Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Dán sou Pase geseënd wees
Jan Lubbe
Jan Lubbe

Die “tyd vir die Pasga is naby” – Johannes 13:1.

Vir Jode en Christene, wéér, soos verlede jaar in Jerusalem.

Die Groot Lydensweek.

Vir baie van ons is dit ’n haastige week vol drukte; voorbereidings om weg te gaan vir die langnaweek, of tuis ’n kamer vir ’n kuiergas gereed te kry, ’n tafel vir ’n maaltyd, ’n gebed, tyd vir kerk toe gaan. Vir die oopmaak van die Skrifte.

Wat sal vanjaar die vrug wees van ons onthou van dáárdie Pasga?

Henri Nouwen skryf in sy boekie The Way of the Heart (1981) dat daar in afsondering en stilword iets binne ons gebore word.

’n Skaars deug: deernis.

Die ingesteldheid om wanneer ek swaarkry sien of van lyding verneem, my in te leef in die flenterskoene, die kreupelloop, die verhongerde lyf, die beangste oë, die weeklag van ’n medemens.

Of dit in Christchurch se moskee is, of in ’n kerk in Nigerië. Of dit ’n vloed in Mosambiek is, of droogte op die Karooknersvlaktes.

Medelye vergelyk nie: Lyding is lyding.

Medelye vra nie eers óf en wát jy glo nie. Medelye stel nie ’n voorwaarde dat jy eers my politieke ideologie moet aanvaar of soos ék moet maak, bid of liefhê nie. Medelye ken nie grense nie.

Medelye beteken dat my innerlike in beweging gebring word – vandaar die woord “bewoë” – deur dit wat met ’n ander gebeur.

In afsondering en stilword word iets binne ons gebore.

Of, soos die Skrifte dit noem: “barmhartigheid”. ’n Wesenstrek van God: Hy is barmhartig en genadig, geduldig en vol liefde (Psalm 103).

En let wel, vir dié Skepper het dit ook nie net oor mense gegaan nie: benewens oor hulle “wat nie weet wat reg of verkeerd is nie”, was Hy óók nog besorg oor diere (Jona 4:13).

God verander en vergewe, want God kry jammer – dís wat sy weerbarstige wegloopprofeet Jona nie kon verstaan nie!

God is die Groot Meelydende.

Geen wonder dat sy Gestuurde ’n storie van barmhartigheid vertel het om te sê: Só lyk medelye – kyk na daardie Samaritaan. Daardie “gift of the giver”. Dat dít Jesus van Nasaret gekenmerk het.

Wanneer sy Naam geroep is – “Here, help!” – het Hy stil gaan staan, die hopelose figuur langs die pad of in die straat of by die put sien lê en hom of haar “innig jammer gekry”.

Ja, medelye is moeilik. Want dis ’n ingesteldheid wat vra dat ek sáám met ’n ander na die plek van sy of haar seer sal gaan; die plek waar hulle swak of weerloos, gebroke of bang, uitgesluit of wanhopig is.

Dis moeilik, want dit vra dat ek my eie weerloosheid in die oë sal kyk. Daarom sê die plek wat ek liewer vermy of die medemens waarvan ek my gesig wegdraai, só veel oor myself.

Dáárdie ongemak – en die onvermoë om medelye te wys – verklap my eie vrees.

Dáárdie ongemak – en die onvermoë om medelye te wys – verklap my eie vrees. Dat ék ook dalk sal moet uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”

In die stilte sal moet wag op ’n antwoord . . .

Vandeesweek en Goeie Vrydag is nodig om ons wat in die voetspore van die Lydende Kneg wil loop, weer te laat stil word en nadink oor ware medelye.

Dat Sy lyding my harde hart, sag sal maak.

Wat sal ons land en wêreld tog nie anders wees as ons sou kon treur saam met dié wat treur nie?

En, sal ons dan uitbundig bly kan wees – Sondag by die oop graf – saam met hulle wat bly is!

Dít sou nou ’n geseënde Paasfees wees!

Die skrywer is ’n leraar aan die NG gemeente Berg-en-Dal in Bloemfontein.

Meer oor:  Pase  |  Medelye  |  Omgee  |  Paasfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.