakties ’n diktator sonder noemenswaardige politieke teenstanders op vrye voet. En die politieke ruimte van dié wat nog oorgebly het, is klein, te klein om doeltreffend te wees. Bowendien help Erdogan met gereelde militêre operasies in Sirië ook nog om daardie pot aan die prut te hou.

Die vlugtelinge word in kampe, gefinansier deur die EU, aangehou.

In die Weste is met groot kommer na die toestand in Turkye gekyk, maar die morele ongemaklikheid oor Erdogan se ondemokratiese middele is deur pragmatiese eiebelang oordonder. Verskeie faktore speel hier ’n rol.

Ten eerste het die Europese Unie (EU) ná die vloedgolf vlugtelinge uit Sirië in 2016 ’n ooreenkoms met Turkye gesluit. In ruil vir groot bedrae keer Turkye die vlugtelinge om oor die Egeïese See na Griekeland – en hul gewildste einddoel, Duitsland – te reis.

Die vlugtelinge word in kampe, gefinansier deur die EU, aangehou. Met bondskanselier Angela Merkel op die voorpunt, word groot moeite gedoen om ’n herhaling van die 2016-gebeure te voorkom.

As Erdogan sodanig die harnas in gejaag word dat hy Turkye aan Navo onttrek, sal dit vir Europa ’n ramp wees.

Daarvoor is Turkye se hulp nodig. En met ’n diktatoriale leier met ’n kort lontjie soos Erdogan, gaan jy hom nie kwaad maak met preke oor demokrasie en verdraagsaamheid nie.

Die tweede faktor is Turkye se belangrike rol in Navo. Turkye se weermag is een van die sterkstes in die bondgenootskap, en sy posisie aan Rusland se suidelike flank maak sy geopolitieke rol van lewensbelang.

As Erdogan sodanig die harnas in gejaag word dat hy Turkye aan Navo onttrek, sal dit vir Europa ’n ramp wees. Dit sal Rusland se hande in die Midde-Ooste heeltemal vry maak.

’n Derde rede was altyd dat die sekulêre Turkse demokrasie ’n goeie ideologiese alternatief vir die Moslem-fundamentaliste was. Maar dít geld nie meer nie.

Nietemin is Turkye steeds belangrik genoeg. En dus sluit die Weste maar sy oë voor Erdogan se misdade teen sy eie mense.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Turkye  |  Politiek  |  Oorlog  |  Staatsgreep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.