Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
As jy iemand ontmoet wat geen voete het

Dis in die hartjie van die winter en ysig koud soos dit net in die Karoo kan raak toe die bestuurder die minibus se neus in die rigting van Nieu-Bethesda druk.

Van waar ek op die voorste passasiersitplek sit, kyk ek kort-kort om na die res van die groep om ’n woordjie te wissel.

Ek sukkel om my opgewondenheid te verberg. Van die stukkie hemel waarheen ons op pad is, het ek maar nog net in tydskrifte gelees. Die naam het glo ’n Bybelse herkoms en beteken “plek van vloeiende waters”.

Soos die bussie die kilometers opvreet, dink ek dat ek dit nóóit oor my hart sal kry om oorsee te gaan terwyl my oë nog so min van my eie land se juwele aanskou het nie.

Ons draf die sowat 50 km na die klein dorpie in ’n japtrap plat. Die dorpie lyk soos ’n oase in die onherbergsame vallei van klip en golwende heuwels. Ek word diep bekoor deur die asemrowende rotsformasies aan die voet van die Sneeuberge. ’n Sinkplaatgrondpad wat jou ingewande uitmekaar skud, begroet ons groepie by die ingang na die dorp.

Voor Helen Martins se geskiedkundige Uilhuis klim ons uiteindelik uit en maak litte los. Ek wonder wat in hierdie merkwaardige vrou se kop aangegaan het toe sy en haar helper, Koos Malgas, die uitsonderlike beelde op die perseel geskep het.

Onder ’n mankolieke afdakkie oorkant die Uilhuis trek ’n gestremde by ’n stalletjie my aandag.

Onder ’n mankolieke afdakkie oorkant die Uilhuis trek ’n gestremde by ’n stalletjie my aandag. Dit lyk of hy net-net pas in die klein rolstoeltjie waarin hy sit.

Rondom hom is etlike beeldjies waarmee hy smous. Miniatuur-windpompe se lemme girts in die koue Karoowind. Sy gesig is droog en vol kreukels, nes die barre landskap waarin hy hom bevind. Verleë druk hy sy halfgerookte tabakzol met sy duim en wysvinger dood toe ek voor hom gaan staan.

Hy stel homself voor as Isak Kasper. Vanuit ’n hoekie onder die afdakkie glimlag sy saamwoonvroutjie vriendelik vir my waar sy op ’n verweerde eetkamerstoeltjie sit.

“Ek het hulle in ’n brand verloor,” sê Isak toe dit hom opval dat ek staar na die leemte waar sy twee bene moet wees. Hy vertel my hoe hy ten tyde van ’n epileptiese aanval in ’n vuur beland en so byna verkool het. Dis net deur God se genade dat hy vandag nog leef.

Twee goedversorgde brakkies kom lek ywerig aan ’n bakkie water langs sy rystoel. “Dis my kinders, Soekie en Vlooi,” sê hy trots.

Sy oë raak opeens tranerig. “Ek het ’n baie sagte plekkie vir honde. As my hond nie op daardie noodlottige aand my bure wakker geblaf het nie, het ek nie vandag hier gesit nie. Ek het só baie om voor dankbaar te wees.”

Ek raak daardie aand onder die Karoohemel aan die slaap met ’n les wat ek in Nieu-Bethesda geleer het. Só dikwels kla ons omdat ons nie skoene het nie – totdat ons paaie kruis met iemand wat nie voete het nie . . .

Meer oor:  Nolan Venter  |  Geloof  |  Stalletjie  |  Sielsgoed  |  Dankbaarheid  |  Gestremde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.