Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Dans oor die kleurgrens heen
Heindrich Wyngaard

In Desember 1980 het Moegamat Parker, takbestuurder van die meubelwinkel Lans Wanda in Elsiesrivier, toestemming van die staat gevra vir die gebruik van die “wit” Claremont-burgersentrum vir ’n Kerspartytjie.

Nagenoeg 160 bruin mense, 49 Indiërs en 10 wit mense sou dit bywoon, het hy die departement van gemeenskaps­ontwikkeling en owerheidshulpdienste ingelig.

Dat die sentrum as “wit” geklassifiseer was, sou in die taal van die tyd beteken dat “slegs blankes” dit normaalweg sou kon geniet, derhalwe die aansoek vir ’n permit vir die “buiten­gewone” gebruik daarvan.

“Boeta Gamat” het die aansoek op 3 Desember gestuur en ’n telefoon­oproep met ’n amptenaar van die betrokke departement het op 4 Desember gevolg. Die burokrasie was goed geolie, want nie te lank daarna nie het ’n streeksamptenaar die blye tyding gebring: ’n Vergunning is namens Lans Wanda Furnishers toegestaan vir die verhuring van die burgersentrum op 17 Desember vir die Kersparty.

Maar daar was ’n voorwaarde: Die sentrum sou wel vir die “gemengde” partytjie gebruik kon word – mits die wit mense wat teenwoordig sou wees, nie saamdans nie.

Saam eet sou reg wees, en ook seker saamlag. Maar in hemelsnaam net nie saamdans nie.

Saam eet sou reg wees, en ook seker saamlag. Maar in hemelsnaam net nie saamdans nie.

Die brief het sosiale media die afgelope week in rep en roer gehad nadat Sieraaj Ahmed, ’n seun van een van die Lans Wanda-werknemers, dit op Twitter geplaas het. Dit is wyd gedeel – en dit is wyd veroordeel. Sommige het dit voorgehou as ’n voorbeeld van hoe erg apartheid was; ander het dié destydse wet – wat bepaal het dat mense van verskillende rasgroepe nie saam mog dans nie – as absurd afgelag.

Dit is verhale soos hierdie – en dít wat ’n mens gereeld in Die Burger se 50 jaar gelede-uittreksels lees – wat ’n ander land skets, die “geknelde land” waar ons vandaan kom.

Om nóú nog daaroor kwaad te raak, is dalk verstaanbaar, maar uiteindelik ’n vermorsing van energie. ’n Beter reaksie sal wees om aan jou kinders en kleinkinders uit te wys hoe onnosel mense soms kan wees en hoedat onnoselheid nie volhoubaar is teenoor die krag van medemenslikheid nie.

Om nóú nog daaroor kwaad te raak, is dalk verstaanbaar, maar uiteindelik ’n vermorsing van energie.

En om hulle te leer van die hoër waarde van liefde, natuurlik.

Is dit nie ook die temas in David Kramer se nuutste musiekblyspel, Langarm, wat tans by die Fugard opgevoer word nie? Die twee hoofkarakters, Jeff en Angelina, word dansmaats en die liefde blom – hy wit, sy bruin – in ’n tyd wat nóg saamdans nóg liefhê oor die kleurgrens toegelaat het, amper soos “Diana was ’n wit nôi / Martin was ’n bryn boy” in Adam Small se gedig “What abou’ de lô?”.

“De lô” het destyds ook nie toegelaat dat die wit mense wat veronderstel was om die Lans Wanda-meubelwinkel se Kersparty in die “wit” Claremont-burgersentrum by te woon, mag saamdans met die bruin mense en Indiërs wat teenwoordig was nie. En eers nóú, vertel Ahmed se pa, probeer hy beter verstaan waarom sy wit kollegas uiteindelik nié die partytjie bygewoon het nie: Dalk was hulle ontsteld omdat hulle nie sou kon dans nie; of dalk kón hulle nie dans nie. #Lol.

Dit is nou byna 40 jaar later en die (dikwels lagwekkende) wette van destyds is byna vergete. Maar die emosie wat die plasing van “Boeta Gamat” se brief losgemaak het, moet ons terselfdertyd laat besin oor hoe vlak die seer nog lê en hoe ver ons gekom het.

Miskien moet ons 2019-voorneme wees, ná hierdie jaar van soveel rasse-onstuimigheid, om meer dikwels oor die kleurgrens te dans – en lief te hê.

Wyngaard is die aanbieder van Klop! op KykNET.

Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  Rassisme  |  Apartheid  |  Vergifnis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.