Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die Here se weë, en ons mense s’n
Barend Vos

‘Ons kan ook slaapplek aanbied,” sê Tom van Heerden. “Vir ’n egpaar. As hulle nóg plek soek, maak ons ’n plan.”

Die Van Heerdens het dit nie breed nie. Net een kyk na die beskeie huisie verklap dit. Maar hulle staan altyd reg om te help waar hulle kan. Hierdie keer is dit een aand se huisvesting vir ’n uitreikspan wat iewers uit die Kaap kom.

“Op pad Mosambiek toe,” het die woordvoerder oor die telefoon aan my gesê. “Ons bly net die een aand by julle oor. En,” het hy bygevoeg, “ons sal graag die kerksaal wil gebruik. Ons maak ons eie kos. Ons wil nie die gemeentelede verdere moeite aandoen nie.”

Hulle het ook hul eie eetgerei, dankie, en hul eie gasbraaiers. En hul eie koelbokse.

Gróót steaks, sien ek toe ek by die vrolikheid gaan inloer. ’n Verskeidenheid slaaie en brood. “Al die vleis is geskenk,” sug die organiseerder dankbaar. “As die ouens daar in ons geweste hoor ons gaan weer op ’n uitreik, maak hulle die hande en harte oop.”

Wawyd oop, het ek reeds met my aankoms by die saal gesien. Al die vier-trekvoertuie is geborg; die borge se name – motorhandelaars, versekeringsmense – staan groot op die deure aangebring. Op almal pryk die uitreiksafari se doelwit: Maak dissipels van al die nasies – Matt. 28:19.

Ek word hartlik genooi om vir ete te bly. Ja, dankie, sê ek, want ek wil graag hoor hoe hulle oor uitreike van hierdie aard dink, en wat hulle hoop om te be-reik. Hoe die beplanning werk, en wie die mense is wat vir so ’n gedurfte onderneming kans sien.

“Nee, alles verloop seepglad,” verseker die organiseerder my. “Dis darem nie die eerste keer dat ons gemeente so iets aanpak nie; dis reeds die tiende of elfde jaar wat ék hierby betrokke is. Daar bestaan dus lank reeds ’n kultuur van uitreik by ons mense.”

Ek kan dit sien. Almal is vrolik en vol grappies. Ou bekendes vir mekaar. Hulle sing uit volle bors “Vir spys en drank . . . ” nadat die rooiwyn geskink is (“alles deur ’n gemeentelid geskenk”), en toe die vleis na elkeen se smaak gebraai is.

Hulle wou nie eens die sjokoladetjies neem wat ek vir hulle op die bed neergesit het nie.

Deurentyd hoor ek woorde en uitdrukkings wat ’n diepe piëteit verraai: “Ons sit op God se skoot”; “Die Gees het vir ons gesê”; “Ons gehoorsaam Jesus se laaste opdrag”; “Ons het skrif gekry”.

’n Maand later verskyn daar ’n dankie-briefie op my rekenaar se skerm: “Geagte dominee/pastoor, ons uitreik na Mosambiek was baie ge-seënd. Ons het altesaam byna 6 000 km gereis en kon meer as 500 Nuwe Testa-mente aan die plaaslike bevolking uit-deel. ’n Groot dankie ook aan borge wat dit vir ons moontlik gemaak het om ’n welverdiende ruskansie in die Wildtuin te geniet. Alle spanlede is dit eens: Volgende jaar maak ons weer so! Aan God al die eer!”

Ek maak afskrifte van die briefie en gaan deel dit uit aan al die gemeentelede wat met die huisvesting gehelp het.

Die Van Heerdens sê dit was glad nie moeite nie.

“Hulle het sommer hier voor in die straat hul four by four se daktent opgeslaan,” vertel Elise.

“Die vrou het gesê hulle gebruik hul eie wasgeriewe, hulle sal ook nie my handdoeke nodig hê nie. Hulle wou nie eens die sjokoladetjies neem wat ek vir hulle op die bed neergesit het nie. Sy het gesê ek kan dit gerus maar vir my huishulp gee.”

Elise glimlag verleë; sy weet ek weet. Maar sy lees die uitreikspan se briefie met aandag en sê: “Ek is saam met hulle dankbaar vir die geseënde uitstappie. Die Here se weë is darem wonderlik.”

Meer oor:  Godsdiens  |  Geloof  |  Wyn  |  Omgee  |  Armoede  |  Liefdadigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.