Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
‘Boerekind’ laat Oupa toe anders kyk . . .
Ivor Price

My oorle’ oupa het geglo ’n mens kan nooit ’n wit mens vertrou nie. Ek weet dit, want hy’t geen geleentheid laat verbygaan om dit te sê nie. Die ironie is dat hy as predikant in die apartheidsdae ’n bevrydingsteologie gepreek het, hoewel hy nooit die destydse regering vir hul booshede kon vergewe nie.

Sy vrou, my ouma, het daarteenoor ’n heilige vrees vir swart mense gehad.

Dit het haar egter nie gekeer om verlief te raak op ’n man wat weens ’n donker gelaat meestal as swart beskou is nie, terwyl sy self met ’n ligter vel op meer as een geleentheid sonder ’n pasboek oor die weg gekom het.

Op foto’s het ek gesien dat my oupa met betogings in die strugglejare voor geloop het saam met van die vryheidsvegters wie se name in die geskiedenisboeke opgeteken is – manne soos dr. Allan Boesak en ook oudminister Dullah Omar wat gereeld by my oupa-hulle aan huis was.

’n Groot deel van my oupa se seer het gelê in die gedwonge verskuiwings in 1950. Dit is dié wrede wet, wat eers 41 jaar later in 1991 herroep is, wat hom vir ’n groot deel van sy lewe laat glo het die enigste goeie wit mense lê in die begraafplaas. Hy was bitter oor die invloed wat dit op sy gesin gehad het, maar veral ook op die kerk. Jy moet inherent wreed wees om ’n kerkgebou te sloop, het my oupa gesê oor die Mother Bethel-gebou wat in Distrik Ses gestaan het.

Hoewel my ouma, soos die res van ons gesin, in 1994 in ANC-kleure toegedraai was, het sy later jare stilletjies vir die DA begin stem. Dit is ’n geheim wat sy nooit aan my oupa geopenbaar het nie, omdat dit hom ongetwyfeld hewig sou ontstel. As opgeleide onderwyser het my oupa hom tot relatief laat in sy lewe vir beter onderwys in veral bruin gemeenskappe beywer.

Hoewel my ouma, soos die res van ons gesin, in 1994 in ANC-kleure toegedraai was, het sy later jare stilletjies vir die DA begin stem.

Dit was dus vir hom ’n bitter pil om te sluk toe my ouers in 1994 aankondig dat ek by ’n model C-skool ingeskryf is. Hy’t streng gewaarsku dat my ouers dit eerstens nie kon bekostig nie, en hy was bekommerd oor die invloed wat dit later op die identiteit van bruin kinders sou hê.

Dit was op ’n wintersaand in Julie 1995 dat my oupa en ouma op dieselfde tyd as my beste skoolvriend by ons huis gekuier het. Die mense in Conradiestraat kon hulle vreeslik verkyk aan die klomp “boerekinders”, soos hulle hulle genoem het, wat elke nou en dan saam met my huis toe gekom het. My vriend was voor in die koor; salig onbewus van sy andersheid.

Die sitkamer het stil geraak toe ek die vertrek saam met hom binnekom. My oupa se oë het grys geraak – tot sy dood ’n teken dat die onweerswolke in sy kop begin saampak het.

“Gaan jy by sy huis ook?” wou my oupa weet.

“Ja, Oupa.”

“Wat maak sy ma as julle by die huis is?”

“Die tannie maak vir my koffie. Ons sit in sy kamer en speel computer games.”

“Hy’s ’n goeie seun . . .”

Dit was die heel eerste keer dat ek my oupa iets goeds oor ’n wit mens hoor sê het.

Meer oor:  Ivor Price  |  Oupa  |  Rassisme  |  Vriende  |  Menings  |  Swart
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.