Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die foto wat van ’n leeftyd se liefde vertel
Petro Hansen

Terwyl ek gewag het vir die lig om na groen oor te slaan het ek gewonder of die bedelaar by die robot se lewe net uit winter bestaan. “Ek is rêrig honger en my kinders suffer, help asseblief,” het op ’n stuk kartonboks gestaan wat hy in sy bewerige hande vasgeklem het. Oral in die strate hang deesdae pienk en wit bloeisels aan die takke. Lente het soos ’n welkome gas Pretoria binnegestap. Fotomooi.

Maar vanmiddag het ’n ander foto sy vingers teen my ruggraat laat afgly. Die skokgolwe het lankal gaan lê, maar steeds spook daardie foto by my. Jy kon dit nie miskyk nie, en jy kon doodgewoon nie anderpad kyk nie. Die oggend ná die vloedramp het die twee pensioenarisse se motor soos ’n uitroepteken verlate voor die onderdak-swembad gestaan.

Foto’s verander ’n mens soms omdat jy deur die omstandighede daarvan verander word. Ek het my lyf destyds verslaggewer gehou en moes in Maart 2014 verslag doen oor die vloed wat veroorsaak het dat ’n gewilde vakansieoord in die Bosveld tot rampgebied verklaar is. ’n Fratsvloed het soos ’n tsoenami die rustige oord Klein-Kariba een Vrydagmiddag net na een getref. Twee pensioenarisse wat in die warm onderdak-swembad naby die restaurant geswem het, is oorval.

Toe ek daar aankom, het ek hul wit motortjie gesien, met modder en slik van die vorige dag se vloed wat by die vensters uitpeul

Toe ek daar aankom, het ek hul wit motortjie gesien, met modder en slik van die vorige dag se vloed wat by die vensters uitpeul. Ek het vasgesteek. Die Bosveldse lug het blou en wolkloos, doodstil bo die verdrinkte vakansieoord gehang. G’n teken van die stormwolke wat die vorige middag oor die oord oopgebars het nie. Die noordoostewind wat die vloed aangejaag het, het soos ’n hond wat skaap gevang het sy lê gaan kry. As ek my oë toegemaak het, kon ek sien hoe die twee verliefde dagbesoekers aan die oord op hul oudag hand aan hand na die binneswembad stap. Nes hulle al die afgelope twee en halwe jaar voor daardie rampspoedige middag elke Vrydagoggend gedoen het. ’n Visvanger het êrens in die takke van ’n witstinkhout naby my geroep asof hy alarm maak en veels te laat waarsku oor die storm wat die vorige dag op die oord afgepyl het.

Tussen hier en die hemel lê daar mos ’n lang reis vol genade. Daarvan kan die vakansieoord getuig, want vandag, ’n paar jaar later, is daar geen teken van die afgeskeurde boomtakke, die opdrifsels, en die restaurantstoele en -tafels wat oor die hele terrein gesaai gelê het nie. Die hoofpad deur die middel van die oord, waar die massavloed van water deur is, is lankal weer begaanbaar.

Ek skuif die foto tussen koerantknipsels terug, die foto wat die storie vertel van ’n leeftyd se liefde wat in ’n oogwink deur die donderende water weggesleur is.

Natuurrampe is verwoestend. Onverwags. En ek dink: Om nie in jou lewe daardie soort liefde te ken nie, die soort wat daardie twee mense in die oomblikke voor hul dood geken het, dit bly die grootste ramp – die heel koudste winter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.