Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die geheime van koninklike binnekamers
Annelie Botes

Saterdag het ek kruisbeen wortelgeskiet op my bed. Terwyl ek vir ons Acqua-VLV se Krismismark in Julie kraletjies inryg, het ek heel betower na die koninklike troue gekyk.

Elegante uitrustings, morning suits, ontwerpershoede wat ek nie weet hoe dit vasgespeld is nie, want as ék so ’n hoed moes dra, sou dit lankal straataf gerol het.

Gesnyde grasperke, perfek gesnoeide struike, dakhoogte rangskikkings van wit rose. Juigende skares en waaiende vlae. Koetse en blinkswart perde. Die onverstoorbare koninklike protokol.

Gedoriewaar, om in Windsor-kasteel te werk moet ’n mens seker dikke boeke uit jou kop leer en 100% vir al jou eksamens kry.

Ek het op die internet gaan kyk na die binnekant van die kasteel. Hoe ’n mens in daardie prag en praal spelende kinders kan grootmaak, gaan my verstand te bowe.

Maar van alles is ek die meeste deur die koningin en prins Philip gemesmeraais. Vir ’n man van 96 wat onlangs ’n heupoperasie ondergaan het, is hy nog so regop soos ’n laaistok. Op 92 is die koningin nie meer so meerkatregop nie, maar sy stap nog flink en statig en sonder ondersteuning op haar hofskoene.

Koninklik of te nie, daardie twee mense is deur diep driwwe in hul lewens, veral met die stormwinde wat hul kinders veroorsaak het. Hulle moes ongetwyfeld menige nag in hul koninklike kooie rondgerol en met die gestyfde lakengoed gestoei het.

Om 66 jaar lank die koninklike fort te hou moet emosioneel uiters veeleisend wees. Om in daardie 66 jaar geen skandes in hul persoonlike joernaal te skryf nie is merkwaardig.

Met dié verskil dat ons minder hoofbrekens as hulle het.

Nou is hulle by die tyd van die Prediker. Wanneer die amandelboom in bloei staan en die malers ophou maal. Wanneer die mens opstaan as die voëls begin sing al hoor hy geen geluid meer nie. En die onafwendbare oomblik wanneer die silwerdraad breek.

Tog is hulle net mense, soos ons. Ek wonder waaroor praat hulle voordat hulle die bedliggie afsit. Krap hy haar rug waar sy nie kan bykom nie? Vergeet hulle soms om voor aandete tande te borsel?

Vertel hulle hul nagdrome vir mekaar? Kyk hulle met ’n meewarige glimlaggie na Whats­App-foto’s van die kleinkinders?

Help sy hom om sy wintersvoete in te vryf met iets soos samboksalf? Lê hulle lepel en luister na mekaar se asemhaling in sneeunagte? Voel hulle soms nutteloos en rigtingloos, soos die sprinkaan wat homself moeisaam voortsleep?

Ons sal nooit weet wat in hul binnekamers aangaan nie. My vermoede is dat hul binnekamers maar net soos ons almal s’n daar uitsien.

By nr. 22 is ek en die gryse koning en koningin. Met dié verskil dat ons minder hoofbrekens as hulle het.

As iemand vandag aanbied dat ons môre met hulle plekke kan ruil, sal ek dit afwys. Leonardo da Vinci het gesê: “Simplicity is the ultimate sophistication.” 

Meer oor:  Annelie Botes  |  Rubriek  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.