Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die Hervorming, Martin Luther en Cranach se kuns

Die laaste Sondag in Oktober vier Protestantse kerke Hervormingsondag, gedagtig aan Martin Luther wat op 31 Oktober 1517 sy 95 stellinge volgens oorlewering teen die sydeur van die Kasteelkerk in die Duitse dorpie Wittenberg vasgespyker het.

Hiermee het hy geprotesteer teen kerklike wanpraktyke en teologiese wanvoorstellings, en so ’n hervormingsbeweging ontketen wat ’n radikale invloed op die kerk en samelewing sou uitoefen.

In een van die ander kerke in Wittenberg, die Sint Maria-stadskerk, vind ’n mens ’n besondere altaarstuk deur die skilder Lucas Cranach die Ouere (1472-1553). Luther het talle kere in dié kerk gepreek, en was met Cranach bevriend.

Martin Luther
'n Skildery van Martin Luther in 1529.

’n Skildery aan die onderkant van die altaarstuk het al heelwat kommentaar ontlok, ook deur diegene wat oor die prediking nadink. Die Stellenbosse teoloog Johan Cilliers verwys byvoorbeeld daarna in sy boek Die lewende stem van die evangelie: Nuut gedink oor die basiese beginsels van prediking.

In Cranach se skildery (voltooi in 1547, kort ná Luther se dood) tref ’n uitbeelding van Christus in die middel wat aan die kruis hang eerste die oog. Heel aan die regterkant sien ’n mens Luther op die kansel. Sy linkerhand rus op die Bybel, en met sy regterhand wys hy na Christus. En heel links, in Luther se gesigsveld, vind ’n mens deel van die gemeente (volgens sommige ontleders is Cranach self daar, asook Luther se vrou en seun).

Wat dikwels aangaande hierdie skildery uitgewys word, is dat Luther sy een hand op die Bybel hou, en dat sy prediking daarom in die Bybel gegrondves is. Tog kyk hy nie na die Bybel nie, maar wys hy heen na Christus.

Sonder Christus is die Bybel dus vir hom ’n dooie boek. Elders skryf Luther dan ook: “Wat die Bybel die Woord van God maak, is nie dat dit onfeilbaar is nie, of dat dit as bron van gesag in teologiese en religieuse debatte kan dien nie. Die Bybel is die Woord van God omdat hierin Jesus as die vleesgeworde Woord na ons toe kom.”

Cranach se skildery, soos Luther se teologie, wil die gekruisigde Christus as die middelpunt plaas. Maar dit is ook gou duidelik dat dit nie hier oor ’n dooie Christus gaan nie.

Volgens sommige verbeeld hoe die lendedoek om die gekruisigde Christus gedrapeer is, amper asof dit in die wind wapper, reeds iets van die wonder van die opstanding – ’n gedagte wat in lyn is met Luther se oortuiging dat die lewende Christus lewegewend teenwoordig in die prediking, die sakramente, asook in mense se lewens is. – 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.