Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die dag toe Mike Mechanic begin skiet het

Toe Mike Mechanic een Oujaarsaand ’n begeesterde heildronk instel op die liefde, het niemand hom geglo nie. Kan dit wees dat sommige mense net nie getrou kan bly nie? vra Erla-Mari Diedericks.

Erla-Mari Diedericks

“Party mense kan net nie getrou bly nie. Daai verloofde van jou het rondgeneuk.”

Mike Mechanic het nog nooit doekies omgedraai nie.

Dit was die jare 90’s, ek was 27 jaar oud en al my drome was eensklaps verpletter. My verloofde het my gelos. ’n Maand voor ons troue. Net so. Uit die bloute.

Mike Mechanic het gesnork.

“Niemand loop sommer net uit die bloute nie. Daar is ’n ander vrou.”

Patricia het haar nuwe lewe in Kaapstad aangepak met stywe luiperdvel-spandeksbroeke en paaldanshakke...

Mike Mechanic het in die woonstel langsaan myne gebly saam met sy vrou, Patricia.

Hulle was oorspronklik van Alberton (sy het dit uitgespreek as Al-burt-un) en Patricia het haar nuwe lewe in Kaapstad aangepak met stywe luiperdvel-spandeksbroeke en paaldanshakke. Haar hare was bloedrooi gekleur en sy het elke dag ’n strooihoed probeer dra. Dit het maar gesukkel in die Kaapse wind.

Patricia van Alburtun het onmiddellik in my hart gekruip. ’n Kettingroker, soetwyndrinker en ’n verteller van swak grappe. Mike Mechanic was haar tweede man. So hard as wat Patricia probeer het om gesofistikeerd te wees, so kommin was Mike Mechanic. Maar selfs sy blink ketting, dik borshare en sy vieslike gewoonte om sigaretstompies in die see te gooi, kon nie sy vlymskerp brein verbloem nie.

Mike Mechanic was ook ’n kenner op die gebied van affairs, want albei sy vorige twee vroue het hom verneuk.

Een Oujaarsaand het hy begeesterd ’n heildronk ingestel op die liefde. Ons was almal teen daardie tyd dronk. Dit was 03:00 in die oggend. Dié tyd wanneer die spoke begin loop en die drank begin praat.

As ’n vrou my ooit weer verneuk, skiet ek haar dood.
Mike Mechanic

Meteens het hy ernstig geword, sy oë twee donker, ondeurdringbare poele.

“As ’n vrou my ooit weer verneuk, skiet ek haar dood.”

Ons het histeries gelag, Patricia die hardste van almal. Ek het nog ’n foto van daardie aand. Ek het jonk en gelukkig gelyk. Patricia het oorkant my gesit met haar glasie in die lug, haar kop verleidelik agteroor. Mike Mechanic se rug was na die kamera gekeer.

Mike Mechanic was natuurlik reg oor my verloofde.

Daar was iemand anders. ’n Slim, wulpse blondine wat hy by sy werk ontmoet het.

Ons troue is gekanselleer. My trourok het ek nooit aangepas nie. Die Mount Nelson, waar die troue gehou sou word, het ek vir jare soos die pes vermy. Ek het ook getrek uit die woonstel wat ek met my verloofde gedeel het.

Ek het hart en mond belowe om kontak met Patricia en Mike Mechanic te hou. Maar ek sou hulle nooit weer sien nie.

Een koue reënerige aand het Mike Mechanic hul kombuis binnegestap met sy wit-en-appelkoos gespikkelde mure. Dit was ’n nuwe verftegniek wat Patricia probeer het. Sy was baie trots daarop. Vir haar was dit die hoogtepunt van sofistikasie.

Patricia was besig om aandete te maak. ’n Glasie soetwyn het op die kombuiskas gestaan. ’n Sigaret het in die glasasbak gesmeul.

Mike Mechanic het langs haar kom staan. Hy het effens teen die kombuiskas geleun. Dalk het hy selfs ’n sluk van haar wyn gevat. Toe het hy vir haar net een vraag gevra.

“Patricia, is daar iemand anders?”

’n Mens kan net raai wat haar antwoord was. Het sy aanvanklik ontken dat sy en haar jonger kollega ’n affair gehad het? Of het sy snikkend gebieg?

Ons sal nooit weet nie.

Mike Mechanic het bly skiet totdat net een patroon oor was. Bloed het die wit-en-appelkoos gespikkelde mure gevlek soos roosblare.

Toe het Mike Mechanic die pistool in sy mond gedruk en die sneller getrek.

Want party mense kan net nie getrou bly nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.