Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
‘Die kind wat lees, is bevoorreg’

Lees is dalk vir kinders die eerste tree op ’n pad van groter verdraagsaamheid en medemenslikheid, skryf Willem Fransman jr.

Willem Fransman jr.

Die woorde het vroeg in September behoorlik gevlieg tydens die pas afgelope eindronde van die WOW-leeskompetisie onder laerskole van Stellenbosch,

Die Woorde Open Wêrelde-kantoor van die Universiteit Stellenbosch het met hierdie skitterende idee vorendag gekom om leerlinge weer aan die lees te kry.

’n Span gewillige opvoeders, WOW-personeel, die skrywers Elias P. Nel en Willem Fransman, onder leiding van Marlene Hendrickse en Nathanael Christiaans, is nadergehark om te kom help.

Laerskole in die Stellenbosch-omgewing, te wete die Laerskool Rietenbosch, Laerskool St. Idas, Laerskool Idasvallei, asook die Laerskool Pieter Langeveldt, is genader om medespelers in hierdie loodsprojek te wees. Die sukses hiervan sou die maatstaf wees om dit ook na omliggende dorpe of woonbuurte uit te brei.

Die kompetisiereëls is vooraf aan die deelnemende skole gegee. Dit het bestaan uit ’n leesstuk, wat die leerlinge voor die tyd gekry het om tuis of in die klas hardop te lees, ’n begripstoets, asook die lees van ’n ongesiene leesstuk voor die beoordelaars.

Antjie Krog se woorde

Middel Augustus is geoormerk vir die uitdunkompetisie. Die kompetisie is in twee afdelings, naamlik vir gr. 3 en gr. 6 ingedeel. Aanvanklik het 40 leerlinge deelgeneem.

Soos die program gevorder het, kon ’n mens duidelik leerlinge met leesvaardighede uitken. Uiteindelik is tien gr. 3’s en tien gr. 6’e aangewys om aan die eindronde deel te neem.

Op 10 September is die eindronde in die Erfurthuis in Stellenbosch gehou.

Fiona van Kerwel, wat die amptelike opening en verwelkoming gedoen het, het heel gepas Antjie Krog aangehaal:

“Maak nie saak hoe arm nie. ’n Kind wat lees is ’n bevoorregte kind. Maak nie saak hoe verwaarloos of verlate nie, ’n kind wat lees, is ’n gekoesterde kind. Maak nie saak hoe onverdraagsaam ’n gemeenskap nie, ’n kind wat lees, begryp en verstaan. Maak nie saak hoe geestelik verarm ’n familie is nie, ’n kind wat lees, is ’n intelligente en ingeligte kind. Maak nie saak hoe onmenslik ’n gemeenskap nie, ’n kind wat lees, word ’n menslike kind.”

Anderste atmosfeer

Op daardie dag was daar was ’n ander atmosfeer in die lug. Nie vyandigheid nie, maar die wete dat almal wat in die vertrek teenwoordig is, eintlik klaar wenners is. Selfs die leessessies was ook meer afgerond . . . amper professioneel!

Drie wenners is uit elke groep aangewys. Die wenner in die gr. 3-afdeling was Tisean Robyn (Laerskool Idasvallei). Achmat Moffat (Laerskool Rietenbosch) was tweede en Ashnique Maritz (ook Laerskool Rietenbosch) was derde.

In die gr. 6-afdeling het Jo-Vene Sales (Laerskool Idasvallei) vir Maxine Timmey (ook Laerskool Idasvallei) met ’n kort kop geklop. ’n Baie mededingende Allessandro Donkerman (Laerskool Rietenbosch) was derde.

Lees is dalk die eerste tree op ’n pad van groter verdraagsaamheid en medemenslikheid.

Die Vriende van Afrikaans, wat ook ’n vennoot in hierdie leeskompetisie was, het beloof om elk van die vier deelnemende skole met een van hul gesogte boektrommels te beloon.

Ouers, die organiseerders en die beoordelaars was dit eens: Hierdie WOW-leeskompetisie was net die regte motivering om laerskoolleerlinge weer aan die lees te kry . . . en aan die lees te hou. In ’n wêreld wat toenemend onverdraagsaam word, was dit dalk veral ook vir hulle die eerste tree op ’n pad van groter verdraagsaamheid en medemenslikheid.

* Fransman is ’n skrywer en vryskutjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Antjie Krog  |  Stellenbosch  |  Lees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.