Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Carina Stander: Wanneer telgie ’n wilde loot word
Wanneer jou kind vir jou ’n skoktoneel wys, dan is die groot vraag altyd: Was dit kwaadwillig of bloot ’n eksperiment wat skeefgeloop het? skryf Carina Stander. 


Carina Stander

Dan kom daar ’n dag wanneer ’n mens besef jou relatief verantwoordelike vierjarige is net vier jaar oud. Dit was ’n jaar gelede dat Ilan, met ronde ogies en ’n kuiltjieglimlag, vir ’n bak water gevra het, want “die geitjie is dors”. Hy kon seker sy geluk skaars glo dat:

1. Sy ma geen vrae oor die geitjie gevra het nie.

2. Sy vermoë om ’n reptiel te voer nie betwyfel is nie.

3. Die grootste papbak in die huis vir hom vol water getap is.

Oomblikke later het hy stralend aangekondig dat die geitjie nou gelukkig is. Kom kyk self, Mamma! Nog voordat ek ’n tree kon versit, het ek meteens geweet daar kom marakkas.

Ek het by voorbaat asemhalingsoefeninge gedoen, maar die gil wat uit my keel geglip het, kon ek nie betyds terugsluk nie. Lewensgroot teen die plafon was die geitjie, onaangeraak. En alles onder hom – die leersofa uit Bali, die houtvloer – was kletsnat.

In ’n oogwink het alles wat ek ooit oor kinderopvoeding geglo het soos casinoligte by my verbygeflits. Veral die kernvraag: Was dit kwaadwillig of bloot ’n eksperiment wat skeefgeloop het?

Ek het die kleutergevreetjie ondersoekend bekyk, so opreg-trots op sy prestasie om ’n geitjie van verdorsing te red. Toe het ek twee vloerhanddoeke in sy hande gedruk en met ’n bewende stem geprewel: “Jou geitjie het gepiepie, my kind. Maak gou droog. En volgende keer drink hy in die tuin,” voordat ek in my spore omgedraai en vir myselwers ’n glas rooiwyn gaan skink het.

Selfs al is ek hoe lus om julle te foeter, hou ek my maar in, het ek bedremmeld gedink.

Maar so kom daar ook ’n dag wanneer ’n mens weet jou telgie is nié eksperimenteel óf kwaadwillig óf sommer gewoon stout nie, maar eenvoudig tot barstens toe gefrustreerd omdat hy klein en geboelie voel.

Op die strand het Gerrit uit die hoek van sy oog gesien hoe Ilan (toe drie jaar oud) ’n stok gryp en sy ouboet Aden (toe sewe jaar oud) op die arm moker.

Ek het gehol om Aden te troos terwyl Gerrit met Ilan praat.

“Vir wat het jy dit gedoen?” wou Gerrit geskok weet.

“Hoekom Aden sand in my ogies gegooi het.”

“Die wind het die sand in jou oë gewaai, Ilan. Ek het dit gesien,” het Gerrit gesê.

“Dit was die wind, nie ek nie,” het Aden snikkend beaam.

Ons gebruik nooit lyfstraf nie, nie eers ’n rapsie nie, dus kon Gerrit met oortuiging vra: “Het ek jou al ooit geslaan, Ilan? In hierdie gesin slaan niemand mekaar nie, verstaan jy? Niemand nie.”

Genade, my kind, waar hoor jy dit?

Selfs al is ek hoe lus om julle te foeter, hou ek my maar in, het ek bedremmeld gedink. Toe seg ek soos ’n grootmens: “Jy het ’n goeie mond gekry, my kind. As iets jou pla, praat jy. Ons maak mekaar nie seer nie.”

“En as jy nie mooi met ’n stok kan speel nie, moet ek dit ongelukkig wegvat,” het Gerrit verduidelik en doodluiters die gewraakte stok agter die duine in geslinger.

Natuurlik was daar toe ’n geween en ’n gekners van tande deur die kleuter. Die trane het gespat en die see het oor sy walle gestroom.

Gerrit het hom vasgehou, getroos: “Toemaar, Ilantjie Plantjie, as jy weer lus voel om te slaan, sal jou slim brein vir jou sê: ‘Praat is slimmer as slaan.’ ”

Dis toe dat Aden, oorweldig deur meegevoel met sy boetie, filosofies raak: “Ek dink ek weet hoekom Ilan dit gedoen het,” het hy gemymer. “Hy is soos ’n boom wat groei en sy ou takke afgooi, dan maak dit die mense wat naby aan hom staan partykeer seer.”

“Genade, my kind, waar hoor jy dit?”

“Self uitgedink. Ilan se naam beteken mos ‘boom’, toe dink ek: ‘My boetie kan partykeer so wild wees, maar hy is darem besig om te groei’.”

* Carina Stander is 'n digter en skrywer. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.