Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Christus speel ook hier by ons
Jan Lubbe
Jan Lubbe

‘Christus speel op tienduisend plekke, lieflik in ledemate, lieflik in oë nie Syne; voor sy Vader, op die gesigte van mense.”

Só haal wyle Eugene Peterson, skry­wer oor spiritualiteit, in sy boek Christ Plays in Ten Thousand Places (2005) die digter G.M. Hopkins aan. Die somtotaal van die Christelike geloof, van al ons gehoorsaamheid en getuienis, in al ons werk en verhoudings, is die uitleef van ons diepste oortuiging dat God lewend is, lewe gee en lewe heel, skryf Peterson.

Alle lewe: van ’n dansende naalde­koker tot die klank van ’n harp, van die beeld in die spieël tot gesigte op straat, in klaskamers en komitees. Veral op speelterreine – dáár is Christus teen­woordig. Lewe word dan gebed. Want jy vind Christus in die skepping van lewe, heilig – daaraan herinner sy geboorte ons.

Jy vind Christus in die geskiede­nis, veral in die lyding wat deel is van lewe – daaraan herinner sy kruis ons. Jy vind Christus in die kollektiewe ervaring van lewe, nie in selfsug of eiegeregtigheid nie – daaraan herinner sy opstanding en die gemeenskap wat Hy kom vestig het ons, aldus Peterson.

Christus, spelend in tienduisend plekke.

Christus, spelend in tienduisend plekke.

Soos in Jokohama, Japan. Dít het die afgelope Wêreldbeker-rugbytoernooi ons laat sien: ’n merkwaardige nasie – vrien­delik, hulpvaardig, gasvry, nede­rig, netjies, fynbeskaafd. Soveel te meer as jy dink dat drie weke gelede, tydens hierdie skouspel, ’n verwoestende tifoon oor hul land getrek het. Dat agt jaar gelede ’n vernietigende tsoenami duisende wonings hier platgevee het, duisende lewens geëis het. Dat ’n driekwart eeu gelede hierdie nasie deur twee verskrik­like atoomflitse uit hul oorlogswaansin geruk is, 200 000 mense dood en generasies siek.

Maar hulle het opgestaan, met die veerkrag van die menslike gees in ons ingeskape. Hulle het verantwoorde­likheid aanvaar vir hul verlede, en gesê nooit weer nie: Kom ons nooi die wêreld hierheen. Hulle het hard gewerk om hul land op te bou; die afgelope weke kon jy die trots op hul gesigte sien en die entoesiasme wanneer hulle ander spanne se volksliedere sing – geen wonder daardie spanne het ná elke wedstryd met respek voor die ska­re gebuig nie. Christus speel in tiendui­send plekke.

Ja, skaars 1% van die Japannese bevolking is Christene!

Ja, skaars 1% van die Japannese bevolking is Christene! Maar Hy, Christus, die Lewegewer van God aan wie die ganse Skepping behoort, word nie deur óns berekeninge begrens nie. Inteendeel, “The Christian church has no monopoly on giving out guidance on how to live life”, om Peterson aan te haal.

Japan het ons méér van die vrug van Christus se Gees gewys as daardie kuberboelie-heethoofpastoor wat ’n matriekkind “in the name of my Jesus” geviktimiseer het. Die dartellopies van die dapper Cheslin Kolbe, die epiese aangee van Lukhanyo Am na Makazole Mapimpi, die grasie van ’n Pollard-skop, die nederigheid van Rassie Erasmus, en Siya Kolisi wat na Bo wys – dáár sien jy die lof van skepsels aan hul Skepper. Christus speel in tienduisend plekke.

Hoe nou verder? Wat ons in hierdie land laat moed verloor het, was ideolo­giese en alle soorte radikalisme – kom ons leer om met diversiteit in die staat, kerk, skool en huis te leef, soos wat die Bokke ons gewys het.

Wat ons laat moed verloor het, was kaderontplooiing en onbekwaamheid – dit is net meriete en vaardigheid wat ’n land bó laat uitkom, soos die Bokke gewys het. Wat ons laat moed verloor het, is korrupsie en die sienderoë toelaat van onreg – kom ons wees eerlik en werk hard, soos die Bokke gewys het. Dan sal ons, soos Japan, die vernederinge van die verlede en die uitdagings van ’n na­tuur­ramp soos hierdie droogte, kán oorkom. En sal ons ontdek dat Christus ook in hierdie land speel; in die doen en late van ons gewone mense.

  • Ds. Jan Lubbe is leraar van die NG kerk Berg-en-Dal in Bloemfontein.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.