Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
As ’n mens in ’n spieël die raaisel raaksien
Annelie Botes

Daar kom tye dat die waters ’n mens onderstebo maal. Asof jou vegkrag verdwyn en jy bloot leef omdat jy asemhaal.

Met die lewensklap wat ons toegedien is deur die dood van ons Gizmo-kat is dít hoe ek en die gryse in die laaste dae leef. Ons eet weinig, meestal brood en roereiers, of ’n blikkie tuna. Ons slaap sleg. Praat min. Dra met swaar arms waswater tuin toe. Maar die gesegde lui mos: “This too shall pass” . . .

Toe kry ek die ontstellende tyding dat Zelda Jongbloed Saterdag aan kanker oorlede is. My groot spyt is dat ek in meer as twee jaar nie met haar kontak gemaak het nie.

Nóóit sal ek vergeet watter onskatbare invloed sy as redakteur van Die Burger Oos-Kaap op my gehad het jare gelede toe ek deur wilde waters rondgesmyt is nie.

Ek onthou hoe ons vir ure gesels het oor haar wat as die enigste geleerde kind van pa Toppie en ma Mayné in Groot-Brak grootgeword het. Pa Toppie was ’n skoenmaker en ma Mayné ’n kranige naaldwerkster wat saans by lamplig pêreltjies op trourokke vasgewerk het. En só het hulle brood en botter op hul kinders se tafel gesit. Soutkorrels. Simplistiese mense gesny uit topklas hout.

Daar is vele herinneringe aan Zelda wat ek oproep. Die helderste is toe sy vertel het van die spieël wat vir haar ’n rubicon was wat sy oorgesteek het. Toe apartheid doerie jare begin verbrokkel het, het sy vertel, het ’n kollega van haar, Albert Crafford, ’n opdrag gekry om ’n embuia-skeidsmuur in ’n Volkskas-tak in Johannesburg te verwyder. Hy kon die hout vir homself vat.

Craffie, soos sy hom genoem het, vertel toe vir haar van die kosbare hout en bied aan om vir háár daaruit iets nuut te skep.

Craffie, soos sy hom genoem het, vertel toe vir haar van die kosbare hout en bied aan om vir háár daaruit iets nuut te skep.

In ons voorhuis by die geelhouttafel, om ’n pot Earl Grey-tee, het sy vertel sy kon haar vervies en sê sy wil geen verbondenheid met so ’n apartheidsimbool hê wat mense gedwing het om in aparte rye te staan nie. Of sy kon die opregte bedoeling van sy aanbod sien as ’n hand van toegeneentheid wat hy na haar uitsteek.

Uiteindelik het sy dit aanvaar en hy het vir haar ’n kunswerk van ’n spieël daaruit gemaak. Op die raam ’n koperplaatjie met die woorde: “Uit ou onreg, iets nuuts”.

Vir haar was dit ’n saamvleg van wrede onreg, vergifnis en versoening. En dié spieël het van haar ’n vrou gemaak wat eens met ’n gevelde bajonet die stryd aangesê het tot iemand wat altyddeur op soek was na begrip, na alle kante toe.

Ek verstaan nie waarom ons kontak weggesypel het in die laaste twee jaar nie. Want iewers vorentoe wou sy hê ek moet haar bystaan om pa Toppie en ma Mayné se storie te verewig.

Nou is Zelda weg. Klaar gesoek. Klaar geoffer. Finale bajonet neergelê.

Al wat vir my oorbly om te sê, is: Dankie, Zelda, dat jy vir my van Craffie se spieël vertel het. En vir al die koppies Earl Grey-tee wat ons twee saam kon drink.

Meer oor:  Zelda Jongbloed  |  Dood  |  Joernalis  |  Kuns  |  Apartheid  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.