Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die lewe in ’n waaksaal

’n Onlangse opehartoperasie het MC Botha opnuut oor die lewe en die wêreld laat wonder.

MC Botha: Netjies vasgewerk en toegezip. Foto: Verskaf

Eers word jou borsbeen deurgesaag, daarna word jou ribbes na weerskante van jou borskas oopgetrek soos ’n slagter ’n skaapkarkas oopskeur.

Maar daar binne klop die hart nog sterk, en dít sal nie nou deug nie, want die onvermoeide aortaklep langs die linkerhartkamer het oor tyd uitgewerk geraak en moet vervang word. Knip die aorta dus middeldeur, heg die slagaar aan ’n hart-longmasjien en koppel die pasiënt aan ’n ventilator sodat die liggaam vir eens sonder die getroue hart steeds van suurstofryke bloed voorsien en dus aan die lewe gehou kan word.

Die nuwe klep met sy drie noupassende spitspuntjies, genaamd suile, is skaars wyer as ’n 50c-stuk maar word met die hand in die VSA van beeshartweefsel vervaardig teen R300 000 elk. In dié geval gelukkig dus nie massavervaardig met die etiket “Made in China” daarby nie.

Geen wonder ek voel soos ’n lyk toe ek bykom nie. Letterlik en figuurlik platgetrap.

Van die begin tot die end duur die operasie meer as ses uur lank, dit wil sê presies so lank soos ’n hele dag se toetskrieket, of drie Grand Prix-wedrenne, of meer as vier rugbywedstryde.

Geen wonder ek voel soos ’n lyk toe ek bykom nie. Letterlik en figuurlik platgetrap. Die liggaam is gekoppel aan ’n binneaarse drup en ’n horde pype lei vanaf ’n sentrale punt naby die hart na ’n kleurmonitor wat deurlopend ’n grafiek teken van jou hartklop, terwyl jou polsslag, temperatuur, bloeddruk en ander lewensbelangrike liggaamsfunksies in groen, oranje, blou, rooi en pers syfers vertoon word. Dreineringspype steek by my bors en maag uit en mettertyd besef ek daar is kateters voor en agter, soos ’n olifant ’n stertjie van voor en ’n stertjie van agter het.

Vaagweg hoor ek musiek uit ’n TV-skerm teen die plafon bokant die bed kom, maar dit bots met soveel ander klanke: trollies, pasiënte wat kerm, susters wat bevele uitdeel. Hier – in die sogenaamde m-ICU-vleuel van die Vergelegen Mediclinic op Somerset-Wes – het jy hoegenaamd geen rus vir jou siel nie; daar is slegs ’n dowwe maar aanhoudende pyn wat strek van jou kroontjie tot jou tone. ’n Mens is te bang om hoegenaamd te beweeg, ingeval jou delikate borskas soos ’n stukkie kristalglas knak.

Dit is altyd dag . . .

Agter hierdie deure is die kardiotorakale operasiesaal. Foto: MC Botha

Meteens skiet ’n herinnering van die angiogram die dag voor die operasie jou binne: Hoe ’n dun naaldjie in ’n snit in die slagaar by jou pols geplaas word en van daar opskiet na jou hart. Die vreemde, onplesierige sensasie van ’n vissie wat binne-in jou arm opswem, ’n draai by jou skouer maak en dan net verdwyn, vermoedelik in ’n diep poel bloed in.

Die vissie is daar om te gaan ondersoek instel na die papillary fibroelastoma, ’n langwerpige uitgroeisel aan een van die suile, en daar ontdek die vissie ook ’n paar ander goggas op die twee ander suile. Merkwaardig dat ’n liggaam wat 64 jaar lank redelik hard geleef het, so ’n gekonsentreerde paar swak plekke in die hart van die hart het, en nie byvoorbeeld die brein of die longe nie. Dalk sê dit iets?

Binne dae vandat die aanvanklike potensieel dodelike diagnose gemaak is, is alles verby.

My bed kyk uit na die opehart-operasiesaal se twee swaaideure wat oop bly tensy ’n operasie aan die gang is. In die waaksaal waar ek saam met ’n dosyn-stuks ander halfdooies lê, is dit altyd dag, want die saalligte word nooit afgeskakel nie.

’n Verpleegsuster sê die tyd op die TV-skerm is met vyf uur uit. As die tyd 13:00 lees, soos nou, is dit eintlik 08:00, of 18:00; een of ander kant toe moet dit dus nog lig buite wees, maar deur ’n klein venstertjie in die hoek van die saal sien ek ’n pikdonker naghemel daar buite en word sodoende die eensame getuie van ’n godsonmoontlikheid.

‘Omtrent almal’ kom lewend hier uit

Die vierde dag ná die operasie is ek werklik besorg dat ek dalk nooit weer behoorlik gaan wakker word en soos ’n normale mens voel nie. Daarop druk ek die knoppie op die kontrolepaneel langs my hand op die bed om ’n verpleegsuster te ontbied. Sy is só verbaas oor my vraag watter persentasie van pasiënte ooit lewend hier uitkom dat sy die waarheid dadelik uitblaker: “Nee meneer, omtrent almal!”

Uit dankbaarheid sluit ek net my oë. Wanneer ek hulle oopmaak, beweeg die skadu van ’n mens voor my bed verby. Die beweging laat die gordyn langs die bed uitbol, my oë volg die donker bewegende bene na regs, al verder en verder, totdat hulle in die ewigheid uitstap.

Dwergarend deur die venster in die rigting van Helderberg. Foto: MC Botha

Dae gaan verby sonder dat ek enigsins ’n benul het of ek ooit slaap; en of ’n nag ooit in ’n dag oorgaan, of ’n dag in ’n nag.

Enige kos is oneetbaar, die blote gedagte aan om te eet, genoeg om jou naar te maak. Eendag moedig die suster my aan om slegs ’n enkele lepeltjie jogurt te eet. Ek wurg dit af: Verbeel jou jy moet net ’n skeppie rou perlemoenslym afsluk. Heerlik!

Om die een of ander rede daal my bloeddruk skielik – ’n aanduiding dat ek ’n bloedoortapping van vier pinte bloed moet kry. Dié bloed word in sakkies verpak waarop slegs staan HUMAN BLOOD.

Ek bly staar na elke sakkie wat van die drup bokant my hang en druppel vir druppel in my oorgetap word, vermoedelik MIV-vry. Watter ander soort bloed as mensbloed kan ooit in so ’n hoësorgsaal ter sprake wees? Tog nie varkbloed nie, of beesbloed, dalk nog bobbejaan- of aapbloed.

’n Onwaarskynlike Kersverhaal

Oor dae leer ’n mens baie verpleegsusters ken: Xhosas, bruines, Indiërs, wittes, selfs Zoeloes. Hulle doen hul werk met toewyding en liefde, en dikwels lê ek daar verslae in bewondering dat hulle so deeglik vir ons almal sorg, nooit kwaad of ongeërg raak nie, jou verwonde liggaam so teer betrag en daagliks so versigtig dog deeglik was.

Dieselfde geld die fisioterapeute, die skoonmakers – almal speel ’n onmisbare rol om die lewe vir die lydendes in hierdie vreemdste van plekke tog op ’n manier leefbaar te maak.

Maar die ingehoktheid en beklemming van die saal laat my dink aan die besoek vroeër vanjaar aan die Heilige Maagd Kopties-Ortodokse Kerk in Kaïro. Doer in ’n kelder onder die kerk moet jy afbuig om behoorlik te kan loop. Dis donker, benoud en klam. Josef en Maria het van Israel na hierdie doolhof gevlug om die Kindjie van sy moordenaars te kom wegsteek.

Nou beleef ek opnuut die verskrikking en gepaardgaande kloustrofobie van die eng gangetjies en kamers, maar besef tegelykertyd dat mý lot veel minder pynlik én van veel minder belang is. Wat ’n onwaarskynlike Kersverhaal, so voor Krismis.

Mense stap verby ’n fresko van die Heilige Maagd by ’n Kopties-Ortodokse kerk in Kaïro. Foto: MC Botha

Oorkant my sit-lê ’n man dae lank al doodstil, iets waarvoor ek hom bewonder, want dit voel vir my asof ek die heeltyd rondkriewel in die bed in die hoop om ’n gemakliker, minder pynlike posisie te vind. Nooit sien ek hom eers ’n arm lig of hoegenaamd beweeg nie. Sy oë is pal toe, selfs wanneer sy vrou kom kuier en sy hand lank vashou.

Anders as die beddens om my is sy bed geheel en al met glas afgeskort, wat my laat aanneem dat van ons almal hý tot elke prys van ’n dodelike kiem beskerm moet word.

Nou kom ’n suster oorgestap met ’n boodskap van hom wat groete stuur. Ek skrik: Hy is duidelik bewus van die feit dat ek hom nou dae lank al met halftoe oë dophou, tog vra ek haar om ook my groete oor te dra.

So sou ons nog dae lank in ’n koma na mekaar lê en staar, die een nie die vaagste benul wat die ander makeer nie, nouliks bewus van die feit dat hy ’n naam het.

Die sesde dag word ek na ’n saal om die draai uitgestoot. Die wêreld spin, ek skiet in ’n tydkapsule die ruimte in.

Ek hoor oor die radio bo teen die plafon dat kundiges waarsku dat die land op ’n enorme ramp afstuur weens Eskom

En daar deur ’n venster kyk ek vas in Helderberg. In hierdie vallei, besef ek, het my eerste Suid-Afrikaans gebore Botha-voorsaat, Jacobus d’Oude Botha, grootgeword – op dié plaas vandag bekend as Ken Forrester Wines.

Hy was een van agt buite-egtelike kinders van Maria Kickers, wat as Amsterdamse weesmeisie in die Kaap beland om hier die stammoeder van alle Bothas vandag te wees. Aan die begin van die 18de eeu was hy een van die eerste ingesetenes om die Kolonie sak en pak te verlaat en aan die verste grensposte ’n bestaan te gaan maak as kleinboer en grootwildjagter. In sy veertigs het hy ’n leeuaanval in die Swellendam-omgewing net-net oorleef, maar genoegsaam herstel om eers in sy 100ste jaar te sterwe te kom.

Sy gesig doem voor my op en ek put eindelose krag uit ontberings wat hy oorleef het. Vloede, brande, droogtes – saam-saam moes hy en sy vrou, Elsie Snyman, sorg dat hulle en die kroos oorleef, kom wat wil.

Ek hoor oor die radio bo teen die plafon dat kundiges waarsku dat die land op ’n enorme ramp afstuur weens Eskom, en dat die staatskas só leeg geplunder is dat ek die afleiding moet maak dat die land as geheel in ’n waaksaal is, soortgelyk aan een waarin hartpasiënte opgeneem word. Net hierna kom twee nuwe wêreldwye kankers ter sprake wat die mensdom kollektief magteloos na die asem laat snak: Donald Trump en Brexit.

Ja, die hele wêreld is in ’n waakeenheid! Welkom in ons saal, almal, hier in m-ICU! Die lewe is al die tyd net so finaal soos die dood.

* MC Botha is ’n skrywer wat in Hermanus woon. ’n Verkorte weergawe van dié rubriek het op 24 Desember in die Hermanus Times verskyn.

Meer oor:  Donald Trump  |  Mc Botha  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.