Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Dié kerk in Berlyn het ’n besonderse storie om te vertel

In 1894 is bouwerk aan die Kerk van Versoening in Berlyn voltooi. Die naam van die kerk wou destyds heenwys na ’n alternatief vir die konflik en verdeling wat deur die klassestryd tydens die groeiende industrialisasie van Berlyn in die laat 19de eeu ontketen is.

Aan die linker-voorkant van die kapel vang die oog weer ’n beeldhouwerk van Jesus aan die kruis. Jesus se linkerhand is vasgespyker, maar die regterhand is los en maak ’n seëngebaar

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die kerkgebou wonderbaarlik te midde van bomaanvalle staande gebly. Die na-oorlogse verdeling van Berlyn in verskeie sektore het egter daartoe gelei dat die kerk in die Russiese gebied geval het, terwyl die oorgrote meerderheid van die gemeente in die aangrensende Franse sektor gewoon het.

Die oprigting van die Berlynse Muur in 1961 het ’n verdere hoofstuk van hartseer vir die kerk ingelei. Dit het meegebring dat die kerkgebou nou in die middel van die grensstrook (ook bekend as die strook van die dood) gestaan het. En dus onbereikbaar vir gemeentelede geword het.

Net die grenswagte, wat die kerktoring as uitkykpunt gebruik het, het toegang gehad. Met verloop van tyd het die leë kerkgebou vir die owerhede ’n bron van irritasie geword en in 1985 is dit “ter wille van sekuriteit, orde en netheid” gesloop. Tot groot ontsteltenis van talle oud-gemeentelede.

Ná die val van die muur op 9 November 1989 – vandag 30 jaar gelede – het die gemeente besluit om op dieselfde plek waar die ou kerk gestaan het, ’n kleiner Kapel van Versoening te bou.

Die argitektuur van dié ovaalvormige kapel is besonders. Die kleimure is met stukke rommel van die vorige kerkgebou versterk. Dit dien as teken dat die pynlike geskiedenis van die stad as deel van die kerk se storie onthou moet word.

’n Aantal ander liturgiese voorwerpe van die ou Kerk van Versoening het ook behoue gebly. Met die sloping van die kerk in 1985 het die kruis van die kerktoring afgebreek, en die gebuigde kruis is vandag buite die kapel te siene.

Voor in die kapel vind ’n mens die ou eikehout-altaarstuk, met ’n uitbeelding van Jesus se laaste maaltyd met sy dissipels. Wat veral opval, is die geskende gesigte van Jesus en ’n aantal van die dissipels (die altaarstuk is tussen 1961 en 1985 beskadig). Ook dít dien as simbool om nie die vernietigende effek van konflik, oorlog en verdeling te vergeet nie. Versoening is dus nie goedkoop nie.

Aan die linker-voorkant van die kapel vang die oog weer ’n beeldhouwerk van Jesus aan die kruis. Jesus se linkerhand is vasgespyker, maar die regterhand is los en maak ’n seëngebaar. Wat vir mense te midde van die letsels van die verlede kan laat hoor: Vrede vir julle

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.