Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die kerk is vir Suid-Afrika se uitgeskuifdes

’n Mens moet ’n paar woorde oor die fliek Dominee Tienie sê. Hoe dan anders?

Christina Landman

Ds. Tienie is die wit dominee van ons tyd. Hy het sy status in die gemeenskap verloor. En as hy nie kruip en krabbel voor die paar lidmate wat oorgebly het nie, gaan hy nog sy werk ook verloor.

En dan gaan hulle hom ook dood kry van verwaarlosing op die kerk se trappe. Soos die wit jong man met die MA in sielkunde in sy sak. Daar kry die dominee die jong man onwaardig oorlede voor die kerkdeur.

Dis ’n voorbode, ’n waarskuwing vir ds. Tienie.

Ds. Tienie is die mees onbeskermde werknemer in die land. Daar is nie ’n arbeidswet om hom te beskerm nie. Sy werkgewer is die kerkraad.

En elke kerkraad het ’n ouderling Thys, wat die dominee beheer met oeruitsprake uit die kerkorde en uit die kerk se verlede.

Ds. Tienie moet ongeestelike dinge van die kansel af adverteer. Hy moet soos ’n hanswors aantrek vir ’n troue. En as hy sy heilige spasie teen ’n fotograaf wil beskerm, word hy letterlik die slaansak van ’n lidmaat. En as hy lidmate verloor, kom spreek die Ring hom aan.

En dit terwyl die dominees van die Ring pyn van hul eie het, wat hulle met niemand kan deel nie.

Ds. Tienie is eintlik ’n simbool van al die uitgeskuifdes van ons samelewing.

Ds. Tienie is eintlik ’n simbool van al die uitgeskuifdes van ons samelewing. Om die waarheid te sê, ons word almal uitgeskuif deur klein groepies wat in elke openbare sfeer die mag en die rykdom vir hulself hou.

Dis nie net die wit mans wat die uitgeskuifdes is nie. Dis ook die swart straatmense wat iewers in ’n afgesloofde gebou skuiling soek. En hul verslete ruimte teen ander uitgeskuifdes moet beskerm.

Suid-Afrika is ’n reënboognasie van uitgeskuifdes. Uitgeskuif deur ’n klein groepie regerende elite. Ná 25 jaar kan ons net sê: Van die belofte dat almal sal deelneem aan mag en rykdom het daar net mooi niks gekom nie. Inteendeel.

Mooi so, ds. Tienie, vir daardie treetjie in die regte rigting.

En toe neem ds. Tienie ’n stappie in ’n ander rigting. ’n Stappie weg van kruip en konformeer. Hy vat ’n treetjie saam met die uitgeskuifdes. Hy vat ’n treetjie in die rigting van menswaardigheid en sorg vir mekaar. Hy vat hande met die mense in sy gemeente en sy gesin. En oor ’n bordjie eetgoed reik hy vingers uit na die hongeres daarbuite.

En bemagtig hy hulle om ook plek te maak vir ander uitgeskuifdes.

Van hier af word ds. Tienie se kerk ’n plek waar mense vir mekaar sorg. Die dominee het sorg nodig. Die gemeente het sorg na binne nodig. Die sorg gaan buitentoe.

Mooi so, ds. Tienie, vir daardie treetjie in die regte rigting. Op pad na waar die uitgeskuifdes en die randfigure hande vat en vir mekaar sorg. Want die regerende elite gaan dit nie vir mense doen nie.

En só word die kerk ’n plek waar die uitgeskuifdes kan hande vat en weer ’n community of care kan word. Wat dit veronderstel is om te wees.

Klink vir my na ’n nuttige joppie vir die kerk. En ’n terugkeer na relevansie.

Landman is professor in teologie aan Unisa en ’n dominee in die VGK.

Meer oor:  Dominee Tienie  |  Kerk  |  Ngk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.