Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die gemeente wat besluit het om 'n kliniek te bou

In hierdie ruimte is al telkemale geskryf oor die behoefte daaraan dat die middelgrond sterker na vore tree – by gebrek aan ’n beter beskrywing.

Dít om te help stabiliseer aan ’n gemeenskap wat op plaaslike, nasionale en internasionale vlak letterlik uitmekaargetrek word deur moeilike ekonomiese omstandighede. En owerhede wat nie meer die nodige dienste kan lewer nie.

Die Verenigde Nasies, Wêreldbank en Internasionale Monetêre Fonds verklaar reeds openlik dat regerings van tradisionele state, soos ons dit ken, nie meer alle dienste sal kan lewer nie. Dit skuif die onus na die private sektor – wat dit sal doen as die wins reg is – maar veral na die burgerlike samelewing en verwante organisasies.

Moeiliker wordende sosio-ekonomiese omstandighede en die kwynende gehalte van staats­leierskap in die vorm van opportunistiese beroepspolitici lei tot erge ongedurigheid. Houdings verhard en radikaliseer. En die populistiese pole word gevoed. Daar is ook op plekke ’n swaai na ’n meer fascistiese regsheid – dan eerder minder regte en bewegingsvryheid, solank iemand net orde en doeltreffende regering kan bring, is die versugting.

Deel van die veronderstelde stabiele en waardegedrewe middelgrond sou dan ook die kerk wees. En het enige vorm van kerk nie deesdae ’n maalkolk van omstredenheid geword nie?

In vandag se koerant slaan André Bartlett, nuwe moderator van die NG Kerk se Hoëveld-sinode, die spyker op die kop wanneer hy gevra word hoe die kerk oor sy rol moet herbesin: “Ek dink deur binnekerklike gesprek op ’n gesonde vlak te kry – iets wat die laaste klomp jare sleg was, die binnekerklike gesprek het venynige, kwetsende kante gekry.”

Wat hy definieer, geld diskoerse op byna enige samelewingsterrein, van politiek tot selfs lesers se deelname aan mediaplatforms.

Maar intussen, op hul eie mikrovlak, het die NG gemeente Tygerpoort in Shere, Pretoria, besluit om ’n kliniek te bou.

Maar intussen, op hul eie mikrovlak, het die NG gemeente Tygerpoort in Shere, Pretoria, besluit om ’n kliniek te bou.

Uit op Lynnwoodweg, verby die Safari-kwekery en Silver Lakes, is die gemeente se kerkterrein: ’n boomryke oase – letterlik en figuurlik.

Hulle beoog om die Tshwe­nyega-kliniek (wat “sorg” beteken) se deure in die eerste kwartaal van 2019 oop te maak. Die gemeenskap wat bedien gaan word, strek van Atterburyweg na die ooste, suid van Solomon Mahlangu-weg tot by die ou Bronkhorstspruit-Cullinan-pad en die R25 Bronkhorstspruit-pad. Dis ’n arm gemeenskap uit alle rasse wat hoofsaaklik op staatstoelaes staatmaak. Sommige inwoners werk en woon op plase en kleinhoewes, maar werkloosheid is algemeen en talle is in plakkerskampe.

Die verpleegkliniek gaan hom onder meer toespits op inentings, babasorg, tuberkulose, MIV/vigs-sorg, chroniese toestande, alledaagse siektes soos oorontsteking, gesondheidstoetse en wondversorging. Daar gaan ook groepsterapie, ’n opleidingslokaal en biblioteek vir die personeel en pasiënte wees.

Hopelik inspireer dit ander instellings en mense om die nodige verskil te maak. Al is dit stap vir stap met kleiner projekte. Dit sál ’n verskil maak.

Beukman is redakteur van Beeld.

Meer oor:  Barnard Beukman  |  Finansies  |  Bou  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.