Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die musiek van die lewe wat nooit stil word
Nolan Venter

Dis nog douvoordag toe ek uit my slaap wakker word. Met ’n skel geluid verwelkom ’n hadida in die verte die breek van ’n nuwe dag. Die naderende dagbreek gooi dartelende ligbeeldjies deur die skrefies waar die gordyne bymekaarkom.

Vanuit die sitkamer kondig die muurklok die tyd met vier harde slae aan. In my agterplaas kraai ’n hoenderhaan luidkeels vanuit sy hok.

My gedagtes speel terug soos ’n kasset uit vergange dae se bandopnemers. Een waarvan die rewind-knoppie uitgespring het sodat ek van voor af na die musiek van my lewe kan luister.

Vandag, ’n goeie paar jaar gelede, is my geliefde skoonpa Huistoe geroep. Dis ook dieselfde dag waarop Steve Biko in polisieaanhouding gesterf is. Maar bowenal is dit my eersgebore seun se 30ste verjaardag.

Ek pink onwillekeurig ’n traan van my wang weg en gee in die skemerte my gedagtes vrye teuels. Dis weer kraamtyd in doer terug in 1988.

Ek laai laatmiddag ’n lywige vroulief by die hospitaal af en laat haar in die bekwame hande van mediese personeel. Later die aand sit ek en ’n vriend elk met ’n dop Old Brown in die hand ná die verblydende nuus dat ek ’n frisgeboude seun ryker is. Elke waardige pa se trots.

Weer sien ek die groot glimlag om sy mondhoeke toe hy saam met my op ’n hengeluitstappie sy eerste vissie gevang het.

Dan is hy by die huis en kom die grootword-lewensgebeurtenisse by my op: Die dag toe hy ’n groot ystermoer ingesluk en ons met hom na die naaste hospitaal moes jaag.

Die Saterdag toe hy met my ou Chev LUV-bakkie so ampertjies die bure se baksteenmuur met die grond gelyk gemaak het.

Weer sien ek die groot glimlag om sy mondhoeke toe hy saam met my op ’n hengeluitstappie sy eerste vissie gevang het.

Hoe hy stoksielalleen met sy halwe baksteenkarre speel dat die stofdampe so staan en dat ons werf soos ’n besige plattelandse dorpie se hoofstraat lyk.

Ek hoor weer sy giggel-laggie as ek saans sy gewilde kinderstories vir hom voorlees en sien hoe ek liefdevol ’n slaapsoentjie op sy kindervoorkoppie pik voor ek in my eie bed kruip.

Maar dan sien ek ook sy hartseer nadat ’n kindjie een Saterdagmiddag voor ons huis raakgery is en ek, ten aanskoue van hom, die lewelose liggaampie by gebrek aan ’n ambulans in my motor moes laai en na die hospitaal neem.

Ook waar hy dae later met betraande oë by die hondekerkhoffie in ons tuin ’n paar goudgeel gousblommetjies op sy geliefde brak se graf rangskik.

En dan staan ek eensklaps, kort ná sy negende verjaardag, met ’n bewende vuis vol sand langs ’n dubbele kindergraffie.

Nadat hy op ’n snikhete Saterdagmiddag saam met sy 11-jarige nefie in ’n riviertjie skaars ’n klipgooi van ons huis verdrink het. Nog so jonk, lewenslustig en ongeskonde.

Ja, tyd het miskien die wonde genees. Maar vandag bly een vraag in my kop vassteek: Wat sê ’n pa vir sy seun op sy 30ste verjaardag?

Meer oor:  Nolan Venter  |  Lewe  |  Sielsgoed  |  Seun  |  Herinneringe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.