SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Dalk soeke na ’n nuwe betekenis
Heindrich Wyngaard

Eens toe ek in ’n kunste-omgewing gesukkel het om sin te maak uit die bombastiese, alwetende leierskap- en bestuurstyl van ’n gesiene man in sake- en akademiese kringe, het Marlene le Roux tot my redding gekom.

Dié hoof van Kunstekaap, ’n baanbreker wat geslag, ras én gestremdheid betref, het my aangemoedig om die betrokke leier se handelinge te beskou as dié van iemand op soek na (nuwe) betekenis, of iemand wat nog ’n nalatenskap probeer bou.

Omgekeerd, en dit moet pynlik vir die individu onder bespreking wees, was dié leier se voorganger iemand wat selfs ná sy oorlye steeds groter aansien as sy opvolger geniet. Maar die nuwe posbekleër het voorgekom asof dit moeilik was om erkenning te gee aan wat vooraf bereik is; het gemaak asof alles van nuuts af gebou moes word.

’n Mens bespeur deesdae iets soortgelyks in die optrede en uitsprake van iemand anders uit die akademie, maar iemand wat, anders as die voorafgenoemde, wél besondere aansien vir homself in die akademie gewen het deur sy prestasies: eerste onderwysdekaan met sy agtergrond, eerste rektor met sy agtergrond (in albei gevalle by histories Afrikaanse tersiêre instellings), en ook met sy leierskap aldaar, sy talle publikasies en sy gereelde openbare toesprake die land oor.

En dit is van onder die skadu’s van die eikebome waar hy deesdae sy afkeur of ongemak met alles wat ruik na Afrikaans te kenne gegee.

Sedert dié leier egter die tuig in sy laaste pos neergelê het – “want niemand behoort vir langer as sewe jaar in so ’n pos te dien nie” (het hy groothartig verklaar) – was hy ’n tyd lank op besoek aan ’n Amerikaanse universiteit, waaroor hy in vervoering raak wanneer hy daarna verwys.

Ná sy terugkeer is hy nogmaals deur ’n histories Afrikaanse universiteit “opgeraap” as ’n navorsingsgenoot – let wel, nie deur ’n histories Engelse universiteit of deur ’n “tuiste van die linkses” nie.

En dit is van onder die skadu’s van die eikebome waar hy deesdae sy afkeur of ongemak met alles wat ruik na Afrikaans te kenne gegee. Maar dalk veralgemeen ek nou hopeloos hier.

Laat ek my eerder net bepaal by wat die professor die afgelope Dinsdagoggend getwiet het: “This morning in a bookshop in Stellenbosch:

Me: Good morning

She: Waarmee kan ek help?

Me: I need stationery

She: Is jy die prof van die Vrystaat?

Me: No, I’m DJ Black Coffee

(now you know why black people sometimes flip because of language intolerance)”

Die reaksie hierop was oombliklik –en die meeste wat gereageer het, het geklink asof hulle onseker is oor wat presies hom pla.

Onthou dat die meeste mense wat die professor ken weet dat hy sowel Engels as Afrikaans magtig is, maar wat almal kennelik nie bewus van is nie, soos hierdie dame in die boekwinkel in Stellenbosch, is dat hy homself bleek sal skrik as jy hom durf as Afrikaanssprekend beskou en aanspreek.

’n Oudpolitikus kon ook nie die professor se reaksie snap nie en het dit durf waag om te twiet dat hy meen hier word na grashalms gegryp. Dit is deur die professor as ’n belediging beskou, waarop hy die “Ashwin incident” bygehaal het: “White and black looking at exactly the same scene and seeing two completely different events.”

Wel, ek is nie wit nie, maar ek wonder self wat in die vrou se reaksie as “taalonverdraagsaamheid” sou kwalifiseer. Was dit nie dalk juis die geval in die professor se houding teenoor háár nie? Of is dit alles deel van ’n strewe om vir homself ’n nuwe doel, nuwe betekenis, as ’n akademiese bywoner te vind? Stel hom aan as viserektor: taalbeleid, sou ek sê.

  • Wyngaard is ’n sosio-politieke kommentator.
Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  Universiteite  |  Akademici  |  Kunstekaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.