Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Belhar: Besin weer oor waar dit vandaan kom

Die Belydenis van Belhar is vanjaar drie dekades oud, skryf Nico Botha. Maar het dié belydenis nog enige relevansie vir die Kerk en samelewing vandag?

Die NG Kerk se algemene sinode stem ten gunste van die Belydenis van Belhar. Foto: Francois Maritz

Die belydenis van Belhar, wat taamlik opspraak in die sogenaamde familie van NG Kerke verwek het, is vanjaar 30 jaar oud. Hier en daar word geleenthede gereël om dit te vier.

In Belhar in Kaapstad, waar die belydenis die lig gesien het, is op Maandag 26 September ’n byeenkoms gereël waar veterane van die kerklike stryd teen apartheid soos Daan Cloete, Jaap Durand en Dirk Smit – die eintlike middernagtelike opsteller van die belydenis – teenwoordig was. ’n Belangrike vraag nou 30 jaar later is of die belydenis in 2016 nog enige relevansie vir die Kerk en samelewing het.

Dikwels word die stelling dat die belydenis nou selfs meer relevant is as tevore, te onnadenkend en te in die algemeen gemaak. Selfs met die viering van die belydenis 30 jaar later bly dit van kardinale belang om net eers weer na te dink oor die historiese situasie waarin dit tot stand gekom het.

Groep sonder grense

En sonder om alle vuil wasgoed weer in die openbaar op te hang of alle ingewande weer uit te ryg, bly dit belangrik om te noem dat die belydenis op ’n onvervreembare manier gerig was teen die verdeeldhede, verwyderings, bitterhede, hatighede en ongeregtighede van apartheid. Wie nie kans sien om dit te doen nie, sal steeds deur die verlede gejaag word.

Dalk moet ’n mens met die 30ste verjaardag van die belydenis, ten spyte van ’n uiters onrustige situasie in die land, net weer rustig nadink oor eenheid, versoening en geregtigheid en in die proses nie die gehoorsaamheid nalaat nie.

Deel van die gesukkel om tot goeie, blywende eenheid in die Kerk te kom, het te make met ons onbegrip van die eenheid van die mensdom.

Deel van die gesukkel om tot goeie, blywende eenheid in die Kerk te kom, het te make met ons onbegrip van die eenheid van die mensdom. Waar mense steeds nie kan verstaan dat ons ’n “groep sonder grense” is en dat ons presies dieselfde DNS tot op ietsie net minder as 100% het nie, hoef dit ons nie te verbaas dat eenheid so ’n duur en luukse artikel geword het nie.

As Christene boonop nog al die regte tekste uit die Bybel aanhaal oor eenheid, maar vervolgens so gemaklik vertoon in hul verdeeldheid en apartheid, hoef dit niemand te verbaas dat eenheid in Kerk en samelewing ons steeds ontwyk nie. En hierdie geïdealiseerde eenheid moet nie aan eenvormigheid gelyk gestel word nie.

Die belydenis van Belhar self bied ongelooflike ruimte vir eenheid in verskeidenheid, of wat ook ’n versoende verskeidenheid genoem sou kon word. Kyk ’n mens na versoening, is die prentjie ewe swak.

Terugskouend moet ons nou erken dat die Waarheids-en-versoeningskommissie ’n baie beperkte werking gehad het. Die nuwe uitbrake van rassisme, haatspraak en vorms van geweld wat met die ernstige beskadiging van eiendom gepaardgaan, is negatiewe simptome van ’n onversoende land.

Die getuienis van Belhar bly steeds dat mense van God deur die kruis van Jesus Christus met mekaar versoen kan word, wat ook al die aard van hul bitterheid en vyandskap teenoor mekaar. Solank hulle net in gedagte hou dat ’n baie duur prys betaal is en dat enige vorm van gerieflike, goedkoop versoening nie sal deug nie.

Versoening sonder geregtigheid

Ons het die moed van ons oortuiging nodig om te erken dat die vergroting van die gaping tussen rykes en armes nie ’n blote cliché of slagspreuk is nie, maar ’n skreiende werklikheid.

En daarom juis is die derde groot woord van Belhar, naamlik “geregtigheid”, so belangrik. Versoening sonder geregtigheid sal nie lank hou nie. Ons het nuwe ontledings nodig oor ongelykheid in die land. Ons het die moed van ons oortuiging nodig om te erken dat die vergroting van die gaping tussen rykes en armes nie ’n blote cliché of slagspreuk is nie, maar ’n skreiende werklikheid. Daarvan getuig die lewe self in Suid-Afrika.

En daarom moet korrupsie in die staat en in die privaatsektor met oorgawe bestry word, omdat dit die sterkste vorme van ongeregtigheid reflekteer. Hierdie drie groot Bybelse woorde – eenheid, versoening en geregtigheid – verg gehoorsame mense wat teen elke teenstand injaag na eenheid, soek na versoening en radikaal strewe na geregtigheid. Nie gemotiveer deur een of ander politieke diktaat nie, maar deur hul geloof. Want Belhar is per slot van rekening ’n geloofsbelydenis in die volgende betekenis: Selfs al is daar nie waarborge nie en selfs al weet ons nie wat die presiese uitkomste sal wees nie, ag ons die kwessies waarom dit in die belydenis gaan so belangrik dat ons steeds sal strewe na eenheid, versoening en geregtigheid.

* Prof. Nico Botha is verbonde aan die departement teologie aan Unisa en ’n tentmaker-leraar in die VGK.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.