Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die Gees gee jou krag as jy só uitgeput is

Onlangs beskryf die kunstenaar Koos Kombuis ons gesamentlike besorgdhede op helder en ontstellende wyse.

Sy raak beskrywings verdien breedvoerige aanhaling: “Terwyl u hierdie rubriek lees . . . vloei daar rioolwater deur die strate van talle Suid-Afrikaanse dorpies en townships . . . word Suid-Afrika afgegradeer na rommelstatus in die oë van die wêreld . . . word treinwaens afgebrand, infrastruktuur afgebreek, slaggate nie reggemaak nie, verloor mense hul werk, word kinders op straat geskiet of word hulle uit winkeltrollies gesteel . . . word vroue en kinders en oumense geteiken deur misdadigers, lewe boere en plaasbewoners in vrees vir hul lewe . . . sterf demokrasie . . . beleef ons (hier by ons en ook op die res van die planeet) die dood van gesonde verstand, die einde van beskaafde konsensus en bedaarde debatte en die eskalering van onverdraagsaamheid en kollektiewe waansin op ’n skaal ongekend in die sogenaamde moderne era . . . nader talle bedreigde spesies ook hul einde, verstik seediere aan berge plastiekafval, is Australië besig om tot in sy fondamente af te brand en smelt die ys in Antarktika . . .”

Hierdie tabellering van ons besorgdhede het die potensiaal om ’n mens moeg en selfs hooploos te maak. Die Princetonse teoloog Daniel Migliore skryf in sy boek Faith Seeking Understanding oor die wydlopende moegheid en uitgeputheid in die geledere van sosiale aktiviste.

Mense is gewoon barmhartigheid-moeg, geregtigheid-moeg, transformasie-moeg.

Mense is gewoon barmhartigheid-moeg, geregtigheid-moeg, transformasie-moeg. In hierdie konteks van openbare uitgeputheid, voer Migliore aan, groei aandag vir die Persoon en werk van die Heilige Gees. Hy beskryf die Heilige Gees as die krag van God. Calvyn het die Heilige Gees beskryf as God aan die werk in individue, die kerk en die ganse samelewing van mens en plant, dier en natuur.

Die Heilige Gees is God wat kragtig werk in die wêreld om daardie lewe tasbaar te maak waarvoor Christus gebore is, gesterf en opgestaan het. Dit is die lewe van oorvloedige geregtigheid, vrede en vreugde vir almal en alles.

’n Lewe van vryheid van verknegting, vryheid te midde van inperkings, vryheid vir diens aan mekaar. ’n Lewe van gemeenskap en behoort waar almal ervaar ek word eg geken, vertrou, verstaan, aanvaar, waardeer, gerespekteer en vergeef.

’n Lewe waar ek toegerus word met gawes, talente, kennis, waardes en vaardighede om by te dra tot die lewe in oorvloed, die lewe van die hoogste gehalte, vir almal en alles.

Te midde van oorweldigende besorgdhede wat lei tot deernis-kragteloosheid en transformasie-uitgeputheid, weergalm die heilige, hemelse versekering: Medewerkers van die Gees sal krag ontvang as die Gees oor hulle kom (Handelinge 1:9).

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Godsdiens  |  Politiek  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.