Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die avonture van ’n ryloper

Hy het van die lekkerste, vreemdste en mees vreesaanjaende avonture as kind en jongman gehad as ryloper, skryf Jo Prins.

Jo Prins

Die naweek laai ek ’n ryloper op.

’n Vriendelike jong man wat net ’n geleentheid soek om by sy meisie aan die Wes-Rand uit te kom.

Hy lyk op die oog af heel netjies met ’n geleefde jean, tekkies, T-hemp en stapbaadjie. Slenter-rugsak oor die een skouer. ’n Tatoeërmerk, moontlik die boonste gedeelte van ’n vlam, of ’n slang, steek in sy nek bo sy hemp uit.

“Jis oom, dankie!” sê hy, “ek staan seker al amper vir ’n uur daar . . . het al so half begin moed opgee.”

Julian is sy naam. Hy’s van Krugersdorp en het die naweek by vriende in Johannesburg gekuier. “Nou op pad huis toe, maar eintlik maar terug na my meisie.”

“My vriende noem my Jules oom. Jis, die naweek was stout. Stout!”

Ek vra nie vir Jules veel uit oor die stoute naweek nie, maar geniet dié twenty-something se entoesiasme en energie.

Behalwe vir die woord “stout” gebruik hy “luuks” ook baie. Hier en daar ’n Engelse slang-woord en toe hy na sowat ’n halfuur moet uitklim, toe ek ’n ander rigting as sy bestemming inslaan, groet hy met: “Bef*k oom. Baie dankie.”

Toe ek wegry kyk ek so vir ou Jules in die truspieëltjie. Hy eye alweer ’n volgende plek om duim te gooi.

En net só is ek terug in die 1980’s. Self ’n duimgooier, ’n hiker.

Pink Floyd se “Two Suns in the Sunset” (van daai ongelooflike album The Final Cut) draai deur my kop:

“In my rearview mirror the sun is going down, sinking behind bridges in the road. I think of all the good things that we have left undone.

“And I suffer premonitions, confirm suspicions of the holocaust to come . . .”

En net só is ek terug in die 1980’s. Self ’n duimgooier, ’n hiker, op pad see toe vir die dag van die plaas af buite Stellenbosch, of later nog: vir ’n naweekpas huis toe, van Johannesburg af.

Van die lekkerste, vreemdste en mees vreesaanjaende avonture het ek as kind en jongman gehad met dié duimgooiery.

Benewens nou “the tricks of the trade” van die waar en hoe jy moet staan om die beste kans te hê om opgelaai te word, en hoe jy moet lyk, is daar die “hoe ander mense lyk” en wanneer jy maar liefs vir die veld moet hol al staan jy reeds twee uur in die bloedige son by Drie Susters.

Op pad na ’n meisie in Jeffreysbaai

Só bevind ek my een Saterdag op die skouer van die teerpad net buite Caledon, ook op pad na ’n meisie . . . in Jeffreysbaai.

Buite Somerset-Wes, op die Strand-pad, het ’n man met sake in Caledon my ’n geleentheid gegee in sy ou 230E sjampanjekleurige Merc. Ons het heelpad oor rugby gepraat terwyl hy die Merc se “speed control” op 120 km/h vasgemaak het “dat die aasvoëls ons nie vastrek nie”.

Dit was vroegoggend, maar nou staan ek hier teen die bult op die N2 buite Caledon, en dis al goed middag.

Die min karre wat daar verbyry (dis so Maart, April) kom met ’n vaart aan om nie spoed teen die bult te verloor nie; daar’s g’n sprake van stop nie.

Ná sowat twee, drie uur, al goed gatvol, gooi ek so in die loop (want jy loop maar teen die verveling) ’n lustelose duim vir ’n aankomende kar.

Daar is nie ’n kans nie, dink ek. Ook ’n ou Merc, maar die kar lyk swaar gelaai en leun behoorlik ín sy agterwiele in.

Binne sit vyf mans die motor stampvol.

Seker so 200 m verder sien ek die remligte aanslaan.

Vrek, dink ek. Wat wag hier op my.

In trurat draai, swaai die kar heen-en-weer soos die bestuurder die lyn probeer kry en hulle stop vlak voor my en die agterste passasierskantdeur swaai oop.

Binne sit vyf mans die motor stampvol. Die twee heel grootstes voor en agter die res.

“Waagheen gaat jy tjom?” vra die bestuurder met ’n sterk Swartlandse bry en die manne agter dik van die lag.

“Ons kan jou mos nie hieg langs die pad los nie.”

Die middelste man het boonop ’n groot bak gegeurde rys met hoender op sy skoot.

Dit blyk hulle is op pad Groot Brakrivier toe en hierdie is nie ’n grap nie, hulle “sal ma squeeze” om vir my agter plek te maak.

Die middelste man het boonop ’n groot bak gegeurde rys met hoender op sy skoot en dié porsies “wat eintlik vir die Groot Brak-paartie bedoel is” word so ver ons ry onder die manne uitgedeel.

Natgesweet en oorhoeks toe dikgevreet aan die hoender, klim ek die aand dankbaar by Groot Brak uit die motor uit. Hulle nooi my ook om oor te slaap . . . die meisie in Jeffreys sal eers moet wag.

En net daar draai ek om, om te kyk of ek nie weer vir ou Jules in die hande kan kry nie.

* Jo Prins is ’n vryskut-joernalis van Johannesburg. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Jo Prins  |  Jeffreysbaai  |  Somerset-Wes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.