Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Bly regop en beur vorentoe

Van Joost van der Westhuizen onthou ek veral twee dinge: In die 1995-Wêreldbeker-eindstryd het hy vreesloos die hel uit die reusagtige Jonah Lomu getekkel; en hy het baie drieë gedruk deur op sy voete te bly en – soms struikelend – oor en om teenstanders te hardloop.

Rugby gryp ons verbeelding aan omdat dit soos die lewe is: brutaal; dikwels opwindend maar maklik saai; soms onregverdig; met heelwat beserings; “ons teen hulle”; nie vir sissies nie. Ons gladiators veg vir ons eer.

Voor die dae van massiewe gespierde superatlete op diëte en hulpmiddels, was daar vir verskeie liggaamstipes en vaardighede plek: Lang lenige slotte moes hoog spring, kort dik stutte moes kragtig stoot, ’n flinke buksie kon skrummie speel, dartelende senters het gapings gevat, vinnige vleuels drieë gedruk en harde losvoorspelers verwoesting gesaai. Bietjie boksvernuf was nuttig.

Voorspelers het die bal gewen. Agterspelers moes daarmee hardloop. Voorspelers wat nie in losskrums inboender nie en in agterspelers se pad staan, is deur afrigters op die agterstewe getug.

Plettervatte kon wedstryde wen. ’n Teenstander met die bal is om die heupe, knieë, of enkels platgeduik. Lui of bang hoogvatters is gou gepos.

Toe probeer die reëlmakers rugby vinniger, vloeiender en aanskouliker maak. Eers bepaal hulle dat die bal net van binne die kwartgebied direk uitgeskop mag word. Goeie idee. Te veel toetse het destyds 3-3 of 6-3 geëindig. Daarna hoef die bal nie meer reguit ingegooi te word op die plek waar dit oor die kantlyn gegaan het nie. Ruimte vir aanval is geskep deur dit skuins agtertoe na ’n spanmaat te gooi. Verstaanbaar.

Die “haak Vrystaat!” kreet het uit die volksmond verdwyn.

Waarom skrumskakels toegelaat word om die bal skeef, soms tot onder hul eie slotte se voete, in te gooi, is onverstaanbaar. Die hakers van ouds se “vinnige haakvoet” tel glad nie. David Kramer se Blokkies Joubert word nie meer deur die “manne” aangemoedig met “Blokkies; haak daai bol!” nie. Die “haak Vrystaat!” kreet het uit die volksmond verdwyn. Skrums is meestal ’n formaliteit, eerder as ’n geleentheid om die bal af te neem. Dit word hoofsaaklik gebruik om strafskoppe uit onkundige skeidsregters te melk.

Die ongelukkigste verandering was rondom die doodvat. Toentertyd moes ’n speler wat platgetrek word die bal onmiddellik los. Dan moes hy maar hande oor die ore lê en bid vir verlossing, onder moorddadige voorspelers wat vir die bal baklei deur te stoot, te trap, vingers te breek en te vloek. So is balbesit dikwels omgekeer, momentum omgeswaai en skares vermaak.

Nou mag ’n speler die bal “plaas” wanneer hy op die grond is. Hy kry tyd om om te rol vir die plasing. Terwyl hy op die grond lê sonder veel om te doen, skuif hy die bal rond om die skrumskakel tyd te gee om die afrigter se wedstrydplan te deurdink en te besluit wat om met die bal te doen wanneer hy dit uiteindelik optel.

Die verdediger moet “daglig” tussen hom en die ou wat hy getekkel het toelaat, voordat hy die bal mag speel. In hierdie stukkie lig spring die gelakte speler dikwels op en hardloop verder.

Dit lyk of spelers en skeidsregters die reël ewe min verstaan. Strafskoppe bepaal die gang van wedstryde. Beroemde spelers kom met moord weg, hoor ons wanneer ons verloor. Skeidsregters word verdink dat hulle omgekoop is.

Dit gaan oor “fases”. Sodra die bal uitkom, staan twee vlak reguit rye van omtrent 12 aanvallers en verdedigers teenoor mekaar en wag om in die volgende fase dieselfde as in die vorige een te doen. Die beste kans om besit om te keer, is wanneer iemand iewers tussen die 12de en 20ste fase die bal laat val.

Daar is weinig rede vir voorspelers om in ’n losskrum in te dons. Dus staan hulle in die ry en wag om senter of losskakel te speel, volgens ’n slim wedstrydplan. Groot spelers word gekies as “baldraers”.

Gryp die bol en hol.

Hulle dra dit totdat hulle dit op die grond kan neersit, sodra hulle kop eerste in verdedigers vashardloop, of nog voordat hulle by ’n verdediger uitkom, terwyl die skare “Beeeeeeeast!” skree.

Frik du Preez het eenmaal rugby opgesom: “Gryp die bol en hol.” Nou probeer die baldraer alles moontlik om te val!

Joggie Jansen het die All Blacks getroef deur Cottrell uit sy stewels te duik. Hedendaagse verdedigers probeer om die baldraer op sy voete te hou! Hulle gryp na die arms, meestal onsuksesvol.

Talle wedstryde word verloor weens foute, nie gewen deur vernuf nie. Verveelde kleiner wordende skares word met vuurwerke en dansende meisies in min klere vermaak.

In die harde lewe is dit ook dikwels makliker om op die gras te gaan lê en ander ouens te laat voortvoeter as om op jou voete te bly.

Boedel oorgee en egskeiding is byvoorbeeld wettig, hetsy dit gebeur as gevolg van ’n laag- of laatvat, lompheid, of ’n slinkse wedstrydplan.

Joost het op en van die veld af gewys dat daar meer eer is in regop bly en vorentoe beur, as om voor opponente te gaan lê. Tot die doodvat kom.

Van der Westhuizen is ’n voormalige regter van die konstitusionele hof. Hy is tans die inspekterende regter van gevangenisse.

Meer oor:  Joost Van Der Wersthuizen  |  Rugby  |  Sterfte  |  Herinneringe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.