Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Daar is pêrels wat ons elke dag verbykyk
Annelie Botes

Soms gebeur dit dat ’n mens jare lank by ’n juweel verbyloop omdat jy dit nie op daardie plek verwag nie. Op ’n toevallige dag ontdek jy dit en staan verstom oor die fraaie pêrels waarvan jy niks geweet het nie.

Naby onse Baai is ’n strandgehuggie, Schoenmakerskop. Soos C.M. van den Heever dig: “Waar ruwe rotse teen die hemel klim . . .”

Wanneer die lewe my omstamp en ek van iewers af krag moet skraap, ry ons soontoe. Tel seepampoentjies en pers slakskulpies op. Luister na die ruising van die see en die klapslae van die branders teen die rotse. Daar is ook ’n restaurant waar ons dikwels koffie drink voor ons huis se kant toe staan.

Bykans teenaan die restaurant is ’n afdraaipaadjie berg se kant toe waarvan ek salig onbewus was. Daar staan ’n bordjie met die woorde Retha’s Trail op. ’n Paar weke gelede sien ek dit vir die eerste keer raak. Terug by die huis tik ek dit op Google in, en daar sit ek oorbluf deur dié pêrel wat ek nog altyd misgekyk het.

Op die eerste Sondag pak ek en die gryse ’n fles koffie in ’n rugsak en ek vat my stapstok, want my siel sal nie rus voordat ek gaan kyk het nie. Hoe een mens met twee hande dit reggekry het om in daardie ruigtes so ’n wandelpaadjie te bou, sal altyd vir my ’n raaisel bly. Maar dat dit emmers sweet gekos het, is nie altemit nie.

Oral langs die paadjie is herinneringe met die natuur versmelt.

Oral langs die paadjie is herinneringe met die natuur versmelt. ’n Ou waterstewel met ’n kliprosie daarin geplant. Moeggewerkte tuingereedskap is aan mikke opgehang. Ou kombuis- en visvanggereedskap en ploegskare.

Verwronge boomstompe behang met toue en bottels wat op die strand uitgespoel het. Plek waar jy jou afgestorwe troeteldier se as kan bêre. Ver meer intens as wat jy jou kan verbeel.

Halfpad gaan sit ek in die skaduwee om my oumensbene te laat rus, en die trane rol. Wie is Retha? Waar het sy die krag getap om dit te skep? Hoeveel jaar het dit haar geneem?

Wat het haar daartoe gedryf? Hoe onderhou sy dit? Watter voete het hier geloop? Watter nood het deur stappers se koppe gegaan; waarvoor het hulle gebid?

Dalk kry ek nooit antwoorde nie. Dit maak nie saak nie, want die weerklanke van ons almal se pyn klink wesentlik eenders. Ontspringend uit swak keuses, lewensfoute, verliese, verlangens, onvervulde drome.

Wie Retha ook al is, sy het haar paadjie vir die publiek oopgestel, sonder om ’n pennie te vra. Ál wat sy vra, is die woorde op ’n plaket wat versoek dat mense dit nie sal verniel nie.

In ons land moet daar talle sulke pêrels wees waarby ons verbyloop sonder om te weet dis pêrels. Plekke van verposing. Van oordenking. Van vergifnis gee en vra. Vir die soveelste maal vliet die Griekse gesegde deur my kop: “A society grows great when old men plant trees whose shade they know they shall never sit in.”

Ek staan regop en lig my hoed vir die onbekende Retha.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Herinneringe  |  Menings  |  Antwoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.