Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Dag as ’n ouer gebore word, is geen speletjie
Annemarie van der Walt
Annemarie van der Walt

Die dogters is nog nie so oud dat ek al kon vergeet het van dawerende deure in bewende kosyne nie, en ’n sin wat ontspring iewers tussen moedeloosheid en opstandigheid: “Ek het nie gevrá om gebore te word nie!”

Kyk, as daar nou ’n enkele sêding is wat my woedemeter onmiddellik in die rooi kan druk, is dit dié een . . . al het ek dit self as tiener teenoor my ma kwytgeraak. Dit het haar net so blitsig kwaad gemaak, en soos sy, sou ek jare later na daardie strooihalm gryp waarmee menige ouer hul kinders dreig: “Wag maar totdat jy jou eie kinders het.”

Gelukkig bedaar almal met die verloop van tyd, maar ek gaan liefs nie die dogters se aandag vestig op Raphael Samuel (27) van Mumbai se veldtog nie: Hy wil sy ouers voor die hof daag omdat hy meen hulle moes sy toestemming gevra het om gebore te word. Die dogters soek hoeka albei verbete na reisgeld, en netnou maak ek slapende honde wakker.

Vergeet nou maar eers van die ingewikkelde tegniese punt van hoe op dees aarde ’n mens jou toekomstige kind om toestemming moet vra terwyl dié nog net ’n glinstering in die oog is, en slaan eerder die hande saam oor Raphael se mening dat ouers kinders kry bloot om hulle te vermaak.

Om borrie uit ’n wit broek te was klink byvoorbeeld absoluut fantasties.

Onmiddellik kom honderd of meer aktiwiteite by my op wat ek vermaakliker vind as kinders grootmaak: om borrie uit ’n wit broek te was klink byvoorbeeld absoluut fantasties.

Raphael verklaar ook “jou ouers het jou gekry pleks van ’n hond of speelding”. Nou ja, as ’n reël is honde gehoorsaam met die grootste voordeel dat hulle nie jou enigste uitgaantoppie skaai nie, nie kan terugpraat of ongemaklike vrae stel nie.

Hoeka het jongste my onlangs onder vier oë gehad: “Gaan Ma oukei wees as Ma nooit ’n ouma word nie?”

Hoe anders sou ek leer hoe volslae weerloos ’n mens kan wees, hoe uitgelewer en broos die hart?

Ek het summier vir ons elkeen ’n glas wyn geskink, baie tydsaam ysblokkies losgewikkel, sommer ook die koelkas se groentelaai skoongemaak en die speserye in die spens in alfabetiese volgorde gepak terwyl ek die omvang van die vraag probeer peil.

My huiwerige “daar ís gans te veel mense op aarde” is met ’n verbete stilte begroet; maklik gaan sy dit nie vir my maak nie. Ek het na die manier gekyk waarop haar mondhoeke plooi, na die moesie in haar nek, hoe sy haar vingers deur haar hare trek en in al daardie gebare was ook die baba, die kleuter, die langbeenmeisiekind wat soos haar ouer suster my leermeesters was.

Hoe anders sou ek leer hoe volslae weerloos ’n mens kan wees, hoe uitgelewer en broos die hart? Op watter manier anders as deur die kinders sou ek weet hoe groot genade is, dat spyt en verlange diepnag ’n ongenaakbare danspaar is, bekommernis yskoud deur are kan vloei en hoe klokhelder lieflikheid soms kan lag?

Dis geen speletjie nie, die dag wanneer ’n ouer gebore word.

Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Dogters  |  Ouerskap  |  Ouma Word  |  Deernis  |  Menslikheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.