Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die kat, die hond en Spiderman

In dié eerste aflewering van Carla Lang se #kouekoffiema-rubrieke skryf sy oor dié Swart Maandag toe Pops die oorblyfsels van haar ontbyt soos ’n hondjie van die grond afgelek het.

Carla LangFoto: Willem van Zyl

Blou (of dalk moet ek sê “swart”) Maandag.

Soek al van voor sonsopkoms Boeta se Spiderman-sambreel. Regterhand weer eens laat – vervoerprobleme. Ek begin senuweeagtig raak, want dit beteken dat ek nie net vir Pops moet saamsleep skool toe om Boeta te gaan aflaai nie, maar ook vir Hond én Kat – want dis tyd vir hul jaarlikse veeartsafspraak.

Ná ’n wilde oggend van in gister se ski pants spring, ’n hoodie oor my kop gooi en hare in ’n bokstert trek (geen grimering, daar’s nie tyd nie), kinders voed en die Spiderman-sambreel soek en soek (want hy móét dit saamneem skool toe), begin ek planne beraam oor hoe ek almal in die kar gaan kry. (Geen direkte toegang tot die motorhuis, so ons moet die reën trotseer.)

Eerste die kat (wat al ’n uur sit en miaau in die badkamer waar ek hom toegesluit het sodat hy nie kan weghardloop nie). Om te sê hy lyk ontevrede is ’n understatement.

Ek troos tot ek darem nie meer haar kleintongetjie kan sien nie.

Ná ’n gesukkel om hom in die hok te kry, loop ek so vinnig ek kan (nie hardloop nie, want die kat is te swaar en ek’s seker die hokbesigheid is al klaar traumaties vir hom) tot by die kar. Sukses.

Terug in huis toe. Die hond begin bokspringe maak en draai in die rondte toe ek haar leiband uit die kas haal – en stamp Pops in die proses om. Niks ernstigs nie, maar vir Pops is dit alles of niks. Ek troos tot ek darem nie meer haar kleintongetjie kan sien nie.

Boeta wil weet of ek al sy sambreel gekry het. Nee, maar ek’t regtig hard gesoek. Kan hy seblief eers myne gebruik? Nee, dit móét Spiderman wees . . . Ek weet nie waar om nog te kyk nie, maar daar’s nie tyd om my verder daaroor te bekommer nie.

Vyf marshmallows

Ek roep die hond en hardloop weer kar toe – hond agterna. Sukses.

Nou die kinders ...

Ek haal drie keer diep asem. Goed, ek kan dit doen.

My seuntjie is op sy te klein driewielfiets, vasgenael voor die TV. Pops oor die ergste hartseer en besig om die oorblyfsels van haar ontbyt soos ’n hondjie van die grond af te lek. Arme tweede kind. Sy sal maar weer in nagklere moet saamploeter – vol no added salt and sugar-grondboontjiebotter.

Boeta weier om saam te werk – Georgie Pig is dan nou in Potato City. Probeer hom omkoop met “vanmiddag mag jy twéé stories kyk”. Onsuksesvol. “Wat van ’n marshmallow?” ’n Flikkering van belangstelling.

“Twee?”

“OK, twee, kom nou net!”

“Nee, VIER! Want ek is vier,” beduie hy woes met sy vingers in die lug. Asof ek vergeet het hoe oud hy is.

“Vier en dit is dít!”

“Vyf!”

“Wat?! NEE! Gaan klim in die kar of daar’s moeilikheid!” Sal nou moet begin dreig. Omkoop werk nie.

Maar Boeta lyk min gespin. Met ’n skeefgedraaide kop vra hy: “Wat’s fout met Mamma se wenkbroue?”

Duidelik is my harder stem en geligte wenkbroue ook onsuksesvol.

“Gaan klim in of jy mag nooit weer Peppa Pig kyk nie!”

“Ek gee nie om nie, het dit al baie gekyk.”

Ek prop vyf marshmallows in sy hand, gryp vir Pops en hardloop in die reën kar toe.

Pops is vasgegordel. Sukses. One to go. 

Néé, Mamma! Spiderman is cool en ek wil my cool sambreel vir my maatjies wys.

Maar Boeta staan op die trap – in die reën – en moan oor die Spiderman-sambreel.

“Ek sê mos my swart sambreel is in die kar, jy kan dít gebruik!”

“Néé, Mamma! Spiderman is cool en ek wil my cool sambreel vir my maatjies wys.”

Ek het opsies: 1. Gee hom timeout. Nee, is reeds te laat. 2. Gee hom ’n hou. Ek’s teen lyfstraf (alhoewel dit ’n oomblik is waarin ek my eie oortuigings bevraagteken). 3. Redeneer verder met hom terwyl ons albei natter en natter word, Kat kerm, Hond my met opgewonde oë en swaaiende stert vanuit die kattebak beloer en Pops begin neul . . .

Spiderman is dit dan.

Ek soek óral. Loop terloops verby die skottelgoedwasser – en wat sien ek? Sowaar. Die uwe: Spiderman. Sukses!

“Boeta, ek het hom gekry! Hy was in die skottelgoedwasser, kan jy glo?”

Ek kry hom steeds op die trap, natgereën; kan blykbaar nie ’n tree verder gee sonder sy Spiderman nie.

“O, ja, ek het dit vanoggend daar gesit. Dit was só vuil.”

Ná nommer 4 suksesvol in die kar vasgegordel is, klim ek in – nat en my ski pants vol grondboontjiebotter.

Met ’n stink spoed stop ek voor die skool (met ’n kermende kat, ’n blaffende hond, ’n neulende baba en ’n tevrede vierjarige) en spring uit. “Boeta, gryp jou Spiderman-sambreel en kom!”

“Nee, ek wil jou sambreel gebruik.”

“Wat?! Hoekom?”

“Want swart is cool en dis mos my gunstelingkleur . . .”

*Carla is ’n ma, vrou, prokureur, redakteur en blogger. Volg haar #kouekoffiema-rubrieke op Facebook, Instagram

en YouTube.


Meer oor:  Carla Lang  |  Ouerskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.