Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Dié soort vreugde is veel meer werd as ure se plesier

Die Oxfordse letterkundige C.S. Lewis – onder meer bekend vir sy Kronieke van Narnia-kinderboeke – publiseer in 1955 ’n outobiografiese geskrif onder die titel Surprised by Joy.

Teen die einde van die boek skryf Lewis oor sy bekering tot die Christendom: “In the Trinity term of 1929 I gave in, and admitted that God was God . . . perhaps, that night, the most dejected and reluctant convert in all of England.”

Wat opval met die lees van Surprised by Joy is hoe Lewis sy geestelike ervaring aan die belewenis van vreugde koppel, en hoe hierdie vreugde vir hom iets anders as blote plesier is.

’n Paar jaar gelede is ’n ongepubliseerde brief van Lewis, gedateer 19 Augustus 1945 en gerig aan ’n sekere “Mrs Ellis,” in een van sy boeke gevind wat by ’n tweedehandse boekwinkel gekoop is.

Hierin skryf Lewis eweneens oor vreugde, en maak hy dit duidelik dat ware vreugde nie met voorspoed en die gevoel van veiligheid verwar moet word nie. Die soort vreugde waaroor hy dit het, laat jou nie rustig slaap nie, maar hou jou wakker. ’n Sekonde se vreugde, skryf hy, is meer werd as 12 ure se plesier.

Lewis het in later jare na aanleiding van ’n vraag oor die boeke wat sy lewensuitkyk gevorm het, die Duitse teoloog en godsdienshistorikus Rudolf Otto se Das Heilige by sy lys ingesluit – ’n boek wat die eerste keer in 1917 verskyn het, en waarvan ’n nuwe druk in 2012 in Nederland onder die titel Het heilige: Een onderzoek naar die relatie tussen de rationele en non-rationele kante van religie uitgegee is.

In dié gewilde werk beskryf Otto die ervaring van die heilige as ’n mysterium tremendum et fascinans, ’n misterie wat terselfdertyd vreesaanjaend en fassinerend is; ’n geheimenis wat ons laat sidder én ons aantrek.

Hierdie ervaring van wat Otto “die numineuse” noem (van die Latynse numen, ’n goddelike teenwoordigheid of mag) kan talle vorme aanneem. Dit kan met stilte gepaardgaan of tot ekstase en verwondering aanleiding gee.

Otto skryf ook hoe hierdie ontsagwekkende en onverwagse ervaring met ’n sekere gevoel van intimiteit en geluksaligheid kan saamhang.

Iets hiervan word treffend in Sheila Cussons se gedig “Die Sagte Sprong” verwoord wanneer sy oor die ervaring van ’n aanraking “lig soos ’n veer, vlugtig maar presies” skryf:

“Dit kom wanneer dit nie verwag / word nie: iets wat die bewussyn tot / in die lewe tref, iets soos ’n sagte sprong – / vreugde, verbasing, vreugde, herkenning: / hoe moet u vasvat wees?” 

Meer oor:  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.