Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Coenie in ’n bekgeveg

Daar is ander maniere om ’n teenstander onder te kry as met geweld, skryf Coenie de Villiers.

Hemelbesem en Coenie de Villiers deel ’n paar gedagtes. Foto: Verskaf

Dis moeilik om geweld te vermy as jy ’n man is.

Van kindsbeen af is dit daar. Miskien is dit die bullebak wat van die kleiner outjies in die klas afknou.

Gelukkig is daar geregtigheid in die heelal: Dis nou dekades later en daardie einste bullebak is oorgewig, sukkel met die pantoffelregering, en maak stukkende enjins in sy jaart reg om vlees en bloed aanmekaar te hou.

Dit wys jou net.

Benewens die klasboelies is daar soms verskille tussen seuns wat op net één manier besleg kan word, en dis agter die fietshokkies. Die aggressor trek ’n streep in die stof met sy skoenpunt, en daag dan sy teenstander uit – trap oor die streep en ek tik jou dik! (Dis nie eintlik hoe die gesprek verloop nie, maar hierdie webtuiste is veronderstel om gesinsvriendelik te wees).

Konflik broei tussen die manne wat soos bye om die skoonheid en haar kosblik koek.

Die geskil kan vele oorsake hê, maar gewoonlik het dit iets te doen met die blonde Lorelei in gr.9 wat alle weerstand in die teenoorgestelde geslag laat verkrummel.

Ironies genoeg is hierdie visioen in ’n skoolrok dikwels salig onbewus van die chaos wat sy veroorsaak tussen die jong bulletjies in haar omtes. Die feit dat sy haar Marmite-toebroodjie met een van die seuns gedeel het, beteken nie noodwendig dat hulle gekys is nie.

Soms is dit maar net wat dit is: ’n halwe Marmite-toebroodjie waarvoor sy nie lus was nie.

Die uitdeel van die toebroodjie word egter as ’n liefdesverklaring beskou, en ’n misverstand is nou onafwendbaar.

Konflik broei tussen die manne wat soos bye om die skoonheid en haar kosblik koek. Die knaap waarmee sy laas week skoolfliek toe was, moet die toebroodjie aan iemand anders afstaan, en nou is die gort gaar.

Dis waar die plofbare situasie agter die fietshokkies ter sprake kom.

Soms is dit bloot ’n deurgangsrite tydens die reis na manwees, en soms word dit gevaarlik gewelddadig.

Gewoonlik is dit maar net ’n gebrom en ’n gespoeg, met ’n kloppie teen die skouer of op die arm vir dramatiese effek (die kamerade wat in ’n kring vergader sal luidkeels die vuur aanblaas), maar soos dit nou maar in die natuur gebeur, sal die alfa-mannetjie as oorwinnaar wegstap.

Die ander ou sal stert tussen die bene die aftog blaas.

Dis hierdie testosteroon-aggressie wat dikwels as volwassenes régte geweld ontketen.

Soms gebeur dit in gemeenskappe wat dit miskien nie breed het nie, en moontlik is die teenstanders perdalks regte-egte gangsters. Hulle is ouer, hulle is kwaad, en hulle voel dikwels met reg verontreg.

Soms is dit bloot ’n deurgangsrite tydens die reis na manwees, en soms word dit gevaarlik gewelddadig.

Wie beheer die straatblok? Wat gee jou die reg om na my goose te kyk? Aan watter groep beloof ek trou? – die lys is eindeloos.

Die kletsrymer Hemelbesem. Foto: Verskaf

En dit, vrinne, is waar ’n bekgeveg inkom. Pak weg die vuiste, sit die mes terug in sy skede, en los die rewolwer tuis. Hier veg ons met woorde, en ons kan jou in ’n Full Nelson vaspen met die taal wat ons gebruik.

Dit beteken nie ek is ’n walkover nie. Dit beteken eenvoudig ek is ’n blitsvinnige denker, ’n slim woordsmid, en iemand wat regtig op my voete kan oorleef.

Dis nie maklik nie, maar die cherries vind dit onweerstaanbaar: dis manne wat breëbors hul teenstander aanvat met ’n taalvaardigheid wat jy min elders aantref. En ja, moenie ’n fout maak nie: dis bietjie soos ’n pou wat sy stertvere uitwaaier tot voordeel van die teenoorgestelde geslag.

Hulle is jonk en hulle is oud, bly in stede en op die platteland, skryf hul lirieke neer of skep dit op die ingewing van die oomblik wanneer hulle freestyle.

Dis maar ’n klein deeltjie van die kleurryke wêreld van die kletsrymer.

Hulle is jonk en hulle is oud, bly in stede en op die platteland, skryf hul lirieke neer of skep dit op die ingewing van die oomblik wanneer hulle freestyle.

Hulle is die kletsrymers, die rappers, en die hip-hoppers wat die straatlewe in hul werk vasvang.

* In hierdie week se episode van Daar’s ’n Plek met Coenie gaan kuier ek en Linda de Jager van Endgame Media agter die skerms en maak kennis met die rap-gemeenskap. Kom woon ’n bekgeveg by en vind uit hoe jy sou vaar as jy moes meeding. Dit alles gebeur hierdie Woensdag om 20:00, net op die VIA-kanaal 147.

Meer oor:  Coenie De Villiers  |  Hemelbesem  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.