Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
As jy ’n Christen is – en wíl wees

Twee weke gelede het my jong Nederlandse landgenoot, Max Verstappen (18 jaar), ’n wêreldwye opskudding veroorsaak toe hy die Formule 1 in Spanje gewen het. Hy is die jongste renjaer nog wat hierdie prestasie behaal het en bowendien sommer al in sy eerste wedren vir sy nuwe span. In ’n japtrap was die koelkop-tiener ’n sensasie en is wyd en syd bespiegel hoe hy dit reggekry het en hoe hy so beskeie en gefokus bly.

Sy resies-instrukteur van sy laerskooldae het die mooiste opsomming gegee: Sommiges wíl Formule 1-renjaers wees; ander ís dit.

Max ís een.

’n Mens kan hierdie beginsel toepas op talle gebiede besef ek toe ek die vraag aan myself stel: Is ek ’n predikant, of wil ek een wees?

Soos vir jou huwelik: Is jy getrou, of wil jy getrou wees? En op jou werk . . . En op regeringsleiers. Is hulle dit regtig, of wil hulle dit wees?

Dit het twee kante. Aan die een kant stel dit gerus om te weet wie en wat jy is. Jy hoef nie te baklei om iets of iemand te wees nie. Jy is gelief, eerlik, snaaks of ’n wenner.

Dit gaan ook oor die vraag waarmee jy jou karakter voed?

’n Amerikaanse Christen vertel oor sy worsteling om God se wil vir sy lewe te verstaan. Hy het homself moedeloos gebid, maar niks van God te hore gekry nie. Totdat hy op ’n dag na die Bybelgedeelte wat hy gelees het staar en dit skielik tot hom deurdring dat God se antwoorde hier reg voor sy neus is. Hy het die gedeelte weer gelees en ’n lys gemaak van wat God aan ’n gelowige opdra om te doen.

Van vriendelikheid en natuurbewaring tot vertel oor God. Die lys het lank geword en hy het besef dat sy lewe te kort is om God se wil heeltemal te doen. Hy het aktief, opgewonde en dinamies geword.

Hy het hom gerig op wie hy is in Christus en om dit te verbeter deur na geestelike volwassenheid toe te groei.

’n Renjaer skuil in Max Verstappen se DNS – sy ouers was dit ook. Hy het beter geword deur baie oefening. So is die eienskappe om as ’n kind van God ’n wenner te wees in elkeen wat sy of haar lewe aan Christus toevertrou (Rom. 8:37-39) en dit beoefen.

Die vraag is dus waarmee ons onsself voed en wat is die opbrengs?

Ek vat hierdie gedagte so bietjie verder na die baie mense wat nou in China, Noord-Afrika en die Midde-Ooste tot bekering kom. Moenie die vlugtelinge wat Europa toe kom vergeet nie. Hierdie groep bekeerlinge gee ’n mens sommer energie. Die energie van wenners.

Hier waar ek in Woerden woon, het ek met hulle te make. Met vlugtelinge wat hulle met hart en siel tot die Drie-Enige God bekeer het. Sy liefde in Christus het hul lewe heeltemal verander, omdat hulle nooit geweet het wat liefde is nie, sê hulle. Hulle suig die Evangelie soos sponse op, want hulle is geestelik honger. Hulle straal van geluk, terwyl hul lewe nou juis meer in gevaar is weens hul bekering en hulle dus nie na hul geboorteland kan terugkeer nie. Dit is selfs gevaarlik as ek hul name sou noem, maar hulle aanvaar die gevolge.

Liewers doodgaan as Christen as sonder Christus, sê hulle. Dit is opmerklik dat hulle dadelik ’n verlange kry om mense op allerlei maniere te dien. Sê net wat ons kan doen, soebat hulle my. Kort ná hul doop en bekering meld hulle hul aan om sending in die omgewing te doen. Hulle is Christene, wil dit wees en beoefen hulle wennerstatus.

Tradisionele Christene hier in Nederland sien dit. Party herken dit en rol hul moue met ekstra energie op. Party wil ook so wees.

Meer oor:  Woord En Perspektief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.