Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die dominee en die kos wat vir ons gesterf het

Om die kos op jou bord “aandagtig” te eet en sodoende bewus te wees van iets groters het ’n manier om ’n mens te 'aard', glo ds. Rudi Swanepoel van die NG gemeente Andrew Murray in Johannesburg. Jo Prins het by hom ingeval met kaas en croissants.

Ds. Rudi Swanepoel van die NG gemeente Andrew Murray in Orchards, Johannesburg, glo daarin om “aandagtig te eet”. Foto: Jo Prins

In ’n klein voorstad in die noordooste van Johannesburg is daar ’n jong dominee wat dinge anders doen . . . ’n dominee wat aan’t roer is, wat selfs aan’t boer is hier ín die stad.

Loop jy op ’n Maandagoggend by die NG gemeente Andrew Murray in Orchards in, is dit op die oog af sake soos gewoonlik: die gebou met sy binnewerking, mense wat kom en gaan vir die een of ander sessie en die dominee, Rudi Swanepoel, wat mense hartlik met die hand kom groet.

“Ek is Maandae af,” lag Rudi, dié dat ons so in die begin van die week met mekaar praat.

Sondae is dit natuurlik skouer aan die wiel.

Die reuk van gemaalde koffie hang in die kombuis en ’n vroeë winter se skaam sonnetjie val deur die huis.

In die pastorie (noem ’n mens dit nog vandag ’n “pastorie”?) verklap Rudi ’n geheim of twee oor hoe presies hy sy grasperk so groen hou en ons groet vinnig sy vrou, Carina, soos ons koffie kry in die kombuis.

Die bone, sê Rudi, is ’n spesiale mengsel wat sy dogters bewimpel het en hy val dan weg om te maal.

Die reuk van gemaalde koffie hang in die kombuis en ’n vroeë winter se skaam sonnetjie val deur die huis.

Hy gebruik nie ’n fancy masjien of iets nie. Sy kontrêpsie is ’n ou Italiaanse ene, van daais waar jy die koffie onderin gooi, op die stoof neersit en dan sypel die kokende water déúr die koffie boontoe.

Aards, dink ek.

Vreugde in die alledaagse

Rudi in sy kombuis besig om ’n spesiale mengsel bone vir ons ontbytkoffie te maal. Foto: Jo Prins

En dis dalk die boodskap van die dominee, dié Comrades-hardlopende, broodbakkende dominee – om geaard te wees. Dat ons altyd maar altyd ons plek binne die groter siklus verstaan en in dankbaarheid daardie plek inneem en ten volle daarmee leef.

In sy pas verskene boek, Kom sit aan (Lux Verbi), skryf Rudi oor hoe ’n mens vreugde in die alledaagse kan vind, maar dis g’n “boekie” met lessies en prekies nie – dis ’n gids daartoe om meer aandagtig en teenwoordig te leef.

Ja, natuurlik het Rudi ’n Christelike inslag, maar telkens met die lees van die boek kom ’n mens onder die indruk dat dié vertrekpunt amper skatpligtig is, dat hierdie groen-boodskap waarskynlik veel wyer geïnterpreteer kan word.

In die hoofstuk “ ’n Verbond met ons voedsel” skryf Rudi daaroor om aandagtig te eet . . . “om die spiritualiteit van kos, produkte, voorbereiding en genot te bedink en te waardeer”.

Ook die idee dat iets – ’n dier of plant – sy lewe moes aflê sodat ons nuwe energie hieruit kan put. Die offer van dit wat op jou bord is.

’n Bewuste gesindheid van dankbaarheid, dus. Nie ’n verbruikerskultuur van net neem en eet nie, maar met ’n fokus op die ketting en ineengeskakeldheid van lewe en dood.

“Kyk, kos en eet is vir my ’n liefde en ’n belangstelling –en ongelooflik baie van my lewe draai maar so ’n bietjie daar om,” val Rudi met ’n glimlag weg.

Maar dalk kan kos en eet die manier wees om ’n mens te help om hier te wees.
Rudi Swanepoel

Dié ekstrovert het met die skryf van Kom sit aan so effens gaan torring aan die introvert wat daar agter in hom skuil, maar, sê hy, die dissipline van sit en skryf is “mos nou nooit ’n slegte ding nie”.

Maar dié idee van aandagtig eet? Waar kom dit vandaan?

“Alles is mos maar konteksgebonde. So, in myself, struggle ek met my verhouding met my foon. Ek weet dis ’n verskriklik onontbeerlike tool, maar op baie tye voel dit ook vir my dis ’n ding wat in die pad is.

“As ek kinders sien wat hul ouers se aandag probeer kry, of mý kinders toe hulle klein was veral . . . ’n Deel van hiérdie onderwerp (in onder meer die boek) is aandag. Waar is ons aandag?”

Rudi sê sy gewroeg oor wat die tyd waarin ons leef aan ons doen en die gebrek aan “teenwoordigheid” of “beliggaming”, was deel van die proses om eindelik by ’n boek en dié boek oor kos uit te kom.

“Om te sê, maar dalk kan kos en eet die manier wees om ’n mens te help om hier te wees. Om te sê, dit is wat ek nou het, hier’s nou ’n croissant voor my, daar’s emmentalerkaas en wie’s nou by my en wat gaan nou hier aan?

“Dit gaan ’n bietjie oor plek en daaroor om beliggaamd te lewe.”

’n Verhouding met kos

Wanneer die praat meer driftig en besig raak, trek Rudi sy baadjie uit en maak sy hemp reg. Hier kom ’n preek! Foto: Jo Prins

Rudi borrel behoorlik.

Hy trek sy swart donsbaadjie uit en hang dit oor die rug van die stoel langs hom. Ook sy bril kom af. Dan trek hy sy blou hemp se moue reguit tot by sy polse en die hande werk soos hy praat.

En kan hom sien daar op die kansel. Maar dié verhouding met kos het hom in ’n vorige tyd, amper in ’n vorige lewe, in die moeilikheid gehad toe hulle sowat 12 jaar gelede ’n “restaurantjie” in Bedford in die Oos-Kaap gehad het.

“Die idee daaragter was soos volg,” skryf hy in Kom sit aan.

“Ek het dit beskou as ’n uitbreiding van ons eetkamer, met die verskil dat ons gaste betaal het om te kom eet.

“In dié tyd het ek meer geleer as in die voorafgaande 34 jaar. Ek het ook meer gedroom. En onder meer geleer dat ’n mens nie jou personeel kan betaal deur net te droom nie.”

Daar is wonderlike goed in die Bybel wat baie keer misgekyk word, maar óns eet nogal. Die gemeente eet nogal.
Rudi Swanepoel

En hoe staan sake vandag? Hoe ervaar sy gesin, vrou en vier kinders vandag sy verhouding met kos?

“Kyk, die kinders is nou 18, 16, op pad 14 toe en tien, maar dit (die verhouding met kos) is maar eintlik ons normaal. Dis vir ons belangrik om by die tafel te sit.

“Wat vir my baie interessant is, so drie weke terug het ons ’n baie besige week gehad. En hier by die Donderdag is een van ons kinders, ek sal nie name noem nie, effens knorriger as gewoonlik.

“Ons vra toe vir haar wat is fout? Toe sê sy: ‘Ons het baie lanklaas saam geëet’.”

Dié eenvoudige gebaar van saam aansit, sê Rudi, het ’n samebindende krag, al word daar nie altyd aan tafel oor dinge saam gestem nie.

En dié saam etery, hoe trek hy dit deur na sy gemeente toe?

“Die groter doel daarvan ‘om gemeenskap te bou’ kan nie net oor praat gaan nie – dit moet oorgaan in saam eet. Daar is wonderlike goed in die Bybel wat baie keer misgekyk word, maar óns eet nogal. Die gemeente eet nogal.”

Rudi sê hulle probeer ook om die net effens wyer te gooi in terme van wie saam eet, “want ’n mens kan so maklik net eet saam met die mense wat jy verkies”.

“Daar is juis ’n bietjie magic wat gebeur wanneer jy met ’n wyer kring mense eet. Ons probeer dit doen.”

’n Dood wat uitmond aan die lewe

Die skaam wintersonnetjie bied darem tog iets vir die siel. Foto: Jo Prins

Daar is ’n toneel in die James Cameron-rolprent Avatar (2009) waar die een karakter ná ’n jag die dooie dier in ’n tipe ritueel bedank vir die lewe wat afgelê is en dat dié lewe se energie nou oorgedra gaan word dat ander kan lewe.

Ja, sê Rudi, hy het nogal dié toneel in sy kop gehad met die beskrywing van bewustelik eet en hoedat ons waardering, maar méér as dit, ’n dieper verstaan moet hê van presies hoe die lewe vir ons geskep word.

Ten nouste hiermee saam, sê Rudi, is juis dié verhouding tussen lewe en dood, en as ons anders oor die dood begin dink, gaan ons ook anders oor die lewe begin dink.

Maar as ’n mens onthou dat elke liewe ding wat jy eet, élke ding – selfs iets wat van meel gebak is – was óf ’n plant of kom van ’n dier of was die dier self. Ek dink as ’n mens met daai bewustheid lewe, laat dit jou voel dat jy deel is van iets groter.
Rudi Swanepoel

“As ons vanuit ’n Christelike perspektief praat, is die kern van die verhaal, as jy dit ’n verhaal wil noem, ’n dood, ’n grusame dood wat aan die lewe uitmond.

“Maar weer eens, dis ’n gebeurtenis wat sê 2 000 jaar gelede gebeur het en ek kan dit glo en alles, maar dis nie noodwendig deel van my bewustheid vandag nie.

“In die ekstreme vorm beteken dit vir baie mense iets wat lank gelede gebeur het, maar wat eendag eers vir my gaan waarde hê of potensieel gaan waarde hê.

“Maar as ’n mens onthou dat elke liewe ding wat jy eet, élke ding – selfs iets wat van meel gebak is – was óf ’n plant of kom van ’n dier of was die dier self. Ek dink as ’n mens met daai bewustheid lewe, laat dit jou voel dat jy deel is van iets groter.

“Ek weet nie eens of dit ’n woord is nie, maar ek dink dit ‘aard’ jou.”

Die voorblad van Kom sit aan, uitgegee deur Lux Verbi.

Binne dié hele siklus van dinge, sê Rudi met ’n vonkel in die oog, hy dink nie hy’t ’n obsessie met brood nie – en dan spring hy op en gaan haal ’n potjie suurdeeg in die spens.

“Hy’s nou wild hierdie ene, hy’s aktief,” sê Rudi en hou dat ek kan ruik.

“Oor twee dae gaan hy soos nail polish remover ruik.”

Dan lág hy!

Net buite die kombuis is die dominee se lêhenne besig om deur hul oggend te skrop. In sy boek beskryf hy hulle heerlik tong in die kies as ’n reënboognasie: “ ’n Paar is amper wit, enkeles is bruinerig en ’n groepie is na aan pikswart. Die meerderheid is nie wit nie en die bruines was eerste hier.”

Die Hoëveld-sonnetjie voel intussen asof hy darem al iets meer as net ’n gerug is en oor ’n paar dae, sê Rudi, pak hy sy sewende Comrades-marathon.

“Ek voel reg. Kyk, ek is bevoorreg, want ek het mos ’n inwonende fisioterapeut,” sê Rudi laggend met verwysing na sy vrou, Carina.

Maar eers sal daar brood gebak en gebreek word – en die lewe én die dood sal gevier word.

* Jo Prins is 'n vryskutjoernalis van Johannesburg.

Meer oor:  Jo Prins  |  Rudi Swanepoel  |  Kos  |  Eet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.