Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die land se droom met JP s’n aan flarde
06 September 2018

Die lewe is kort.

Dit dink ek toe ek JP Bezuidenhout (14) se laaste Afrikaanse opstel lees.

JP, ’n gr. 8-leerling aan die Hoërskool Harri-smith, is Vrydagaand in ’n rooftog in die dorp doodgeskiet.

“Ek wil net gaan om dit te kan geniet en ek beplan dit vir 1 of 2 weke en ook net foto’s te kan neem van visse, plante en skilpe (sic) en vele meer, maar ek is nie meer so mal om met haaie of killerwhyles (sic) te swem nie . . . ,” lui sy opstel oor My vakansie by die see.

Juffrou Elsa van den Bosch, sy Afrikaans-onderwyseres, het met die tweede keer wat hy dié paragraaf herhaal het, die woord “killerwhy- les” (sic) doodgetrek en “moordvisse” geskryf.

Nog voordat hy die opstel teruggekry het, het ’n moordvis in die vorm van ses swaar gewapende rowers oor die tenger seun met die glimlag van Goofy, soos sy juffrou hom beskryf het, se lewenspad gekom.

“Ek wil so graag na die see toe gaan, want my ma sê ons was by die see toe ek nog nie eens een was nie. En dit was saam met my regte pa. Ek wil see toe gaan, want ek wil saam (met) almal in ons of my ma se famielie in die see gaan dyk (sic) en onder water swem . . .”

’n Seun se droom, ’n land s’n, is aan flarde geskiet.

Sy ma, Amanda, is swaar gewond toe die motor vol gate geskiet is. Haar verloofde, Tinus de Fortier, ’n veiligheidswag, het buite die motor stelling ingeneem en op die rowers geskiet.

Ek het Tinus en Elsa se toestemming gevra om sy laaste opstel hier te gebruik. ’n Seun se droom, ’n land s’n, is aan flarde geskiet.

“Dit is ’n eenvoudige kinderlike opstel wat dalk nie die beste in die klas sou wees nie. Maar nou verteenwoordig dit vir my ’n kind se hartsbegeerte . . . iets wat wreed vernietig is,” skryf Elsa vir my. “Ek moes vandag sy naam in my punteboek doodtrek. Aaklige gevoel!”

Net ná haar boodskap op WhatsApp kry ek ’n foto van Tinus van die koperskouer van ’n koeël wat in die Manapo-hospitaal uit Amanda se nek verwyder is.

Tinus, ’n oudsoldaat wat in dieselfde basisse as ek in die Grensoorlog was, verwyt homself vir JP se dood. Hy is opgelei om in só ’n skietery vinnig te dink. Hy moes hulle uit die kar gekry het, het hy gesê.

Niemand in die land mag voor jou supermark, as jy brood en melk wil koop, in ’n oorlog vasry nie, het ek Tinus getroos. Honderde AK47-koeëls het op hulle gereën.

Nou moet hy sy laaste geld vir taxi’s afknyp om na Qwaqwa te reis om Amanda by te staan. En aan ’n begrafnis te dink. Kort daarna kry ek boodskappe van vroue op Facebook wat geld vir Tinus inbetaal.

Tinus skryf: “Dankie. Die geld is om my dogter van Johannesburg by JP se begrafnis te kry.”

“Ek wil gaan om dit te geniet . . . vir die lekkerte daarvan,” skryf JP in daardie laaste opstel. JP het nooit die see gesien nie.

Meer oor:  Moord  |  Sielsgoed  |  Rooftog  |  Brief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.