Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Dawid Kuyler: Moenie dat verlede jou agterhaal

Net soos ons sukkel om met die verlede in ons persoonlike lewe te handel, so bly dit ’n uitdaging om met die kollektiewe verlede van die samelewing te werk. Vra maar die Duitsers ná die Tweede Wêreldoorlog, skryf Dawid Kuyler. 

Dawid Kuyler

Hoe ouer ’n mens word, hoe meer nostalgies raak jy oor die verlede.

Ons praat dikwels van die goeie ou dae en dit tot ergernis van ons kinders. Dit is so dat ons graag die hoogtepunte in ons verlede wil uithaal en herinterpreteer. Dit is ook reg so. Dan leer ons sommer om ons seëninge te tel.

Maar hoe gemaak as ons verlede dalk nie iets is om op trots te wees nie en ons dalk aankla?

Ons het keuses. Ons kan die verlede verswyg en maak asof dit nie bestaan nie. Dan sê ons: Kom ons vergeet die verlede en kyk vorentoe. Ons kan verklarings bied vir dít wat in die verlede gebeur het en die erns daarvan wegpraat. Ons kan ook die verlede in die oë kyk en daarmee werk.

Hierdie uitdaging om met die verlede gekonfronteer te word is van toepassing op baie gebiede. Ons reaksie word gewoonlik bepaal of ons die held of die skurk in die verhaal is. As ons die held is, dan is ons baie lief vir die verlede. As ons in ’n negatiewe lig gestel word, dan wil ons graag paaie om die verlede loop.

Kom ons dink aan iemand wat sy huweliksmaat bedrieg het. Gewoonlik is dit nie ’n probleem nie, maar as jy uitgevang word, dan is dit ’n ander saak. As jy die slagoffer van huweliksontrou is, dan wil jy graag weet wat het in die verlede gebeur. Was dit die enigste keer en waarom het jou maat dit gedoen? Die skuldige probeer gewoonlik verduidelikings gee of bied berou aan op voorwaarde dat ons van die verlede vergeet en ’n nuwe begin maak. Kom ons begrawe die ou koeie.

Maar ou koeie se reuk het die vermoë om uit die graf te ontsnap.

Mense wat misdaad pleeg, praat ook nie graag oor wat hulle gedoen het en oor hul verlede nie, behalwe as dit is om simpatie by die hoorder te kry.

Wanneer my kollegas en lidmate in die VGK oor die verlede praat, kry ek skaam oor die verlede

Net soos ons sukkel om met die verlede in ons persoonlike lewe te handel, so bly dit ’n uitdaging om met die kollektiewe verlede van die samelewing te werk.

Vra maar die Duitsers ná die Tweede Wêreldoorlog. Ewe skielik was niemand Nazi’s nie en niemand wou daaroor praat nie. Nou sterf Duitsers wat deel was van Nazi-Duitsland en word oorleef deur hul kinders en kleinkinders met wie hulle nooit oor die onnoembare verlede gepraat het nie.

Ons in Suid-Afrika is ook nie die verlede gespaar nie. Sommige wat teen apartheid was, romantiseer die verlede en ander wat dit ondersteun het, swyg of vra: Kan ons nie maar aangaan en vergeet van die verlede nie?

Hoe moet ons maak? Kom ons praat met mekaar oor die verlede en ons elkeen se aandeel daarin. Kom ons wees eerlik en leer uit die verlede. Ons is mense en het foute gemaak – aan albei kante van die spektrum.

Kom ons praat en soek nie om mense skuldig te laat voel nie, maar eerder om skaam te wees vir wat ons aangevang het of toegelaat het om te gebeur.

Skuld help jou nie. Dit stel jou op die verdediging. Skaam wees beweeg jou tot positiewe aksie. Skaam wees maak jou nederig. Skaam wees kan jou beweeg om só op te tree dat jy weer trots kan wees op wie jy is.

Op ’n dag het prof. Yolanda Dreyer haar verhaal vertel oor wat die kerk aan haar gedoen het toe sy die roeping gekry het om predikant te word. Haar verhaal is ook die verhaal van vroue in baie kerke.

Alhoewel ek nie soos sy aan die Nederduits Hervormde Kerk behoort nie, het haar verhaal my baie skaam laat kry, omdat ook in my kerk ons in die verlede skuldig was aan die onderdrukking van vroue.

Wanneer my kollegas en lidmate in die VGK oor die verlede praat, kry ek skaam oor die verlede, maar dit gee my ook moed om só op te tree dat ons nie weer dieselfde foute maak nie.

So ’n jaar of wat gelede het ek saam met my kollegas die Apartheidsmuseum in Johannesburg besoek en daar word jy met die verlede gekonfronteer. Dit was ’n goeie konfrontasie. Dit help om jou vir die hede en toekoms voor te berei.

Moenie die verlede begrawe nie. Werk daarmee, verwerk dit. Dit is ’n geloofsaak wat saam met ander aangepak moet word. Kry iemand wat as fasiliteerder in die gesprek oor die verlede kan optree, net soos ons ‘n berader kry om te help in ons huwelik.

Dit is my keuse op persoonlike vlak, maar ook op gemeenskaplike vlak. Dalk moet ons ’n kommissie vir gesprek oor die verlede kry om ons te help om die verlede te verwerk.

Dalk moet ons in ons gemeenskappe sulke gesprekke begin sodat ons gesond kan word en die gif van die verlede kan laat uitbloei.

Moenie die fout maak om te dink dat die verlede sal weggaan as jy dit ignoreer nie. Dit kom spook later weer by jou.

* Dr. Dawid Kuyler is die skriba van die VGK se algemene sinode.

Meer oor:  Dawid Kuyler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.