Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die grootste brander is nie vir jellievisse
Esté Gross

Vandag, presies ’n jaar gelede, het die Brasiliaanse branderplankryer Rodrigo Koxa iets vermag wat baie sou sê vir hom onmoontlik is. Hy het die wêreldrekord opgestel vir die grootste brander wat tot nog toe gery is. Die brander was 24,38 m hoog, gelykstaande aan ’n agtverdiepinggebou.

Maar om dié hoogte te kon bereik moes Koxa eers sy eie vrees oorwin. Vrees het hom lank lamgelê nadat ’n reusebrander hom in 2014 so byna na die hiernamaals gestuur het. Koxa het gesê: “Ek het lank nagmerries gehad oor hoe ek teen die rotse onder Nazaré se vuurtoring te pletter geslaan word. Ek het opgehou om te waag en ek het opgehou om groot golwe te ry.”

Koxa beskryf dit as die donkerste tyd in sy lewe. Sy borg het onttrek en hy het byna alles verloor. Maar sy span en sy vrou het hom bly ondersteun en hom gehelp om sy vrees te oorwin.

Ná byna ’n jaar waarin hy die groot branders vermy het, het hy teruggekeer en weer probeer: eers die middelslagbranders en toe die grotes. Dit het deursettingsvermoë, durf en ondersteuning geverg van mense wat in hom bly glo het.

Drie jaar later, op die einste plek wat hom in sy drome geteister het in Portugal, Nazaré, het hy die grootste brander in sy lewe tot op die kruin gery en oorwin.

Oor dié dag sê Koxa: “Ek dink ek het die vrees iewers anders gesit, ek weet nie waar nie, maar toe ek op die brander was, was ek nie bang nie – dit was die beste oomblik van my lewe.”

Ek dink ek het die vrees iewers anders gesit, ek weet nie waar nie.

Baie Suid-Afrikaners staar groot branders in die gesig. Die resessie, hoë brandstofpryse, kospryse, die droogte en die moontlikheid van uitdiensstellings.

Die groot branders wat voor jou verskyn, het jy dikwels nie eens, soos Koxa, gaan soek nie. En jy is dalk, nes hy, lamgelê en te bang om weer op te staan. Branders leer ’n mens soms baie van jouself. Om in die diepkant te swem, verg dapperheid en leer jou waagmoed en deursettingsvermoë wat jy dalk nie eens gedink het jy het nie.

’n Koordirigent op skool het altyd gesê jellievisse swem nooit stroomop nie. En ek dink ’n mens moet alles doen om nie gesteek te word deur ’n jellievis nie. Jellievisse is daar om al dobberend en in somberheid almal om hulle net stroomaf te trek. Vermy jellievisse en sluit aan by ’n skool visse wat lief is vir stroomop swem en saam glo dat hulle groot branders kan trotseer.

Koxa het die dag toe hy die rekord opgestel het, gesê hy is self in verwondering daaroor dat hy op die oomblik wat hy die grootste brander in sy lewe gery het, die einste reus wat hom die ergste katastrofiese gebeurtenis moontlik laat vrees het, nie ’n greintjie vrees gevoel het nie.

Op dié oomblik het Koxa nie net op die kruin van die hoogste brander in die geskiedenis gesweef nie, hy het ook op dié dag die mag van vrees oorwin. Durf die grootste golwe aan en swem stroomop in die hooggety. Die grootste brander in jou lewe is dikwels waar jou grootste oorwinning wag. Jý sonder ’n greintjie vrees.

Meer oor:  Esté Gross  |  Branderplankryer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.