Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die aarde het ouma se liefde goed verstaan
Aniki Joseph

Vanoggend hang daar boepenswaterdruppels soos onderstebo-sambreeltjies aan die balkonreling.

Laas nag het dit gereën. Pretoria is pers. Herinneringe is my eerste besoekers vir die dag. Ek staan weer langbeen onder die koepel bloureën by Ouma se voorhek. Op ’n groot erf in ’n klein dorpie op die platteland.

Ouma het die aarde hartstogtelik liefgehad. Die aarde het daardie liefde verstaan. Alles wat sy ooit geplant het, het gegroei. Sy het die heel eerste opdrag aan die mens eerbiedig: om die aarde te bewerk. Daar is geplant in die vertroue dat die seisoene sou draai.

Soos altyd voorheen. Bye, erdwurms, naaldekokers, skoenlappers, toktokkies en voëls van elke veer haar taakmag. Daarna het sy saam met ander aardbewoners gewag. Gewag op die stil invloei van die aarde se krag totdat op ’n lentedag die belofte van vrug sou beur.

Die water in die leivore, gevoed uit die Vaalrivier, het selfs soms ’n krap opgelewer. Die drinkwater uit die boorgatpomp se gietysterbek was soet en onbesoedeld.

Daar was altyd meer as genoeg. Die oorvloed is ruimskoots uitgedeel.

Daar was vele druiwepriële, appelkoos-, perske-, moerbei-, vye-, lemoen- en kweperbome in haar tuin. Ons het geweet hoe dit voel om self granate en kwepers te pluk. Hoe dit voel om kaalvoet in ’n appelboom te klim.

Daar was altyd meer as genoeg. Die oorvloed is ruimskoots uitgedeel. Niks is ooit vermors nie. Dit is gepluk, geskil, gekook, ingelê, gebottel, gedroog en gestoof.

Skille, pitte, eierdoppe, hoendermis en dooie blare het ’n doel gevind op die komposhoop. Daar het ek beleef hoedat ’n beeldskone sonneblom op ’n hoop afvalgoed kon gedy. Met ’n regop rug haar kroon op haar groen stam dra. Gesig altyd na die son. Het ek beleef hoedat die vyeboom met die kromste takke jaar ná jaar die soetste vye dra.

Ouma het geglo dat niemand ooit onaangeraak deur ’n mens se lewe mag beweeg nie.

Ouma het geglo dat niemand ooit onaangeraak deur ’n mens se lewe mag beweeg nie. Daarom was daar swaardlelies, rose, papawers en angeliere in haar tuin. Ook jakopregops, selonsroos, vygies en afrikanerblom. Ja, daar was ’n plek vir ieder om te blom.

Laatmiddag, wanneer die hoenders op hul stellasies gaan sit het, het sy haar Singer-naaimasjien oopgemaak. Die voetpedaal getrap dat dit sing. Gebruikte meelsakkies omgesoom vir spierwit vadoeke. Daarna sou sy haarself gaan was en die voete wat haar deur die dag gedra het, invryf met reukolie. Dan sou sy in haar binnekamer haar siel voed met geestelike brood en ’n dank­gebed bid. Rustig, vervuld en tevrede aan die slaap raak.

Buite sou die soel aandlug die geur van jasmyn dra terwyl daar vuurvliegies tussen die palmiete langs die watervore baljaar.

Daar is ’n tyd vir elke ding op aarde. Aan die einde van al die seisoene klaar geleef, het sy soos ’n ryp gerf koring neergebuig na die aarde.

Haar nalatenskap diep gewortel.

Die naweek gaan ek ’n boom plant.

In my piepklein tuin in ’n groot stad.

Meer oor:  Liefde  |  Sielsgoed  |  Ouma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.