Job 16 is ’n omgesukkelde hoofstuk, eintlik nie bedoel vir sensitiewe lesers nie. Job voel dat sy vriende wat hom moet ondersteun in sy swaarkry ’n spul rugstekers is (16:20). Hul vroom verklarings vir sy lyding is veroordelend en verkeerd. Hy voel ook God het sy teenstander geword (16:9).
Job hou skielik nie meer so baie van Hom nie. Hy het rustig geleef, maar toe kom krap God alles om. Toe verander hy in God se teiken en word hy deur God verwond (16:11-14). Nogtans neem Job selfs hierdie bitterheid oor God reguit na Hom toe (16:19-20). Selfs al sukkel Job om sin te maak van God, praat hy met God oor God. Job weier om van Hom af weg te loop. Met al sy seer vlug hy Godwaarts. Leer asseblief by Job. Hou aan om met God te praat as jou geloof agter doringdraad beland. – Stephan Joubert