Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Beloon jou vriendelike kelner

Kelners en kelnerinne het dit nie altyd maklik nie, maar ’n dapper kelnerin in Amerika het onlangs gewys dat hulle ons respek verdien, skryf Willem Fransman jr.

Ons verwag van kelners om altyd vriendelik te wees, selfs al het hulle hul hande vol. Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images

In Desember kuier ek en my twee jonger broers in een van die bekendste braairestaurante in Parow.

Ons is natuurlik eers aan streng Covid-19-protokolle onderwerp, maar dit was gelukkig nét voor die president die drankverbod (voor Kersfees) heringestel het.

Toe die kelner ons bestellings vir drankies kom neem, pleit ek by hom om vir my predikant-broer ’n “uit-die-rakke” nie-alkoholiese mengeldrankie te bring. My jongste boetie, ’n onderwyser in Johannesburg, bestel ’n pint tapbier. En ek . . . wel, synde dat ons vir so lank wyn ontsê was, bestel ek ’n bottel Alto Pinotage. Om ou Hempies du Toit darem op sy plaas aan die gang te hou!

Toe vertel ek die kelner (’n buitelander) wie Hempies nou eintlik was. En hy is die ene ore en vol belangstelling; tot my broers se groot vermaak.

Ek het aan my broers verduidelik dat hy só sal optree, want ons het wyn bestel en drinkers se fooitjies is oor die algemeen groter as dié van nie-drinkers.

Tog kan dronk kliënte vir enige kelner ’n groot probleem word. Nie net raak hulle luidrugtig nie, hul koppe haak partykeer behoorlik uit en dan raak hulle vatterig of vra kelnerinne se telefoonnommers.

En dit het ook al gebeur dat groot drinkers die volgende dag terugkom en die eienaar van die restaurant smeek om die etlike duisende rand wat hulle die kelnerin as fooitjie aangebied het, te verminder.

Party dae is hy lief vir sy werk. Alles verloop seepglad. Kliënte tree beskaafd op en is beleefd. En natuurlik is die fooitjies uit die boonste rakke.

Ons kelner was die hele aand vriendelik en het soos ’n kloekende hen (haan?) om ons heen gedraai. Met monde vol rooivleis, wys ons later net met die duime na bo as hy vra of alles “oukei” is.

’n Tyd gelede het ’n kelner by ’n ander restaurant my meegedeel dat nie een van sy dae by die werk dieselfde verloop nie. Party dae is hy lief vir sy werk. Alles verloop seepglad. Kliënte tree beskaafd op en is beleefd. En natuurlik is die fooitjies uit die boonste rakke.

Ander kere is hulle weer ’n pyn.

Hy sê sulke dae wil hy sommer in die grompot se keel afklouter met sy lugpyp tot in sy maag en sy derms vir hom knoop sodat hy nooit weer honger sal word nie. As hy uitklim, wil hy sy hande aan die ou se das afvee. Heel dramaties sal hy dan sy voorskoot afhaal en dit in die bord kos voor hom neergooi en uitstap.

Gelukkig het hy geleer dat ’n kelner gou ’n honger kelner sal wees as hy sy humeur verloor.

’n Vriend vertel dat hy en ’n geleerde kennis eendag in ’n restaurant gekuier het. Toe die kelnerin – seker so 18, 19 jaar oud – naderstap, vra sy: “Wat sal die ooms drink?” Die professor, altyd maar ’n platjie, wink haar nader en wys met sy wysvinger na die vloer. Sy kyk belangstellend na die plek waar hy wys. Toe sê hy: “Juffrou, jou fooitjie het nou net daar op die vloer geval!”

Kelnerin red mishandelde seuntjie

Willem Fransman jr.

Ek was onlangs mateloos beïndruk oor die kelnerin Flaviane Carvalho in die Amerikaanse deelstaat Florida vermag het. ’n Elfjarige seun en twee volwassenes het vir ete by die restaurant in Orlando waar sy werk, opgedaag.

Die volwassenes het niks vir die kind bestel nie.

Omdat die situasie vir haar nogal ongewoon was, want kinders bestel dikwels voor volwassenes, het sy die gesin op ’n afstand betrag. Die kind het amper nie gepraat nie en hy het ongelukkig voorgekom. Sy het ook beserings aan sy gesig en arms opgemerk.

Sy het ’n nota geskryf en dit opgehou sodat net die seun dit kon sien: “Het jy hulp nodig?”

Dit was net ’n kwessie van tyd voordat die seun van die mishandeling sou sterf.

Aanvanklik wou hy nie byt nie. Maar met haar derde poging het hy ja geantwoord. Die kelnerin het die polisie gebel en kort voor lank het hulle daar opgedaag.

Ná aanvanklike ontkennings van mishandeling het die kind toegegee dat hy geslaan, aan sy voete opgehang is en oor ’n tyd lank al mishandel is. Die kind se stiefpa, Timothy Wilson II, is op twee aanklagte van kindermishandeling in hegtenis geneem.

Sy ma, Kristen Swann, het aan speurders gesê dat sy nie van die mishandeling bewus was nie. Maar ook sy is dae later vir kindermishandeling in hegtenis geneem.

Volgens Orlando Rolon, Orlando se polisiehoof, was dit net ’n kwessie van tyd voordat die seun van die mishandeling sou sterf, maar dat me Carvalho se tydige optrede die tragedie gekeer het.

Behandel kelners met respek

Maar terug na ons braairestaurant.

Skuins agter ons sit ’n duidelik verliefde paartjie. Die wêreld om hulle kan maar vergaan. Dalk is dit nog ’n ou en sy skelmpie. Vir ’n kelner is so iemand mos soos manna uit die hemel.

Footjies is altyd ’n bietjie meer as gewoonlik, want die dame moet beïndruk word deur die grootte daarvan.

Almal van ons kan ook ons waardering toon deur die een wat ons kos aandra, met respek te behandel.

Maar van fooitjies gepraat. Ons gesin het besluit dat ons in hierdie Covid-19-tyd vir kelners ’n fooitjie van 15% van ons rekening sal byreken. Hulle was immers vir lank sonder werk.

Almal van ons kan ook ons waardering toon deur die een wat ons kos aandra, met respek te behandel.

Want as gevolg van Flaviane Carvalho se dapperheid dra ek kelners én kelnerinne deesdae op die hande.

• Fransman is ’n skrywer en vryskutjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Restaurante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.