
Alida Kok
Volgelinge van #BlackLivesMatter – wat deel is van ’n breër dekoloniale ideologiese verwysingsraamwerk – sal jou kruisig as jy sê dié beweging het – soos die meeste ideologieë, ’n skadukant.
Aanhangers van #BlackLivesMatter is oortuig dat hulle ’n monopolie op die waarheid het en weier om opponerende standpunte (soos #AllLivesMatter”) te oorweeg. Inteendeel, opponerende standpunte word in die openbaar as skandelik afgemaak. Tipies in die styl van ’n linkse ideologiese revolusie, wat bereid is om selfs sy eie kinders op te eet, is #BlackLivesMatter ’n geslote denkstelsel wat ideoloë en kinders gebruik om die sweep te slaan.
Terselfdertyd dui die woede wat dié beweging aanvuur ook na die skadukant van liberale demokrasie.
So asof ons ’n nuwe tipe bipolêre Koue Oorlog binnegegaan het, is hierdie twee ideologiese raamwerke nou tekenend van die ideologiese stryd van ons tyd. #BlackLivesMatter verteenwoordig die wêreld van linkse of sosialistiese waardes, en liberale demokrasie konserwatiewe waardes.
Francis Fukuyama, Amerikaanse politieke wetenskaplike, gebruik die Griekse konsepte thumos, isothymia en megalothymia om te verduidelik waarin liberale demokrasie in die afgelope dekades gefaal het. Dié tekortkominge verklaar ook deels die opkoms van #BlackLivesMatter en ’n nog meer intense vorm van identiteitspolitiek.
Thumos is die deel van jou siel wat smag om as waardig gesien te word, isothymia die eis om op dieselfde vlak as ander gerespekteer te word.
Thumos is die deel van jou siel wat smag om as waardig gesien te word, isothymia die eis om op dieselfde vlak as ander gerespekteer te word, en megalothymia die begeerte om as iemand wat meerderwaardig is, erken te word.
Moderne liberaal-demokratiese stelsels kan in die algemeen deur individuele regte, die oppergesag van die reg en stemreg die belofte maak dat mense mekaar waardig sal ag en wedersyds sal respekteer. Wat liberale demokrasie nie kan verseker nie, is dat mense mekaar werklik in praktyk waardig ag en wedersyds respekteer. Dit is veral van toepassing op groepe met ’n geskiedenis van marginalisering.
Liberale demokrasie verseker nie dat gemarginaliseerde mense ook gerespekteer word nie. Om hierdie aspek aan te spreek is deel van die beweegrede agter #BlackLivesMatter.
’n Mens moet aanvaar dat daar in enige samelewing rolspelers sal wees wat ’n behoefte het om as meerderwaardig geag te word. In moderne liberale demokrasieë bied verbruikerskultuur, entrepreneurskap en die mark geleenthede vir diegene wat hulself as meerderwaardig wil bewys. Dié moontlike liberaal-demokratiese uitlaatkleppe vir megalothymia is nie volhoubaar nie, en individue wat hulself nog meer wil onderskei raak betrokke in politiek.
Pres. Donald Trump is ’n voorbeeld hiervan, asook pres. Cyril Ramaphosa. Ramaphosa het, nes Trump, homself as sakeman onderskei, ’n fortuin opgebou en toe president geword. Nes Trump gewone mense wat voel dat hul nie gerespekteer word nie se griewe getap het om politieke steun te kry, is Ramaphosa veral in die afgelope tyd besig om dieselfde te doen.
As gewese kapitalistiese sakeman is Ramaphosa toenemend besig om sosialistiese idees te verdedig en beleid in werking te stel met die doel om gewone mense wat voel dat hulle nie gerespekteer word nie se griewe te tap om politieke steun te kry. Hier span isothymia en megalothymia saam.
Hoewel #BlackLivesMatter ’n kern het waarin ’n geldige kwessie aangespreek word, is dit ook ’n ideologie met ’n oorwegend geslote denkstelsel wat skade aan ons samelewing kan berokken. Jy hoef nie met die beweging saam te stem nie.
- Kok is ’n dosent in politiek aan Akademia.