Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Christus breek skeidsmure af
Gideon  van der Watt
Gideon

Die smeulende Israel-Palestynse konflik het onlangs weer gewelddadig opgevlam met straatgevegte, klippe wat vlieg, aanbiddingsplekke wat ontheilig word en onderlinge haat wat oorkook. Die Palestyne het die ontheiliging van die Al-Aqsa-moskee gewreek deur mortiere op Israel te vuur waarvan die meeste deur afweer-wapens onskadelik gestel is.

In Israel se weerwraak vir die dood van sowat 12 Israeli’s is meer as 250 Palestyne, onder wie ongeveer 100 vroue en kinders, in die Gasa-strook gedood. Dele van dié “tuisland” waarin Palestyne ingeperk word, is meedoënloos en akkuraat deur Israelse bomme verwoes.

Steeds is daar nie sprake van ’n oplossing vir blywende vrede nie.

Dié konflik duur sedert die vestiging van die moderne Joodse staat in 1948 en word lewend gehou deur die sistematiese uitdryf van die Palestynse inwoners uit verowerde gebiede waar Jode nedersettings vestig. Eintlik kom dit al van Bybelse tyd af aan. Dié Midde-Oosterse brandpunt verdeel die wêreld en wek sterk emosies op – ook onder Christene, wat hulle verbonde voel aan die Jode, met wie ons ’n eeue oue Joods-Christelike tradisie deel.

Die verhouding tussen Christene en Jode wissel tussen liefde en haat. Deur die geskiedenis heen is die Jode, verstrooid in Europese lande, gehaat en onderdruk. Die anti-Semitisme het ’n dieptepunt bereik in die Joodse volksmoord van die Tweede Wêreldoorlog.

Vandag nog steek ’n gevaarlike anti-Semitisme kop uit. Die ander uiterste is die Christen-Sionisme, ’n oordrewe, onkritiese liefde vir die staat Israel. Konserwatiewe evangeliegesindes, veral in Amerika, glo vas die moderne Israel moet uitgebou word, al verg dit die uitwissing van die Palestyne wat ook eeue daar woon. As Israel as staat, met Jerusalem as hoofstad, eers in glorie herstel is, sal Christus weer kom en sy beloofde 1 000-jarige vrederyk vestig – volgens baie met die VSA as hoofkwartier!

Wie kritiek op die moderne staat Israel lewer, sal deur God vervloek word, glo ook Christene in Suid-Afrika (soos hoofregter Mogoeng Mogoeng).

Wie kritiek op die moderne staat Israel lewer, sal deur God vervloek word, glo ook Christene in Suid-Afrika (soos hoofregter Mogoeng Mogoeng) op grond van ’n fundamentalistiese lees van die belofte aan Abraham in Genesis 12:3.

Hoe moet ons dan oor die verhouding tussen Christene en Jode dink? In Romeine 9-11 worstel Paulus met dié vrae. Hy was self ’n trotse rasegte Jood. By hom was “groot droefheid en voortdurende hartseer oor my broers, my eie volksgenote” (9:2-3), want hulle het hul eie Messias verwerp, hulle teen die Christus verhard. Die “verharding teen Christus” het meegehelp dat heidene, die nie-Jode (dus óns, die Kerk), soos “wilde” olyftakke ingelyf kon word in die “mak” olyfstam van Israel. Ons het deel van die verbond met die Aartsvaders geword en is as kinders van Abraham “aangeneem”. Die verbondsbeloftes aan Abraham, in en deur Christus, geld nou ons almal (Gal. 3:16).

Christus is die ware Israel en almal wat aan Hom behoort, behoort tot die “Nuwe Israel”. Die Kerk is nou die nuwe, verruimde Israel aan wie al die Ou Testamentiese beloftes toekom. Daaroor is Paulus verwonderd (Rom. 11:33-36).

Dit beteken nie God het sy rug op Israel gedraai nie. Paulus skryf die beloftes geld hulle steeds; hulle bly die geliefde volk. Die koms van die vrederyk vir Israel, en vir die hele wêreld, lê nie in profesieë oor die herstel van die Tempel in Jerusalem of die uitwissing van die Palestyne nie, maar in die aanvaarding van Jesus Christus as die beloofde Messias. Hy wat Sy lewe kom gee het vir Jode en nie-Jode, wat die skeidsmuur van vyandskap kom afbreek het, wat Sy volgelinge van vergiffenis kom leer het en nie wraak nie.

In Hom breek die vrederyk aan.

Ons as Christene skuld die blye boodskap aan Jode en Palestyne. Én moet dit natuurlik self ook weer leer leef!

Meer oor:  Israel  |  Christene  |  Bybel  |  Geloof  |  God
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.