Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die les van die ‘knaende’ boek wat oral opduik
Annemarie van der Walt

Dis asof die boek deesdae op allerhande maniere in my hande beland, so half opdringerig. Eers val die ding om geen rede kaplaks uit my eie boekrak. Dieselfde boek lê op die jongste se boekrak in haar kamer, sien ek met ’n kuier in die stad, en toe ek ’n gunsteling-boekwinkel besoek – heerlik deurmekaar soos ’n winkel vol tweedehandse skatte moet lyk – beland die einste boek weer in my hande.

The Africa House deur Christina Lamb vertel die storie van Stewart Gore-Brown se koloniale droomhuis in die middel van niks by Shiwa Ngandu naby Mpika in Zambië. Die Britse regering in die destydse Noord-Rhodesië het aan ­Gore-Brown, as veteraan van die Eerste Wêreldoorlog, ’n lap grond toegeken – ’n groot stuk aarde met ingesluit ’n meer en ’n warmbron, Kapishya Springs. Hy het vir hom ’n kasarm van ’n huis laat bou en linne en kristalglase en boeke en tapyte van Engeland laat kom en dit deur sowat 700 km se moerassige landskap laat karwei.

Op hierdie doodgewone middag in die boekwinkel neem die reuk van ou papier my weer terug na ’n besoek aan Shiwa Ngandu jare gelede.

Die gids se naam was Sunday. Hy het opgedaag iewers vanuit die omringende bloekomplantasies of uit een van die kelders van die huis of dalk van ’n houtboot op die Shiwa-meer.

Afrika is ’n jaloerse minnares en eis terug wat aan haar behoort . . . boomwortels beur deur fondasies.

Daar was die ingangsportaal, muwwerig; die tapisserieë teen die mure tam en motgevreet. In die eetkamer met die swaar en donker houtmeubels het ’n sampioen teen die een stoelpoot gegroei. Die verf wou ook nie meer aan die mure klou nie.

Maar om die een of ander rede het die uitsonderlike boekery in Gore-Brown se biblioteek op die boonste verdieping die meeste skade van die muwwerige humiditeit vrygespring.

Kyk, het Sunday deur een van die enorme volumes van Gore-Brown se dagboeke geblaai, so lyk die planne wat aanvanklik opgestel is; so is dit aangepas, en hier is die lys van boumateriaal; hier die notisie van hoeveel bakstene gebak is waar die bloekoms nou staan.

Heelwat later het ons uitgestap op die klein balkon uit daardie biblioteekvertrek en oor die uitgestrekte eens noukeurige tuin gekyk, en met die terugstap deur die leë vertrekke het ek gedag hoe ’n onbewoonde huis soveel vinniger slyt as wat ’n mens ooit kan dink. Daarby is Afrika ’n jaloerse minnares en eis sy terug wat aan haar behoort deur honger boomwortels deur fondasies te laat beur; gryp taai lote om vensterrame, en syfer die ewige klam hitte deur en ín als.

Ek het dit alles onthou in die stil boekwinkel, en gewonder waarom die boek tans so gedurig in my hande opdoem. Is dit om weer herinner te word aan die passie van ’n droom, of as teregwysing hoe vlietend alles op hierdie ondermaanse is, hoe onstandhoudend?

Toe ek die boek wil terugsit op die rak, sien ek die boekmerk raak, maak die boek daar oop: “Just because one lives in Africa, is not to say one cannot do it properly.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.