Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Bly in jou nes, want dan bly jy mos ongekwes
Nolan Venter

Ek sit nou anderdag my lesbeurt en afwag by die jaarlikse lenteskool vir matrikulante.

Deur die oop klaskamervenster luister ek na die vrolike gekwetter van die voëls buite. Sommige roep, ander fluit, en dan is daar ook dié wat net in ekstase rondfladder.

Ja, dis weer daardie maand wat deur die digter C. Louis Leipoldt besing word as die mooiste van alle maande. Vanoggend het Piet-my-vrou ook vir die eerste keer vanjaar sy teenwoordigheid aangekondig.

’n Ligte briesie dra die bekorende geur van lemoenbloeisels uit die omringende boorde na my toe aan. Dit slaan teen my neusgate vas en ek trek dit waarderend tot by my longe in.

Maar oor die bykans onbeskryflike mooiheid van hierdie maand is ’n donker mantel gegooi – dié van ’n onbeheerbare brandstofprys wat ons land in ’n onvermydelike resessie boender.

Want wanneer petrol die dag opgaan, skiet die pryse van alles die hoogte in. Miskien het dit tyd geword dat die groot ghoeroes van ons geliefde taal sekere intensiewe vorme bekyk en herskryf. Want peper beskou ek lankal nie meer as duur nie. Ek kan dit darem nog bekostig as ek ’n vleisie en worsie oor die kole wil gooi nadat my geliefde Bokkies hul opponente ore aangesit het. Maar petrol? Nee! Haikôna!

Kyk, wanneer ek deesdae by ’n vulstasie opdaag om vol te maak, staar ek net stip voor my uit.

Kyk, wanneer ek deesdae by ’n vulstasie opdaag om vol te maak, staar ek net stip voor my uit. Dan tel ek die sekondes af en luister net vaagweg hoe daardie wieletjies in die agtergrond die rande en liters afhardloop.

Die skok laat ek maar vir wanneer die joggie my kaart vra en ek daardie aardige bedrag eers sien wanneer ek my persoonlike kode intik.

Met kontant betaal ek al jare nie meer nie. Dit was elke keer vir my net té hartverskeurend om my eens boepmaagbeursie ná ’n petrolopdok­sessie plat en brandmaer in my broeksak terug te druk. ’n Besoek aan Mosselbaai het reeds die afgelope naweek ’n diep duik in my bankbalans gelaat, danksy einste dese voggies.

Verbeel ek my of is ons sterk op pad na die jare van toeka se runderpes? Vele aande in my kinderdae het ons kleintjies oopmond gesit wanneer Oupa en Ouma ons stories daarvan vertel het.

Ai, waar is die dae toe my geliefde oom Zol my met ’n halfkroon of twee en ’n Caltex-blikkannetjie gestuur het om vir hom petrol by die enigste motorhawe op ons dorp te gaan koop en ou Regop, die joggie, my die voorreg gegun het om self met daardie outydse slinger te pomp?

Toe vyf liter brandstof ’n skrale 35c gekos het en my taxibestuurder-pa sy hand nog bak kon hou vir kleingeld nadat hy met ’n pondnoot sy Zephyr se tenk volgemaak het.

Nee wat, hierdie Kersfees gaan ons land se paaie grafstil wees. Dis net die stinkrykes wat met vakansie sal kan gaan. Ek gaan my swaargespaarde vakansiegeldjies eerder op Krismisklere, ’n slagdingetjie en feesvoggies uitgee.

Om Jan Tuisbly se karretjie te ry is mos nie ’n skande nie. Daar staan tog immers geskrywe: Bly in jou nes – dan bly jy ongekwes.

Meer oor:  Nolan Venter  |  Motors  |  Paaie  |  Brandstof  |  Vakansie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.